YouVersion Logo
Search Icon

Johannes 6

6
Jesus versorg almal wat Hom volg
1Daarna het Jesus die Meer van Galilea (ook bekend as die Meer van Tiberias) oorgesteek. 2Die mense het Hom nie gelos nie en het om Hom saamgedrom. Hulle het die wonderlike tekens gesien wat Hy gedoen het, soos die siekes wat Hy gesond gemaak het. 3Hulle het agter Jesus aan teen die berg op geloop, tot waar Hy met sy volgelinge gaan sit het.
4Die paasfees was naby. Dit was ’n belangrike fees vir die Jode. 5Jesus het na die groot klomp mense gekyk wat saam met Hom gekom het. Party was nog besig om teen die berg op te stap na Hom toe. Hy vra toe vir Filippus: “Is daar ’n winkel hier naby waar ons brood kan koop vir al hierdie mense?” 6Hy het dit vir Filippus gevra om te kyk wat Filippus sou sê. Hy het egter al klaar geweet hoe Hy die probleem sou oplos. 7“Al werk ek agt maande aanmekaar, sal ek nie eens genoeg geld hê om vir al hierdie mense iets te gee om te eet nie,” sê Filippus.
8Andreas, die broer van Simon Petrus, wat ook ’n getroue volgeling van Jesus was, sê toe vir Hom: 9“Wel, hier is darem ’n kind met so ’n ietsie. Hy het vyf klein garsbroodjies en twee vissies. Maar ek moet sê, ek weet nie hoe dit ons eintlik gaan help nie.”
10Jesus sê toe: “Sê vir die mense om vir hulle ’n plek te kry om te sit.” Daar was gras waar die mense hulle toe lekker tuis gemaak het. Net die mans alleen was omtrent 5 000. Daar was baie mense. 11Jesus het toe die garsbroodjies by die seuntjie gevat en vir God dankie gesê vir die kos. Hy het die broodjies toe onder die mense begin uitdeel. Hy het dieselfde met die vis gedoen. En die mense het geëet, soveel as wat hulle wou.
12Toe die mense genoeg gehad het om te eet, sê Jesus vir sy volgelinge: “Ek sien daar het heelwat kos oorgebly. Gaan maak dit bymekaar sodat niks gemors word nie.” 13Die dissipels het dit gedoen en twaalf mandjies nodig gehad om die brood wat oorgebly het in te sit. Dit alles het met die vyf broodjies van die seuntjie begin. 14Die mense het dit gesit en bekyk. Hulle het besef dat hulle hier ’n teken gesien het van hoe spesiaal Jesus regtig is. Hulle sê toe vir mekaar: “Hy is definitief daardie Boodskapper van God, julle weet mos, daardie spesiale Een wat na die wêreld toe moes kom.”
15Die mense wou Jesus toe met alle geweld koning maak. Jesus het dit egter besef en toe verder teen die berg uitgeklim, net Hy alleen.
Jesus loop op die see
16Teen die aand het sy dissipels weer teruggestap see toe. Dit was al donker en steeds was daar geen teken van Jesus nie. Hulle het toe maar 17in ’n skuit geklim en na Kapernaum toe begin vaar. Kapernaum was aan die oorkant van die meer. Daar kom toe ’n sterk wind op. 18Die water het baie onstuimig geword. Die dissipels het bly roei. 19Na so vyf of ses kilometer sien hulle skielik vir Jesus. Hy het sommer daar naby die skuit op die water geloop. Hulle het hulle wit geskrik. 20Jesus kalmeer hulle toe: “Toemaar, dit is net Ek. Moenie bang wees nie.” 21Hulle help Hom toe in die skuit in. Dit was nie ver van die plek af waar hulle wou vasmeer nie.
Jesus stil die geestelike honger
van elkeen wat in Hom glo
22Toe dit die volgende dag lig word, het die mense besef dat daar net een skuitjie weggevaar het en Jesus was beslis nie daarin nie. Sy dissipels is alleen, sonder Hom, daar weg. 23Intussen het daar ook ander skuitjies uit Tiberias daar aangekom. 24Toe die mense begin besef dat Jesus net so min soos sy dissipels nog in daardie omgewing was, stroom hulle na die skuitjies toe. Hulle sit toe af in die rigting van Kapernaum, op soek na Jesus. 25Daar kry hulle Hom toe ook. Hulle vra Hom toe: “Meneer, wanneer het u hier aangekom?”
