YouVersion Logo
Search Icon

Jesaja 38

38
Hiskia se siekte en hoe hy gesond geword het
1In dié tyd het Hiskia tot die dood toe siek geword. Die profeet Jesaja gaan sê toe vir hom: “Die Here sê jy moet jou sake in orde kry, want jy gaan nie van hierdie siekte herstel nie, jy sal doodgaan.”
2Toe Hiskia dit hoor, het hy met sy gesig na die muur toe gedraai en gebid: 3“Ag, Here, dink tog daaraan dat ek my bes probeer het om vir U te leef. Ek was my hele lewe aan U getrou en ek het altyd gedoen wat U wou hê ... ” en toe het sy gemoed te vol geword om verder te bid.
4Die Here het toe vir Jesaja gesê: 5“Gaan terug na Hiskia toe en sê vir hom: Die Here, die God van jou voorvader Dawid, sê: Ek het gehoor wat jy gebid het en Ek sien jou hartseer. Ek sal jou nog vyftien jaar laat lewe. 6Wat meer is, Ek sal jou en die stad beskerm teen die koning van Assirië. Hy sal niks aan julle kan doen nie. 7Ek gee vir jou ’n teken om te bewys dat Ek my woord hieroor sal hou. 8Ek sal die skaduwee op die sonwyser wat koning Agas nog opgesit het, met tien trappe laat terugskuif.” Dit is presies wat gebeur het: die skaduwee het tien trappe teruggeskuif op die sonwyser.
Hiskia skryf ’n gedig
9Nadat Hiskia gesond geword het, het hy hierdie gedig geskryf om te vertel wat met hom gebeur het:
10Ek het gedink dat ek in my beste jare sou doodgaan en begrawe sou word, dat ek nie kans sou kry om ’n vol lewe te leef nie.
11Ek het gedink dat ek nooit in my lewe hier op aarde weer die Here sou sien nie,
dat ek maar my vriende sou moes groet. 12Dit het vir my gevoel of my lewe in ’n oogwink van my af weggeruk word,
soos wanneer ’n rukwind skielik ’n tent uit die grond uitruk en dit wegwaai,
asof my lewe kortgeknip is soos die oortollige wol van ’n weefraam wat afgeknip word nadat die mat klaar geweef is. My lewe was verby!
13Ek het probeer om nie te kla nie,
maar die pyn het my oorweldig;
dit het aangehou vreet aan my soos ’n leeu wat aanhou kou aan die bene van sy prooi.
My lewe was verby!
14My stem het so dun geword dat ek soos ’n swaeltjie geklink het wat piep.
Ek het so baie gebid om hulp dat my oë naderhand van moegheid toegeval het.
Here, ek is bang, help my, asseblief.
15Maar wat kan ek sê?
Die Here self het hierdie siekte gestuur, ek verstaan dit nie,
maar ek weet dat ek vir die res van my lewe die letsels sal dra van wat ek beleef het.
16Ek het gedink ek moet my mense groet en afskeid neem.
Maar, Here, U het my gesond gemaak en ek lewe weer!
17Dit was goed om hierdie krisis te beleef,
want nou besef ek dat U my nie laat doodgaan het nie en al my sonde vergewe het.
18Iemand wat dood is, kan U tog nie loof en prys nie.
Die dooies in hulle grafte hoop nie langer op u getrouheid nie.
19Dit is net mense wat nog leef wat U kan prys en dankie sê soos ek dit vandag doen.
Elke geslag sal vir die volgende geslag van u getrouheid vertel.
20Here, U het my gesond gemaak.
Ons sal vir die res van my lewe hierdie danklied in u tempel gaan sing terwyl ons op ons liere speel.
21Tydens Hiskia se siekte het Jesaja gesê hulle moet ’n pleister van gedroogde vye maak en dit op die koning se sweer sit. 22Hiskia wou weet watter bewys die Here hom sou gee dat hy weer gesond sou word en die Here in die tempel sou kon aanbid.

Currently Selected:

Jesaja 38: DB

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in

YouVersion uses cookies to personalize your experience. By using our website, you accept our use of cookies as described in our Privacy Policy