YouVersion Logo
Search Icon

Jesaja 5

5
’n Lied oor die Here se wingerd
1Ek wil ’n lied sing oor die Een wat ek liefhet, ’n lied oor sy wingerd. Die Een wat ek liefhet, het ’n wingerd gehad op ’n baie vrugbare heuwel. 2Hy het die grond omgespit en die klippe uitgehaal. Daarna het Hy van die beste wingerdstokke daarin geplant. In die middel van die wingerd het Hy ’n wagtoring gebou en toe ’n parskuip uit die rotse daar naby gekap. Hy het ’n goeie oes verwag, maar toe die oestyd kom, was elke druif aan daardie wingerd suur. 3Nou vra die Een wat ek liefhet: Inwoners van Jerusalem en Juda, Ek het my saak aan julle gestel, lewer tog nou uitspraak tussen My en my wingerd. 4Wat meer kon Ek vir my wingerd doen as wat Ek alreeds gedoen het? Waarom het my wingerd dan suur druiwe gedra in plaas van die goeie druiwe wat Ek verwag het? 5Laat Ek julle vertel wat Ek nou met my wingerd gaan doen: Ek gaan die heining wat daarom was om dit te beskerm wegvat en die muur wat Ek daarom gebou het, afbreek, sodat die diere kan inkom en dit kaal vreet en met hulle pote vertrap. 6Ek gaan hierdie wingerd aan homself oorlaat om toe te groei. Ek gaan dit nie meer snoei of skoffel nie. Doringbosse en onkruid sal dit inneem en Ek sal sorg dat dit nie daar reën nie. 7Israel is die Here die Almagtige se wingerd. Die mense van Juda is die wingerdstokke van wie Hy so baie verwag het. Hy het reg en geregtigheid verwag, maar onreg gekry. In plaas van eerlikheid moes Hy hoor hoe die verontregtes hulle lot by Hom bekla.
Juda se skuld en oordeel
8Dit sal maar sleg gaan met die mense wat huis na huis opkoop sodat daar nie plek oorbly vir ander mense om in te bly nie. Julle palm al die plase in en bou vir julle huise daarop sodat julle die alleeneienaars van al die grond kan wees. 9Ek het die Here die Almagtige hoor waarsku: Baie van hierdie pragtige, groot huise sal leeg en vervalle bly staan omdat hulle eienaars dood en weg is. 10’n Tien hektaar wingerd sal skaars 21 liter wyn oplewer en op ’n land waar daar ses sakke saad gesaai is, sal net een sak vol koring geoes word.
11Dit sal ellendig gaan met dié wat van vroeg tot laat sit en drink tot hulle dronk is. 12Daar is volop musiek en drank op hulle partytjies. Maar hulle steur hulle nie aan die Here nie. Hulle is so besig om te fuif dat hulle nie agterkom wat Hy besig is om te doen nie.
13Omdat my volk My nie wil ken nie, sal hulle in ballingskap weggevoer word. Hulle belangrike leiers sal van die honger doodgaan en die gewone mense van die dors. 14Die doderyk staan oopmond vir Jerusalem en wag. Hy kan nie wag om die hele rumoerige spul, ryk en arm, met een sluk in te sluk nie. 15Op daardie dag sal die verwaandes tot ’n val kom en die hoogmoediges verneder word.
16Maar die Here die Almagtige sal sy grootheid bewys in die beslissings wat Hy gee. Hy is die heilige God wat sy heiligheid deur sy regverdige oordeel bewys. 17Die lammers sal op die bouvalle en die boklammers in die strate van die stad wei asof dit ’n weiveld is.
18Daar wag groot swaarkry op die mense wat hulle sonde saam met hulle rondsleep soos ’n mens ’n hond aan ’n leiband sal lei. 19Hulle spot met die Here en sê: “Maak gou, doen iets! Wys ons wat Jy kan doen. Ons is nuuskierig om te sien wat die Heilige van Israel vir ons beplan.”
20Dit sal swaar gaan met dié wat sê verkeerd is reg en reg is verkeerd, wat van die donker lig wil maak en van die lig donker. As iets bitter is, sê hulle dit is soet en as dit soet is, noem hulle dit bitter. 21Dit sal swaar gaan met dié wat dink hulle is baie slim en kwansuis alles van alles af weet. 22Met die helde van die drankbottels wat spog oor hoe goed hulle hulle drank kan vat, sal dit baie swaar gaan. 23Ook met dié wat skuldige mense vryspreek omdat hulle geld het om hulle mee om te koop, maar onskuldige mense wat dit nie kan doen nie aan die pen laat ry. 24Omdat hulle alles wat die Here die Almagtige hulle geleer het, verwerp en hulle nie aan die Heilige van Israel se woorde gesteur het nie, sal hulle met wortel en tak uitgeroei word, soos droë gras en hooi wat deur die vuur tot as verbrand word.
25Daarom het die Here kwaad geword vir sy volk en besluit om hulle te straf. Wanneer dit gebeur, sal die berge bewe en die lyke sal soos vuilgoed in die strate lê. Maar selfs dit sal nie die Here se woede laat bedaar nie en Hy sal aanhou om hulle te straf.
26Wanneer die Here vir die nasie wat ver bly ’n teken gee en vir hulle fluit om te kom, doen hulle dit sonder versuim. 27Nie een van hulle word moeg of struikel nie. Hulle kom sonder rus of slaap. Ten spyte daarvan gaan nie een van hulle se belt eers los of breek iemand se sandaal nie. 28Hulle pyle is vlymskerp en hulle boë is reeds gespan, reg om te skiet. Die vonke spat onder hulle perde se hoewe uit. Die wiele van hulle strydwaens draai soos ’n warrelwind. 29Hulle oorlogskrete klink soos jong leeus wat met ’n gebrul op hulle prooi afstorm. Hulle gryp die prooi en sleep hulle sonder teëstand weg, sonder dat iemand dit kan keer. 30Daardie dag sal die vyand se voeteval soos die dreuning van die see klink wanneer hulle op Israel afgestorm kom. As ’n mens oor die land uitkyk, sal daar net donker en ellende wees soos wanneer donker wolke die son se lig wegkeer.

Currently Selected:

Jesaja 5: DB

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in

YouVersion uses cookies to personalize your experience. By using our website, you accept our use of cookies as described in our Privacy Policy