YouVersion Logo
Search Icon

Jesaja 54

54
Die Here vat Jerusalem weer terug
1Die Here sê vir Jerusalem: Die vrou wat nooit kinders gehad het nie, moet juig. Die een wat nie kinders in die wêreld kon bring nie, moet van blydskap sing. Sy gaan nou selfs meer kinders hê as ’n getroude vrou. 2Maak die tent waarin jy bly, nog groter vir hulle. Span nog meer seile. Maak die tenttoue langer. Kap die tentpenne verder weg in. 3Jy gaan uit jou nate bars. Jou kinders gaan die ander nasies oorrompel. Hulle gaan in die dorpe bly wat verwoes is. 4Moenie bang wees dat jy weer in die skande sal kom nie. Moenie huiwer omdat jy dink jy sal weer verneder word nie. Jy hoef nie weer terug te dink aan hoe jy in die skande gekom het toe jy jonk was nie. Jy kan nou maar vergeet hoe jy verneder is toe jy ’n weduwee geword het. 5Die Here wat jou gemaak het, sal nou jou man wees. Sy Naam is die Here van die magtige leërmag. Die hoë God van Israel sal jou bevry. Hy word genoem die God van die hele aarde.
6Jy is soos ’n vrou wat weggejaag is en wat seergekry het, soos ’n jong vrou wat op die straat uitgegooi is. Maar die Here roep jou terug en Hy sê vir jou: 7Ek het jou vir ’n klein tydjie verstoot, maar Ek vat jou nou met groot liefde weer terug. 8In ’n oomblik van woede het Ek die rug vir jou gedraai. Ek vat jou egter terug met liefde wat nooit sal ophou nie. So sê die Here wat jou bevry. 9Ek het in Noag se tyd belowe dat Ek nooit weer ’n watervloed oor die aarde sal laat kom nie. Ek belowe nou net so dat Ek nie weer in woede teen jou sal uitbars en jou straf nie. 10Berge kan verskuif word en heuwels kan verdwyn, maar my liefde vir jou sal nooit ophou nie. My ooreenkoms van vrede met jou sal nooit tot ’n einde kom nie. Dit is wat die Here sê wat soveel vir jou omgee.
Die Here gaan Jerusalem mooi maak
11Arme Jerusalem! Jy is deur storms geteister. Niemand het vir jou omgegee nie. Ek gaan jou met sierstene herbou. Ek gaan saffier in jou fondamente lê. 12Ek sal jou torings met robyne uitlê. Ek sal robyne in jou poorte inmessel. Ek sal edelstene teen jou mure vassit. 13Die Here self sal jou inwoners leer. Hulle sal vrede en voorspoed hê. 14Daar sal geregtigheid in die stad wees.
Jy hoef nie bang te wees dat ander julle sal kom onderdruk nie. Niemand sal naby jou kom om jou skrik te maak nie. 15As iemand jou kom aanval, is dit nie omdat Ek dit wil hê nie. Wie ook al jou probeer aanval, gaan seerkry. 16Ek het die bewerker van yster gemaak wat wapens in die vuur vervaardig. Ek het die soldate gemaak wat met daardie wapens oorlog maak. 17Geen wapen wat teen jou gebruik word, sal suksesvol wees nie. Iemand wat verkeerd teen jou getuig in die hof, sal vervolg word. Dit is hoe Ek hulle beskerm wat doen wat Ek van hulle vra. Ek laat hulle regverdig behandel, sê die Here.

Currently Selected:

Jesaja 54: DB

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in

YouVersion uses cookies to personalize your experience. By using our website, you accept our use of cookies as described in our Privacy Policy