YouVersion Logo
Search Icon

Hebreërs 5

5
Jesus behartig ons saak by God
1Laat ons oor hoëpriesters nadink. ’n Hoëpriester word uit mense gekies en aangestel om ander mense se sake by God te behartig. Dit gaan oor godsdienstige dinge wat God raak: die hoëpriester moet allerhande offers vir God gee sodat God nie die mense straf vir al die verkeerde dinge wat hulle doen nie.
2Omdat die hoëpriester self ’n swak mens is, sal hy simpatie hê met mense wat verkeerde dinge doen of wat nie weet wat reg is nie. 3Daarom moet hy eers vir al die verkeerde dinge wat hy self gedoen het met ’n offer vir God om verskoning vra voordat hy dieselfde vir die ander mense kan doen. 4Iemand kan nie self besluit dat hy ’n hoëpriester wil wees nie. Nee, God roep ’n mens om daardie werk te doen, soos Hy Aäron geroep het. 5Jesus het ook nie vir Homself die belangrike werk van hoëpriester gevat nie. God het vir Hom gesê: “Jy is my Seun en Ek is jou Vader van vandag af,” 6of soos God op ’n ander plek sê: “Jy sal vir altyd ’n priester wees; Jy sal ’n priester wees soos Melgisedek dit was.”
Jesus was ’n volmaakte mens
7Toe Jesus destyds op aarde was, het Hy God baie mooi gevra om Hom uit die dood te red. Hy het baie ernstig met trane in sy oë daarvoor gebid, omdat Hy geweet het dat God dit kan doen. En God het dit gedoen omdat Jesus Homself met soveel oortuiging in God se hand geplaas en Hom gehoorsaam het. 8Al was Jesus sy Seun, het Hy ervaar wat dit beteken om regtig gehoorsaam te wees deurdat Hy na God bly luister het, al het dit met Hom hoe swaar gegaan. 9Nadat Hy gewys het dat Hy aan God en net aan Hom gehoorsaam is en nooit iets doen waarvan God nie hou nie, kon Hy die ewige lewe uitdeel aan almal wat na Hom wou luister. 10God het Hom dan ook aangestel as ’n Hoëpriester, net soos Melgisedek ’n hoëpriester was.
Hou vol, moenie terugdraai nie
11Ek kan nog baie hieroor sê, maar dit is vir my moeilik om dit behoorlik by julle tuis te bring, omdat julle nie eintlik wil luister nie. 12Om die waarheid te sê, behoort julle eintlik self al mense te gewees het wat ander van die dieper dinge van die godsdiens kon vertel. Maar kyk net na julle: ’n mens moet julle weer van die begin af al die basiese dinge oor God en sy boodskap leer. 13Op geestelike gebied is julle soos regte babatjies wat net melk drink en geen vaste kos kan eet nie. En iemand wat dit doen, is nog ’n babatjie in die geloof. Hy weet nog nie eens mooi wat die verskil tussen reg en verkeerd is nie. 14Vaste kos is bedoel vir grootmense, ook op geestelike vlak. Hulle het al in die lewe geleer om te weet wat goed en wat sleg is.

Currently Selected:

Hebreërs 5: DB

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in

YouVersion uses cookies to personalize your experience. By using our website, you accept our use of cookies as described in our Privacy Policy