YouVersion Logo
Search Icon

Johannes 3

3
1Een nag het Nikodemus Jesus kom opsoek. Hy was ’n belangrike leier in die Joodse gemeenskap en ’n lid van die party van die Fariseërs. 2Hy knoop toe met Jesus ’n gesprek aan: “Meneer, ons is oortuig daarvan dat God u gebruik om ander mense te leer. Weet u waarom sê ek so? As God iemand nie bystaan nie, sal hy eenvoudig nie die dinge kan doen wat u regkry nie.”
3Jesus antwoord hom toe: “Weet jy, Ek wil nou vir jou iets belangriks sê. As iemand nie nog ’n keer gebore word nie, sal hy sowaar nie deel word van die ryk waar God Koning is nie.”
4“Hoe is dit moontlik om as jy al groot en oud is, nog ’n keer gebore te word?” vra Nikodemus Hom. “’n Mens kan mos nie ’n tweede maal in jou ma terugklim om weer ’n keer gebore te word nie.”
5“Luister baie mooi wat Ek vir jou sê,” kom dit van Jesus. “Die pad na die ryk waar God Koning is, is toe vir elkeen wat nie gebore word uit lewende water en die Heilige Gees nie. 6Immers, ’n kind wat uit ’n mens gebore word, is maar net ’n mens. Wie egter uit die Gees gebore word, begin geestelik lewe.
7“Daarom moet jy nie vol allerhande vraagtekens wees oor my woorde dat julle nog ’n keer gebore moet word nie. Leer uit die natuur. 8Hoewel jy die wind hoor waai, kan jy dit tog nie beheer of stuur nie. Dit waai waar dit wil. Jy weet nie eens presies waar dit vandaan kom of waarheen dit uiteindelik waai nie. Maar nogtans waai dit. Presies dit is waar van die manier waarop die Gees werk. Elke persoon wat uit die Gees gebore word, ervaar dit ook so.”
9“Hoe op aarde kan dit wees?” vra Nikodemus.
10Jesus gaan toe voort: “Hoe is dit moontlik dat jy nie hierdie dinge verstaan nie? Jy is dan self ’n onderwyser wat die Israeliete oor godsdienstige dinge touwys moet maak.”
So lief het God die wêreld gehad
11“Luister baie mooi. Ons praat nie oor dinge wat vir ons vreemd of onbekend is of waarvan ons niks weet nie. Nee, wanneer ons nou met soveel sekerheid hieroor praat, is dit omdat ons dit self gesien het. Nogtans aanvaar julle nie wat Ek vir julle sê nie. 12Nou ja, as julle nie wil luister wanneer Ek praat oor dinge wat hier onder ons gebeur nie, hoe sal julle My dan nog glo wanneer Ek vir julle van die dieper geestelike dinge vertel?
13“Immers, daar is niemand wat al opgevaar het die hemel in nie, behalwe Een. Dit is juis Hy wat uit die hemel afgekom het: die Seun van die mens. 14Soos Moses destyds in die woestyn die slang hoog bo-op ’n houtpaal gesit het, so moet die Seun van die mens ook hoog teen ’n kruis opgelig word, 15sodat elkeen wat Hom gelowig aanvaar en vertrou, vir ewig en altyd kan leef.
16“God het bewys hoe lief Hy die wêreld het. Hy het sy unieke Seun na die wêreld toe gestuur sodat elkeen wat in hierdie Seun glo, nie verlore sal gaan nie, maar vir altyd saam met God kan leef.17God het nie die Seun na hierdie wêreld toe gestuur om net vir almal te kom sê hoe sleg hulle is nie. Nee, Hy het Hom gestuur sodat mense wat sleg was weer by God kon uitkom. 18Dit is soos ’n hofsaak. Elkeen wat dus in geloof vir Hom ‘ja’ sê, is deur God vrygespreek. Aan die ander kant weerklink die oordeelswoorde nou reeds oor dié wat die Seun nie gelowig aanvaar nie: ‘Julle is skuldig, want julle draai julle rug vir die unieke Seun van God!’
