YouVersion Logo
Search Icon

Galasiërs 6

6
Help mekaar
1My broers en susters, as ander gelowiges aan die een of ander sonde toegee, moet julle wat julle deur die Gees laat lei, hulle dadelik reghelp. Bring hulle terug op die regte pad sonder om hulle te veroordeel. Tree vol deernis op. Maar pas op sodat julle self nie voor die sonde swig nie.
2Sien raak wanneer ander gelowiges swaarkry en help hulle. Tel hulle probleme op julle skouers en dra dit vir hulle. So doen julle presies wat Christus van julle verwag. Dit is immers sy wet dat julle mekaar moet liefhê.
3As julle dink dat julle te belangrik is om vir ander mense om te gee, begryp julle net mooi niks van die evangelie nie. 4Gaan kyk ’n slag goed na julle eie lewe. Wees tevrede met die goeie dinge wat God in julle lewe tot stand gebring het sonder om julle gedurig met ander gelowiges te vergelyk. 5Op die ou end sal julle slegs oor julle eie lewe aan God moet rekenskap gee.
6Julle moenie daardie mense afskeep wat julle leer waaroor dit in God se Woord gaan nie. Nee, wees goed vir hulle en sorg vir hulle.
7Moenie julleself bedrieg nie. God laat nie toe dat iemand met Hom spot nie. Dit wat jy plant, sal jy ook oes. 8As jy jou lewe gaan inplant op die terrein van die sonde, sal jy die dood as oes ontvang. Aan die ander kant, as jy jou lewe inplant op die terrein van die Heilige Gees, sal jy die ewige lewe as oes van Hom ontvang.
9Kom ons hou aan om goed te doen. Dit is presies wat die Here wil hê. Dan sal ons op die regte tyd ons oes van Hom ontvang. 10Terwyl ons nog tyd oorhet, moet ons elke geleentheid benut om goed te doen aan almal wat op ons pad kom, maar veral aan ons broers en susters in die Here. Hulle is ons bloedfamilie.
Slotwoorde
11Hier teen die einde van my brief het ek dit goedgedink om self die laaste paar woorde aan julle te skryf. Tot dusver het my sekretaris alles neergeskryf. Maar nou skryf ek self. Julle kan dit sien aan die groot letters wat ek maak.
12Daardie mense in die gemeente wat vir julle sê om besny te word, doen dit net om ander te beïndruk. Op dié manier soek hulle ’n maklike uitweg sodat hulle nie vervolg word nie. Hulle is nie bereid om die lyding te verduur wat hand aan hand gaan met die regte verkondiging van die kruis van Christus nie. 13Gaan kyk mooi, daardie mense wat sulke groot voorstanders van die besnydenis is, verroer self nie ’n vinger om te doen wat die wet sê nie. Hulle wil net hê dat julle ook besny moet word sodat hulle oor julle kan spog. Hulle wil graag sê dat hulle daarin geslaag het om julle na hulle kant toe oor te haal.
14Ek self sal dit nooit waag om oor iets anders as oor die kruis van ons Here Jesus Christus te spog nie. Ek is saam met Hom gekruisig. Daarom het die wêreld en al sy sondige begeertes geen houvas meer op my lewe nie. Ek is dood vir die mag van die sonde. 15Wanneer ’n mens glo, maak dit nie meer saak of jy besny is of nie. Al wat nou saak maak, is dat jy ’n splinternuwe mens is; ’n splinternuwe skepping. Almal wat volgens Christus se nuwe reëls leef, is nou deel van die nuwe Israel. 16God gee aan hulle almal sy vrede en genade.
17Ek het nou heeltemal genoeg oor die wet en die besnydenis gesê. Moet my asseblief nie verder oor al hierdie dinge uitvra nie. Ek het heeltemal genoeg ander probleme omdat ek die evangelie verkondig. Kyk dan net hoeveel littekens van Jesus ek oral aan my eie lyf dra. Ek is omtrent al geslaan en mishandel.
18Die goedheid van ons Here Jesus Christus is met julle almal. My broers en susters, ek bid dat julle sy krag in julle lewe sal ervaar. Amen.

Currently Selected:

Galasiërs 6: DB

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in

YouVersion uses cookies to personalize your experience. By using our website, you accept our use of cookies as described in our Privacy Policy