26Jesus sê toe: “Hoekom doen julle al die moeite om My so te volg? Dit is definitief nie omdat julle God in my dade raakgesien het nie. Nee, julle doen dit maar net omdat Ek vir julle kos gegee en julle lekker geëet het. Ai, alles net vir ’n ete! 27Moenie al julle energie verspil om gewone kos in die hande te probeer kry nie. Gewone kos eet julle vandag en môre is julle weer van voor af honger. Doen liewer moeite vir daardie kos wat julle vir altyd aan die lewe sal hou. As julle dit eet, sal julle nooit weer honger word nie. Die Seun van die mens sal daardie kos vir julle kan gee. God die Vader self staan mos agter alles wat sy Seun doen.”
28Hulle vra Hom toe: “Help ons: Wat moet ons doen om God tevrede te stel?” 29Jesus sê toe vir hulle: “Wil julle weet wat God wil hê julle moet doen? Hy wil hê dat julle sy Seun wat Hy na julle toe gestuur het, met oop arms sal aanvaar en julle aan sy kant sal skaar.”
30“Nou toe, wys ons wat u kan doen,” sê hulle. “Die Seun van God moet mos wonderlike dinge kan doen. Laat ons sien wat u kan doen om ons te oortuig dat God aan u kant is. Wys ons wie u is. Dan eers sal ons glo wat u sê. 31Neem byvoorbeeld die wonderlike ding wat met ons voorouers gebeur het. In die woestyn het Moses vir hulle manna gegee om te eet. Daar staan geskryf: ‘Hy het aan hulle brood uit die hemel gegee om te eet.’”
32Jesus antwoord hulle: “Daardie woorde sê nie dat dit Moses was wat die brood uit die hemel gegee het nie. Dit is eintlik my Vader wat die brood uit die hemel vir julle gee. En dit is nie sommer gewone brood nie; dit is die ware brood. 33En weet julle wat is die ware brood? Dit is sy Seun wat uit die hemel kom en die ewige lewe vir mense gee.”
34Gretig sê hulle: “Gee ons asseblief van daardie brood, sommer nou en vir altyd!”
Jesus is die brood van die lewe
35Jesus antwoord hulle: “Ek is die brood van die lewe; Ek gee die ewige lewe vir mense. As iemand na My toe kom en vat wat Ek hom gee, sal hy geestelik heeltemal versadig word. As hy My vertrou, sal hy nooit weer geestelik dors kry nie.
36Ek noem dit omdat julle gesien het wat Ek doen, maar tog wil julle nie glo wat Ek vir julle sê nie. 37Die mense wat na My toe kom, is die mense wat God by My wil hê. As iemand eers eenmaal na My toe gekom het, kan Hy volledig op My staatmaak. 38Ek het mos van die hemel af gekom om te kom doen wat my Vader beplan het. 39Laat Ek julle vertel wat my Vader se plan is: Hy wil nie hê dat een enkele mens wat aan Hom en My behoort, iets oorkom nie. Ek moet hulle almal op die laaste dag liggaamlik uit die dood laat opstaan. 40Sy wens is dat elkeen wat raaksien wie die Seun is en Hom met sy hele hart aanvaar, die lewe sal kry wat nooit sal ophou nie. Ek sal daardie persoon op die laaste dag liggaamlik uit die dood laat opstaan.”
Jesus kom vertel ons van die Vader
41Die Jode het toe onderlangs begin mompel omdat Jesus gesê het dat Hy die brood is wat uit die hemel gekom het. 42“Is Josef nie sy pa nie? Ja-nee, ons ken sy pa en ma goed. Ons weet mos waar hy vandaan kom. Hoe kan hy nou hier vir ons kom staan en vertel dat hy uit die hemel gekom het?”
43“Vir wat staan julle so onder mekaar en mompel?” vra Jesus toe. 44“Spaar julleself die moeite! My Vader wat My gestuur het, trek mense na My toe wat by My hoort. Dit is die mense wat Ek op die dag van die wederkoms uit die dood sal laat opstaan. Julle moet dus nie die idee kry dat julle op julle eie sonder my Vader deel sal word van God se familie nie. 45Een van die boodskappers van God het juis dít bedoel toe hy geskryf het: ‘Hulle almal sal leerlinge van God self wees.’ Elkeen wat dus soos ’n goeie leerling mooi luister na wat die Vader sê, sal weet dat hy na My toe moet kom. 46Daarmee sê Ek nie dat iemand anders die Vader al persoonlik gesien het nie, behalwe die Seun. Hy was by die Vader en het van Hom af gekom. Hy het eerstehandse kennis van die Vader. 47Luister daarom mooi na wat Ek vir julle sê: die ewige lewe behoort aan daardie persoon wat ’n persoonlike volgeling en vriend van My is. 48Want Ek is die brood wat lewe gee. 49Julle voorouers het in die woestyn van die manna geëet. Dit het hulle maar tydelik gehelp, want hulle almal is uiteindelik dood. 50Die brood wat uit die hemel kom, is anders. As iemand daarvan eet, sal hy nooit doodgaan nie. Dit sal sy geestelike behoeftes vir altyd stil. 51Ek is daardie brood uit die hemel wat leef, maar ook lewe gee. As iemand dus van hierdie brood eet, sal hy tot in ewigheid leef. Die brood wat Ek gee, is my liggaam. Ek gee dit sodat die mense in die wêreld ook die ewige lewe kan hê.”
