YouVersion Logo
Search Icon

Jesaja 40

40
Die Here kom
1Julle God sê: Gaan praat my volk moed in. Gaan troos hulle. 2Praat mooi met die mense van Jerusalem. Sê vir hulle: Julle gaan nie aanhou swaarkry nie. Julle straf is nou verby. Julle het heeltemal klaar betaal vir alles wat julle teen die Here verkeerd gedoen het. 3Luister, daar is ’n stem wat uitroep: “Bou ’n pad vir die Here deur die woestyn. Maak vir ons God ’n breë, reguit pad dwarsdeur die veld. 4Vul die leegtes op. Stoot die berge en die heuwels plat. Maak die draaie reguit. Maak die klipperige grond glad. 5Dan sal die Here kom. Almal saam sal sien hoe wonderlik die Here is. Die Here het self belowe dat Hy sal kom.”
Wat die Here sê, hou vir altyd
6Iemand sê vir my: “Jy moet ’n boodskap gaan bring.”
Ek vra: “Wat moet ek gaan sê?”
“Gaan sê vir hulle dat alle mense eintlik maar soos gras is wat weer doodgaan. Hulle is soos die blomme in die veld. Binne ’n dag is hulle klaar geblom. 7Wanneer die Here die wind daaroor laat waai, droog die gras uit en die blomme gaan dood. Die mense is ook maar soos die gras. 8Gras droog uit. Blomme gaan dood. Maar wat die Here sê, hou vir altyd.”
Die goeie nuus
9Sion, gaan klim op ’n hoë berg. Bring die goeie nuus. Jerusalem, skreeu die wonderlike boodskap uit met alles wat jy het. Moenie bang wees nie. Skreeu so hard as jy kan. Sê vir die dorpe in Juda: “Kyk, die Here gaan kom!” 10Die Here kom met krag. Hy sal regeer met mag. Hy kom gee sy beloning. Hy kom gee ook sy straf. 11Hy sal vir sy volk sorg soos ’n skaapwagter sy skape oppas. Hy dra die lammers in sy arms. Hy hou hulle teen Hom vas. Hy sorg vir elke lammer se ma.
Met wie kan ons die Here vergelyk?
12Wie kan met sy hand uitmeet hoeveel hande vol water daar in die see is? Wie kan meet hoe groot die blou lug daar bo is? Kan iemand sê hoeveel emmers vol stof daar op die aarde is? Kan iemand sê hoe swaar die berge weeg? Kan iemand sê wat die heuwels op ’n skaal sal weeg? 13Wie kan vir die Here vertel wat Hy moet doen? Wie is daar by wie die Here raad kan kom vra? 14By wie kan die Here kom kers opsteek as Hy nie verstaan nie? Wie kan vir die Here leer wat die regte pad is? Wie kan vir die Here leer hoe Hy dinge moet verstaan?
15Die nasies is vir die Here soos ’n druppel in ’n emmer. Hulle is so min soos ’n stoffie wat jy op ’n skaal probeer weeg. Die lande is vir Hom so lig soos ’n sandkorreltjie. 16Al die bome op die Libanonberg is nie eens genoeg om vir Hom een offer te bring nie. Al die diere op die Libanonberg is nie eens genoeg vir een offer vir die Here nie. 17Al die nasies tel niks teenoor die Here nie. Hulle is vir Hom soos lug wat leeg is.
18Met wie kan julle God vergelyk? Watter beeld kan julle gebruik om Hom te beskryf? 19Hy is mos nie soos ’n afgodsbeeld wat uit yster gegiet word en wat ’n kunstenaar dan met goud en silwer oortrek nie. 20Hy is ook nie soos ’n man se afgod wat ’n beeldhouer vir hom uit harde hout gemaak het wat op sy voete kan staan nie.
21Weet julle nie? Verstaan julle dan nie wat al van die begin van die wêreld af vir julle vertel is nie? 22Die Here bly doer bo in die lug. Die mense wat onder op die aarde bly, lyk van daar af so klein soos sprinkane. Hy span die blou lug uit soos ’n dak bo-oor ’n tent. Hy slaan dit op soos ’n tent om in te bly. 23Hy vat konings weg. Hy maak asof die regeerders van die wêreld nie eens bestaan nie. 24Hulle is soos ’n plant wat skaars geplant is en begin wortelskiet of God laat ’n wind daaroor waai wat dit uitdroog. Hulle waai in ’n storm weg, soos wind stukkies gras wegwaai. 25Die groot God vra: “Wie is daar met wie julle My kan vergelyk? Wie is daar wat net soos Ek is?” 26Kyk op na die sterre in die lug. Hy wat hulle gemaak het, laat hulle almal in die aand uitkom. Hy ken elkeen van hulle se naam. Met sy groot krag sorg Hy dat nie een van hulle wegraak nie.
Die Here gee weer krag
27Jakob, waarom beweer jy dan dat die Here nie raaksien wat met jou gebeur nie? Waarom sê jy, Israel, dat Hy Hom nie daaraan steur dat jy verontreg word nie? 28Verstaan julle nie en begryp julle dan nie dat die Here vir ewig en altyd God is nie? Hy het die hele wêreld gemaak. Hy word nooit moeg nie. Hy word nooit uitgeput nie. Niemand kan Hom regtig verstaan nie. 29Hy gee vir dié wat uitgeput is weer nuwe krag. Hy maak dié wat swak geword het, weer sterk. 30Selfs dié wat jonk is se krag kan ingee. Dié wat nog in die krag van hulle lewe is, kan inmekaarsak. 31Maar hulle wat op die Here vertrou, kry altyd weer krag. Hulle word soos ’n arend wat vlieg. Hulle hardloop en word nooit moeg nie. Hulle loop en raak nooit uitgeput nie.

Currently Selected:

Jesaja 40: DB

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in

YouVersion uses cookies to personalize your experience. By using our website, you accept our use of cookies as described in our Privacy Policy