YouVersion Logo
Search Icon

Jakobus 5

5
Oneerlike rykes, die Here weet van julle gekonkel
1Staan ’n bietjie nader en luister hierna, julle wat dink geld maak julle so belangrik. Vreeslike dinge wat julle baie seer gaan maak, wag vir julle. Dan sal julle net met julle kop in julle hande kan sit en huil. 2Die baie geld en status wat julle so belangrik laat voel, is besig om voor julle oë te vergaan. Die motte vreet julle klere op en julle geld verloor waarde. 3Dinge wat vir julle soveel werd is, word oud en gaan stukkend. Soos al die dinge wat julle so belangrik laat voel, stukkend gaan en opgeëet word, so word die sin van julle lewe weggevreet. Dit is soos ’n veldbrand wat julle lewe stukkie vir stukkie wegbrand. Geld is al waarmee julle julle besig hou en waaroor julle gesels; intussen is die wederkoms van die Here naby. 4Onthou julle die werksmense wat op julle lande gewerk het? Onthou julle hoe julle hulle nie gegee het wat hulle eintlik verdien het nie? En hulle kon niks daaraan doen nie, want hulle was magteloos. Sulke dinge kan ’n mens nie stil hou nie. Dit is of dié geld wat julle vir julleself gehou het, self aan die skree gaan omdat julle so oneerlik is. Die Here, wat sterker as almal is, hoor duidelik hoe daardie werkers magteloos kla.
5Julle wat ryk is, het meer as wat julle nodig het. Julle het so baie dat julle eintlik daarmee mors. Julle koop goed wat julle glad nie nodig het nie. Terwyl ander mense doodgaan van die honger is julle besig om julleself vet te voer. 6Julle behandel mense wat julle niks gedoen het nie en wat onskuldig is, asof hulle vuilgoed is en maak hulle baie seer.
Hou moed, die Here kom!
7Hou moed, my vriende, tot die Here terugkom. Soos ’n goeie boer moet julle nie dinge wil aanjaag nie. ’n Boer wag geduldig tot die oes vol op die lande staan. Hy wag maar vir die reën om te kom, vandat dit aan die begin van die seisoen begin val, totdat die laaste druppel klaar geval het aan die einde van die seisoen. 8Julle moet die geduld van daardie boer hê. Moenie dat iets julle van stryk bring nie. Die Here is op pad na ons toe. 9Liewe mede-Christene, moenie oor mekaar kla en stories oor mekaar aandra nie. Dit kan in God se oë tot julle nadeel wees. Die Here, wat uiteindelik ’n goeie of slegte oordeel oor julle lewe sal moet uitspreek, kan enige oomblik kom.
10Liewe broers en susters, die manne wat in die ou dae so getrou die woord van die Here aan almal vertel het, is vir ons ’n voorbeeld van mense wat nie moed verloor het nie. Hulle het soms baie swaargekry, maar hulle het aangehou. 11Julle weet dat ons almal dink dat hulle regtig iets bereik het omdat hulle hulle nie van die Here se koers laat afbring het nie. Julle het mos gehoor van Job en wat die Here uiteindelik vir hom gedoen het. Dit is ’n verhaal van hoe goed en vol liefde die Here regtig is.
12Liewe vriende, daar is nog iets wat ek vir julle moet sê en dit is belangrik.
Moenie sweer of enigiets anders doen om so te wil bewys dat julle die waarheid praat nie. Praat altyd die waarheid. As julle “ja” moet sê, sê dan “ja”, en as julle “nee” moet sê, sê dit.
Dan sal julle nie by God in die moeilikheid kom nie.
Gebed verander dinge
13Is een van julle dalk in die moeilikheid? Laat hy dan met God gaan praat. As iemand goed of gelukkig voel, moet hy liedere sing wat vertel hoe goed God vir hom is. 14Is een van julle siek? Hy moet die leiers in die gemeente roep om vir hom te bid. Hulle moet olie op hom sit as bewys van die teenwoordigheid en krag van God. 15As ’n mens God so vra en Hom vertrou, sal die Here dié persoon help. Hy sal hom nie alleen gesond maak nie, maar as hy dinge gedoen het waarvan God nie hou nie, sal God hom ook oorsien. 16Erken dit openlik as julle dinge gedoen het wat God nie wou gehad het nie. Bid vir mekaar sodat julle gesond kan word. God luister graag na mense wie se saak met Hom reg is. 17Elia is ’n goeie voorbeeld daarvan. Hy was maar ’n mens net soos ons. Hy het God egter mooi en ernstig gevra dat dit nie moes reën nie. Drie en ’n half jaar lank het die reën toe heeltemal weggebly. 18Toe bid hy weer en toe begin dit reën. Dit het soveel gereën dat alles weer grasgroen en pragtig was.
19Liewe Christene, sê nou een van julle raak die koers byster en iemand sou hom reghelp, wat dan? Wel, iemand wat so ’n persoon weer op die regte pad help, help hom om nie sy lewe weg te gooi nie. 20As hy hom nie gehelp het nie, sou daardie persoon totaal van God af weggedwaal en sonder God gesterf het. Hy sal daardie persoon help om weg te draai van al die verkeerde dinge wat hy gedoen het, asof dit nooit deel van sy lewe was nie.

Currently Selected:

Jakobus 5: DB

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in

YouVersion uses cookies to personalize your experience. By using our website, you accept our use of cookies as described in our Privacy Policy