52Dit het die Jode onder mekaar aan die stry gesit: “Hoe kan hy sy eie liggaam vir ons te ete gee?” 53Maar Jesus het dit net nog sterker gestel: “Julle kan net die ware lewe in julle hê as julle die liggaam van die Seun van die mens eet en sy bloed drink. 54Ek herhaal, wie my liggaam eet en my bloed drink, het die lewe wat nooit sal ophou nie. Met die wederkoms sal Ek hom liggaamlik laat opstaan. Weet julle wat stil ’n mens se geestelike honger en dors? 55Dít: my liggaam is die ware geestelike voedsel en my bloed die ware geestelike drank. 56Dit werk so: as iemand my liggaam eet en my bloed drink, ontstaan daar ’n geestelike eenheid tussen ons. Vir so ’n persoon word Ek die fokus van sy lewe en Ek is ook altyd by hom. 57Die Vader, wat My gestuur het, het die lewe. Hy het aan My die lewe gegee en daarom lewe Ek. Net so sal Ek dieselfde goddelike lewe aan die persoon gee wat My ‘eet’. 58Daarom kan Ek sê: hierdie brood wat uit die hemel gekom het, verskil heeltemal van die brood wat julle voorouers geëet het. Hulle almal is dood, maar wie van hierdie hemelse brood eet, sal so lank lewe as wat God daar is, en dit is vir ewig.”
59Hierdie leersame gesprek het in Kapernaum plaasgevind waar die Jode bymekaargekom het.
Na wie toe sal ons gaan, anders as na Jesus toe?
60Toe hulle dit hoor, het baie van Jesus se volgelinge onder mekaar gepraat: “Het julle dit gehoor? ’n Mens praat mos nie so nie! Wie kan daarna luister?” 61Hulle kon hierdie gebrom nie vir Jesus wegsteek nie. Hy sê toe vir hulle: “Voel julle dit is te erg? 62Hoe gaan julle voel as julle My sien teruggaan hemel toe waar Ek oorspronklik vandaan kom? 63Dit moet so wees. Wanneer Ek teruggaan, kom gee die Gees vir mense die ewige lewe. ’n Mens kan dit tog nie doen nie. Ek is egter ’n uitsondering. Die Gees werk nou reeds deur my woorde en daarom kan julle die ewige lewe kry as julle luister na wat Ek vir julle sê. 64Maar daar is ’n klomp van julle wat dit ongelukkig nie wil glo nie.” (Jesus het van die begin af geweet watter mense glo en watter nie. Hy het ook geweet dat Judas teen Hom sou draai.) 65Teen hierdie agtergrond sê Hy toe: “Nou verstaan julle miskien ook waarom Ek sê dat niemand ’n Christen kan word as die Vader dit nie vir hom moontlik maak nie.”
66Na dié gesprek het baie van Jesus se volgelinge nie meer in Hom belanggestel nie. Hulle het omgedraai en toe op die ou manier met hulle lewe aangegaan.
67Jesus vra toe vir sy twaalf getrouste volgelinge: “En julle? Het julle nie ook lus om alles maar op te gee en ook weg te gaan nie?”
68Simon Petrus antwoord: “Here, na wie anders sal ons gaan? Daar is niemand soos U nie! U vertel dan vir ons hoe om die ewige lewe te kry. 69Ons weet tog dat God U spesiaal uitgesonder het om dit te doen. Daarvan is ons doodseker.”
70Jesus sê toe: “Jy praat so. Een van julle wat hier staan, is ’n duiwel, al het Ek hom self gevra om my volgeling te word.” 71(Jesus het van Judas, uit die familie van Simon Iskariot, gepraat. Hy was een van Jesus se twaalf intiemste volgelinge. Hy sou Jesus egter later verraderlik aan sy vyande uitlewer.)

Currently Selected:

Johannes 6: DB

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in

YouVersion uses cookies to personalize your experience. By using our website, you accept our use of cookies as described in our Privacy Policy