YouVersion Logo
Search Icon

Jesaja 41

41
Die Here stuur Kores van Persië
1Die Here sê vir die lande wat oorkant die see is: Wag ’n bietjie. Maak julle reg. Kom nader en kom stel julle saak. Kom, laat ons dit in die hof gaan uitmaak. 2Wie anders is dit as die Here wat hierdie koning uit die ooste sal laat kom om alles voor hom plat te trap? Wie anders sal hom help om nasies te oorwin en konings voor hom te laat buig? Wie anders help hom om die nasies soos stofwolke met sy swaard voor hom uit te jaag? Wie anders help hom om hulle met sy boog op loop te jaag soos gras wat voor die wind wegwaai? 3Hy agtervolg hulle. Hy oorwin hulle. Hy marsjeer met sy leër deur plekke waar hy nog nooit was nie. 4Wie sal dit alles laat gebeur? Wie het nog van altyd af besluit wat met die mense moet gebeur? Dit was nog nooit enige iemand anders nie as net Ek, die Here. Ek was daar reg van die begin af. Ek sal nog steeds daar wees reg teen die einde.
Die afgodsbeelde
5Die lande wat oorkant die see is, het gesien wat gebeur het. Hulle het bang geword. Die lande oor die hele wêreld begin bewe. Hulle kom bymekaar om reg te maak vir oorlog. 6Hulle praat mekaar moed in. Hulle sê vir mekaar: “Ons moet nou sterk wees.” 7Die kunstenaar wat met yster werk, help die een wat met goud werk om gou ’n afgod te maak. Die een wat goud uitklop, staan by die een wat yster op die aambeeld smee. Hulle sê vir mekaar: “Ons vorder goed.” Hulle maak ’n afgodsbeeld en sit hom aanmekaar met klinknaels sodat hy nie uitmekaar kan val nie.
Israel hoef nie bang te wees nie
8Maar jy hoef nie bang te wees nie, Israel. Jy behoort mos aan My. Jy is Jakob wat Ek vir My uitgekies het. Jy is my vriend Abraham se kind. 9Ek het jou gaan haal by die heel verste plekke op die wêreld. Ek het jou laat kom van die uithoeke van die aarde af. Ek het vir jou gesê: “Kom bid tot My.” Ek het jou vir My uitgekies. Ek sal jou nooit in die steek laat nie. 10Ek is by jou. Jy hoef nie bekommerd te wees nie. Ek is jou God. Jy hoef nie bang te wees nie. Ek sal jou help. Ek sal jou sterk maak. Ek sal jou met my krag beskerm.
Jy sal jou vyande oorwin
11Al jou vyande wat so kwaad was vir jou gaan maar sleg daarvan afkom. Almal wat met jou baklei het, sal verdwyn. 12Jy sal verniet soek na die mense wat met jou rusie gemaak het. Die mense wat teen jou oorlog gemaak het, sal wegraak asof daar nooit sulke mense was nie. 13Ek is mos die Here jou God. Ek sal jou hande sterk maak. Ek sê vir jou: Hou nou op om bang te wees. Ek self help jou dan. 14Al is jy klein, Israel, en al voel jy soos ’n wurmpie, Ek sal jou help, sê die Here. Die groot God self gaan jou red, Israel. 15Ek maak jou soos ’n masjien waarmee ’n mens graan dors, wat nuwe, skerp lemme gekry het. Jy sal selfs berge kan dors en hulle fynmaal. Jy sal heuwels aan flarde kan sny soos graanstoppels. 16Jy sal hulle uitstrooi in die lug en die wind sal hulle wegwaai. ’n Windstorm sal hulle oor die aarde verstrooi. Dan sal jy sing van blydskap oor die Here. Jy sal die hoë God van Israel loof en prys.
Die Here sal Israel help
17Wanneer Israel soos hulpelose mense verniet na water soek, wanneer hulle wil doodgaan van die dors, sal Ek, die Here, hulle gebede verhoor. Die God van Israel sal nie sy volk in die steek laat nie. 18Ek sal riviere tussen die droë berge deur laat loop. Ek sal fonteine onder in die laagtes laat uitborrel. Ek sal waterpanne in die woestynwêreld gee. Daar sal waterstrome deur droë gebiede vloei. 19Ek sal sederbome in die woestyn laat groei. Daar sal akasias, mirtebome en olyfbome staan. Waar dit heeltemal droog is, sal Ek sipresse, plataanbome en dennebome plant.
20Dan sal almal sien wat gebeur het. Hulle sal insien en erken dat dit die Here is wat die wonderwerk laat gebeur het. Die hoë God van Israel het die onmoontlike reggekry.
Die afgode beteken niks
21Die Here sê vir die afgode: Kom stel nou julle kant van die saak. Kom wys wat julle kan doen, sê Jakob se Koning. 22Kom vertel vir ons wat nog vorentoe gaan gebeur. Verduidelik vir ons wat beteken die dinge wat in die verlede gebeur het. Ons sal dan weet wat alles beteken wat nog vorentoe moet gebeur. 23Sê vir ons presies wat in die toekoms gaan gebeur, dan sal ons weet dat julle regtig gode is. Doen enigiets, goed of sleg, dat ons verbaas kan staan oor wat julle kan doen. Dan sal ons julle aanbid. 24Ag nee wat, julle is niks werd nie. Wat julle doen, beteken niks. Iemand wat vir julle kies, maak homself belaglik.
25Ek het ’n sekere man wat in die ooste woon, laat kom. Hy het die ander konings vanuit die noorde aangeval en hulle in die modder getrap. Hy het gemaak soos die pottebakker wat die klei onder sy voete trap. 26Was daar ’n afgod wat al voor die tyd gesê het dat dit sal gebeur, sodat ons dit voor die tyd kon weet en toegee dat hy reg was? Nee, daar was niemand wat dit kon sê nie. Nie een van ons het so iets voor die tyd gehoor nie. Niemand het enigeen so iets hoor sê nie. 27Ek was die Een wat al voor die tyd vir Sion laat sê het: Jou mense gaan terugkom. Ek het vir Jerusalem die boodskap gestuur met die goeie nuus. 28Ek het verniet gewag dat een van julle afgode dit vir julle sou sê. Onder hulle was daar nie een wat daaroor gepraat het nie. Ek het verniet gevra dat een van hulle iets daaroor sal kom sê. 29Nee wat, nie een van hulle beteken enigiets nie. Wat hulle doen, beteken niks. Die afgodsbeelde is net ’n bondel wind.

Currently Selected:

Jesaja 41: DB

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in

YouVersion uses cookies to personalize your experience. By using our website, you accept our use of cookies as described in our Privacy Policy