YouVersion Logo
Search Icon

Jesaja 58

58
Geloof met bymotiewe
1Skree so hard soos jy kan. Skree voluit. Roep so hard dat dit klink soos ’n trompet wat weergalm. Sê vir my volk wat hulle verkeerd gedoen het. Wys vir Jakob se kinders waar hulle oortree het. 2Hulle bid wel elke dag tot My. Hulle gee voor dat hulle graag wil doen wat Ek van hulle verwag. Hulle tree op soos ’n volk wat graag die regte dinge doen. Hulle probeer om nie af te wyk van die regulasies wat hulle God hulle gegee het nie. Hulle probeer om die regte besluite te neem. Hulle kom graag na My toe om My te ontmoet. 3Hulle vra vir die Here: “Sien U dit dan nie raak dat ons vir U kom vas en sonder kos bly nie? Steur U U dan nie daaraan dat ons voor U kom stil raak nie?”
Die Here sê: “Ja, maar Ek sien ook raak dat wanneer julle vas, julle dit maar net gebruik om geld te maak. Julle gebruik dit as ’n verskoning om die mense wat vir julle werk net nog harder te laat werk. 4As julle vas, loop dit uit op rusies en bakleiery onder mekaar. Julle kan mos nie op so ’n manier vir My vas en dan verwag dat Ek na julle gebede moet luister nie! 5Op die dag dat julle vas, hou julle julleself kamtig nederig. Julle laat julle koppe vooroor hang soos ’n biesie wat geknak is. Julle trek begrafnisklere aan en julle gooi stof op julle koppe. En julle noem dit dan ’n vasdag.
Die Here vra barmhartigheid
Dink julle nou dat dit die manier is om sonder kos klaar te kom? Is dit nou die dinge wat die Here gelukkig moet maak? 6Nee, die vas wat Ek van julle verwag, is dat julle die mense sal vrylaat wat julle onregverdig gevange hou. Hou op om die mense wat vir julle werk, soos gevangenes te behandel. 7Gee kos vir hulle wat niks het om te eet nie. Gee blyplek aan hulle wat nêrens het om heen te gaan nie. Gee klere vir die mense wat jy kan sien niks het om aan te trek nie. Help jou familie as hulle hulp nodig het.
Jou bevryding kom
8Wanneer jy so maak, sal jy bevry word. Dit sal vinnig kom soos die lig wat met dagbreek die donker laat verdwyn. Jy sal oornag herstel. Die Here wat jou vrymaak, sal jou met sy krag van alle kante beskerm. 9Wanneer jy dan na die Here roep, sal Hy jou antwoord. As jy God vra om jou te help, sal Hy sê: Ek kom.
Hou op om mense onregverdig te behandel. Hou op om vir mekaar vinger te wys en mekaar vals te beskuldig. 10Gee kos vir hulle wat niks het om te eet nie. Versorg hulle wat behoeftig is. Dan sal dit vir jou word soos lig wat die donker laat verdwyn, soos die son wat in die middel van die dag skyn. 11Die Here sal dan die hele tyd saam met jou wees. Wanneer dit moeilik gaan, sal Hy vir jou gee wat jy nodig het. Hy sal jou krag gee. Jy sal wees soos ’n tuin wat goed natgemaak word. Daar sal nooit ’n tekort wees aan water in jou tuin nie. 12Jou nageslag sal die ou bouvalle weer opbou. Hulle sal op die fondamente bou wat al geslagte lank bestaan. Hulle sal julle die mense noem wat mure weer opbou, wat huise en strate weer regmaak om in te bly.
Die sewende dag
13Rus ’n bietjie op die sewende dag. Jy mag nie op die Here se dag sommer net doen wat jy wil nie. Dit moet ’n dag wees waarop jy bly is. Jy moet daardie dag aan die Here afstaan. Jy moenie met jou gewone werk aangaan nie. Jy moet nie op daardie dag besigheid doen of transaksies sluit nie. 14As jy die sabbat so deurbring, sal jy bly wees dat jy aan die Here behoort. Ek sal sorg dat almal oor die hele wêreld jou ken. Jy sal alles geniet wat jou oorgrootoupa Jakob aan jou nagelaat het. Ek, die Here, belowe dit vir julle.

Currently Selected:

Jesaja 58: DB

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in

YouVersion uses cookies to personalize your experience. By using our website, you accept our use of cookies as described in our Privacy Policy