19“Hoe die dinge in die hofsaak werk, kan so verduidelik word: Jesus het as die Goddelike Lig in hierdie wêreld kom skyn. Die mense het egter meer daarvan gehou om in die donker te leef as in die lig. En daar was ’n goeie rede voor: hulle dade en optrede was net ’n onheilige en slegte gekonkel. Daarom doen hulle die dinge in die donker, want hulle is bang dat almal gaan sien hoe sleg hulle dade regtig is. 20Daarom hou mense wat sulke slegte dinge doen, niks van die lig nie en hardloop daarvoor weg. 21As dit wat iemand doen, egter goed en sinvol is soos God dit bedoel het om te wees, hardloop hy juis na die lig toe. Hy het mos niks om weg te steek nie. Almal sal duidelik kan sien uit die dinge wat hy doen, dat hy iemand is wat aan God se kant staan en aan wie se kant God ook is.”
Jesus is dié Een, sê Johannes weer
22Jesus en sy volgelinge is daarna na die platteland van Judea toe en het daar so ’n rukkie uitgespan. Hulle het ook mense gedoop.
23Johannes was weer in Enon naby Salim besig om te doop, want daar was baie water. Mense het gedurig daar opgedaag om gedoop te word. 24(Dit was nog voordat Johannes in die tronk gegooi is.)
25Die volgelinge van Johannes en ’n Jood het juis aan die stry geraak oor hoe ’n mens jou vir God skoon en rein kan maak. 26Hulle is toe na Johannes self toe. “Meneer,” sê hulle, “jy onthou mos nog daardie Persoon wat daar oorkant die Jordaan by jou was. Ons praat van daardie Een oor wie jy met soveel oortuiging gepraat het. Wel, weet jy wat. Hy het ook nou begin doop, en die ergste is, al die mense stroom na Hom toe.”
27“Die mens kry nie bloot net iets nie,” begin Johannes toe. “Alles wat hy het, word deur God aan hom gegee. 28Julle weet mos ek het gesê ek is nie die Christus nie. Ek is maar net soos ’n boodskapper voor Hom uitgestuur.
29“Laat ek vir julle ’n voorbeeld gee: die bruid is net bedoel vir die bruidegom en oor húlle gaan die troue. Die vriend van die bruidegom, die strooijonker, help maar net. As hy die bruidegom self hoor praat, maak dit hom baie bly. So is dit tussen my en Jesus ook. Daarom ken my blydskap nou nie einde nie. 30Hy moet al hoe meer in die kalklig staan terwyl ek stadigaan van die toneel moet verdwyn. So moet en sal dit wees!”
Jesus staan kop en skouers bo almal uit
31“Jesus wat van bo af kom, staan kop en skouers bo almal uit. Iemand wat sommer as ’n mens hier op aarde gebore is, bly maar aards. Hy kan ook maar net oor aardse dinge praat. Sulke mense kan nie naastenby vergelyk word met die Een wat van bo uit die hemel kom nie. Hy is in ’n klas van sy eie. 32Hy praat met sekerheid oor wat Hy in die hemel gesien en gehoor het. Tog steur niemand hulle aan dit wat Hy met soveel oortuiging sê nie.
33“Wie egter luister na wat Hy sê, bevestig daarmee dat God waar is en dat die waarheid van God af kom. 34God het Hom gestuur om sy boodskap vir ons te bring. Die Seun kan dit doen, want God het die Gees aan Hom gegee sonder voorwaarde of beperking. 35Die Vader het sy Seun lief en het alles aan Hom gegee. Daarom het die Seun beheer oor alles.
36“Iemand wat dus deur geloof ’n vriend van die Seun word, sal vir ewig en altyd sy vriend bly.
“Maar iemand wat die Seun die rug toekeer en nie na Hom wil luister nie, sal nooit so ’n vriendskap ken nie. Hy sal wel iets anders leer ken: die woede en straf van God!”

Currently Selected:

Johannes 3: DB

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in

YouVersion uses cookies to personalize your experience. By using our website, you accept our use of cookies as described in our Privacy Policy