YouVersion Logo
Search Icon

Jesaja 8

8
Jesaja se seun as ’n teken
1Die Here het vir my gesê: Vat ’n stuk skryfpapier en skryf hierdie naam duidelik met ink daarop: Plunder-en-Roof-is-Naby. 2Ek het twee betroubare getuies, Uria die priester en Sagaria die seun van Jeberekja, gekry om te bevestig dat Ek hierdie naam reeds neergeskryf het, nog voordat die kind verwek is.
3’n Ruk later het my vrou swanger geword. Die kind wat gebore is, was ’n seun. Die Here het toe vir my gesê: Noem hom: “Plunder-en-Roof-is-Naby,” 4want nog voordat hierdie kind pappa of mamma sal kan sê, sal die koning van Assirië beide Damaskus en Samaria inneem en al hulle skatte as buit vir homself vat.
Die Here stuur die Assiriërs
5Die Here het weer met my gepraat en gesê: 6Omdat hierdie volk die rustige stroompie van die Siloagkanaal verag het en bang geword het vir Resin en Peka, 7sal Ek die koning van Assirië met sy volle mag op hulle laat neerkom. Hulle sal lyk soos die Eufraatrivier in volle vloed wat besig is om sy walle te oorstroom. 8Die vloed sal skouerhoog deur Juda spoel. O Immanuel, hy sal soos ’n reuseroofvoël wees wat sy vlerke oor jou hele land uitsprei.
9Luister hier, julle vreemde lande en ver plekke van die aarde, julle kan maar julle oorlogskrete uitskree, ons skrik nie, dit is julle wat gaan weghardloop van vrees. Maak gerus reg vir oorlog, maar terselfdertyd ook vir die paniek wat julle gaan oorweldig. 10Julle kan soveel planne maak as wat julle wil, dit sal nooit werk nie. Daar sal niks van al julle samewerkingsooreenkomste kom nie, want God is by ons.
Die Here waarsku die profeet
11Die Here het my baie ernstig gewaarsku om nie hierdie volk se voorbeeld te volg nie. Hy het gesê: 12Moenie alles wat hierdie volk ’n sameswering noem net so aanvaar nie. En moenie skrik en bang wees vir alles waarvoor hulle bang is nie. 13Onthou, die Here is die Almagtige. As daar Een is vir wie julle bang moet wees, is dit vir Hom; daarom moet julle Hom eer. 14Hy beplan julle ondergang. In plaas daarvan dat Hy vir julle soos ’n oorhangende rots is waaronder ’n mens kan skuil, is Hy vir die twee koninkryke van Israel soos ’n struikelblok. Vir die inwoners van Jerusalem is Hy ’n strik waarin hulle gevang word. 15Baie van hulle sal struikel en val om nooit weer op te staan nie, baie sal in die strik gevang word.
16Ek sal al hierdie dinge wat die Here vir my gesê het, neerskryf. My opvolgers sal dit bewaar en aan die volgende geslag oorlewer.
Moenie by die dooies raad soek nie
17Ek vertrou op die Here. Al praat Hy nie nou met Israel nie, wag ek geduldig om te sien wat Hy gaan doen. 18Hier is ek en die kinders wat die Here my gegee het met hulle name wat sy planne uitspel. Ons is lewende getuies in Israel van die Here die Almagtige wat op die berg Sion woon.
19Waarom probeer julle dan dinge oor die toekoms by mediums en spiritiste uitvind? Moenie na hulle gemompel en binnensmondse gebrom luister nie. Moenie dat mense julle vertel dat die lewendes by die dooies moet gaan raad vra nie. ’n Volk moet tog hulle God vir raad vra. 20Hou vas aan die dinge wat die Here vir julle geleer en gewys het. As mense ’n ander rigting as hierdie inslaan, is hulle toekoms duister. 21Hulle sal verward en uitgehonger in die land rondtrek. Die honger sal so erg word dat hulle hulle koning en hulle God sal uitskel. 22Hulle sal hulp soek in die hemel en op die aarde, maar daar sal nie vir hulle hulp wees nie, net benoudheid en pikdonker ellende.
Die Koning wat kom
23Nogtans sal hierdie ellendige donker tyd nie vir altyd aanhou nie. Die gebiede van Sebulon en Naftali sal binnekort verneder word, maar in die toekoms sal die pad na die See van Galilea, die Jordaanstreek en die gebied van die heidene in ere herstel word.

Currently Selected:

Jesaja 8: DB

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in

YouVersion uses cookies to personalize your experience. By using our website, you accept our use of cookies as described in our Privacy Policy