YouVersion Logo
Search Icon

Jesaja 66

66
Godsdiens wat vals is
1Die Here sê: Die stoel waarop Ek sit om te regeer is bo in die lug. Die plek waar Ek my voete sit, is onder op die grond. Waar sal julle dan ’n huis vir My kan bou waarin Ek sal kan bly? 2Ek het self alles gemaak sodat alles aan My kan behoort, sê die Here.
Ek hou daarvan om mense te sien wat nederig is, wat jammer is oor hulle sonde en respek het vir My. 3Maar daar is mense wat hulle eie kop volg. Hulle doen afskuwelike dinge. Hulle slag bulle om te offer, maar hulle maak ook mense dood. Hulle slag lammers om te offer, maar hulle maak ook honde dood om te offer. Hulle bring offers van graan, maar ook van varkbloed. Hulle brand wierookoffers, maar hulle bid tegelyk tot afgode.
4Ek het besluit om dinge met hulle te laat gebeur waarvoor hulle bang is. Ek het hulle mos geroep, maar niemand wou My antwoord nie. Ek het met hulle gepraat, maar hulle wou nie luister nie. Hulle het aangehou om te doen wat vir My verkeerd is. Hulle het hulle toegespits op die dinge wat vir My onaanvaarbaar is. 5Julle wat respek het vir die Here se woord moet hoor wat die Here vir julle sê: Die mense uit julle volk wat julle haat en julle verstoot omdat julle aan My getrou bly, sal spot en vir julle sê: “Eer maar die Here. Laat ons sien waarom julle so bly is oor God!” Hulle gaan in die skande kom. 6Luister na die lawaai wat uit die stad kom! Hoor die rumoer daar by die tempel! Dit is die geluid van die Here wat sy vyande terugbetaal vir wat hulle gedoen het.
Jerusalem gee geboorte
7Geboortepyne kom eers voordat ’n vrou ’n baba in die wêreld bring. ’n Baba word nie gebore as die pyne nie eers gekom het nie. 8Wie het al gehoor dat dit anders kan wees? Wie het al so iets gesien? Word ’n land in een enkele dag gebore? Of kom ’n volk in een enkele oomblik in die wêreld in? Sion het nog skaars geboortepyne gevoel, toe is haar seun gebore. 9Sal Ek dit tot op die punt laat vorder dat die geboorte moet kom en dit dan nie laat gebeur nie? vra die Here. Sal Ek wat geboortes laat gebeur, dit dan skielik terughou? vra jou God.
Jerusalem vier fees
10Almal wat lief is vir Jerusalem, moet saam met die stad bly wees. Juig saam met die stad! Almal wat oor Jerusalem getreur het, moet nou saam met haar vrolik wees. 11Drink aan Jerusalem se voorspoed soos ’n baba aan sy ma se bors drink om versadig te word. 12Die Here sê: Ek sal voorspoed na haar toe laat kom soos ’n rivier wat vloei. Ek sal die rykdom van ander nasies soos water in haar laat instroom. Soos ’n babatjie sal jy aan haar drink. Sy sal jou ronddra en jou vertroetel. 13Soos ’n ma haar kind troos, sal Ek julle vertroos. Ek sal julle veilig laat voel in Jerusalem. 14Wanneer julle sien wat met julle gebeur, sal julle baie bly word. Julle sal nuwe lewe kry soos groen gras wat uitloop. Dit sal duidelik word dat die Here sorg vir hulle wat vir Hom lewe, maar dat Hy sy vyande straf.
Die Here gaan straf
15Kyk, die Here kom met vuur na die wêreld toe. Sy oorlogswaens kom soos ’n stormwind. Hy kom om met die hitte van sy woede en met sy vuurvlamme te straf. 16Hy kom om met vuur en swaard te oordeel oor almal wat leef. Die Here sal baie laat doodgaan. 17Die Here sê: Almal sal doodgaan wat hulleself afsonder en hulleself toewy aan die afgodsdiens in die groen parke waar hulle varkvleis en rotte en vleis wat verbode is, eet. 18Ek weet wat hulle doen en wat in hulle gedagtes omgaan. Die tyd kom dat Ek al die nasies en die taalgroepe bymekaar gaan laat kom. Hulle sal kom en hulle sal sien hoe sterk Ek is. 19Ek sal vir hulle ’n teken gee. Uit hulle wat nog oor is, sal Ek mense stuur na die nasies toe, na Tarsis, na Pul, na die Lidiërs (met hulle bekwame boogskieters), na Tubal en Griekeland, na al die lande ver oorkant die see wat nog nie van My gehoor het en nog nie gesien het hoe magtig Ek is nie. Hulle sal die nasies inlig oor my belangrikheid.
... En sy volk terugbring
20Hulle sal almal terugbring van julle volk wat tussen die nasies bly. Hulle sal daardie mense soos ’n offer na die tempel in Jerusalem bring. Hulle sal op perde en waens, drastoele, muile en kamele na Jerusalem toe terugkom, sê die Here. Dit sal wees soos wanneer Israel hulle graanoffers in spesiale houers na die tempel toe bring. 21Ek sal uit dié wat terugkom, mense aanstel wat vir My by die tempel kan werk. 22Julle nageslag en julle naam sal voortbestaan, sê die Here, net so seker as wat die nuwe hemel en aarde wat Ek maak, voor My sal bly staan. 23Almal wat leef, sal maand vir maand en week vir week kom om tot My te bid, sê die Here. 24As hulle uit die stad uitgaan, sal hulle die lyke sien van almal wat teen My in opstand gekom het. Die wurms wat aan hulle vreet, sal nie vrek nie. Die vuur waarin hulle brand, sal nooit doodgaan nie. Dit sal vir almal iets afgrysliks wees.

Currently Selected:

Jesaja 66: DB

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in

YouVersion uses cookies to personalize your experience. By using our website, you accept our use of cookies as described in our Privacy Policy