Rut 2
DB
2
Rut ontmoet vir Boas
1In Betlehem was daar ’n bekende en invloedryke man met die naam Boas. Hy was familie van Naomi se man, Elimeleg. 2Op ’n dag vra Rut vir Naomi: “Sal dit reg wees as ek na die lande toe gaan en van die koringare optel wat agterbly as hulle klaar geoes het, as hulle my sal toelaat?”
“Natuurlik, gaan doen dit gerus,” was Naomi se antwoord.
3Rut is toe uit na die lande toe waar sy are agter die werkers loop en optel het. Sy het toevallig op ’n stuk land beland wat aan Boas, die familielid van Elimeleg, behoort het. 4Intussen het Boas ook uit Betlehem daar aangekom. Hy en sy werkers het mekaar vriendelik gegroet, soos dit die gebruik was.
5Boas het vir Rut raakgesien en vir sy voorman gevra wie die vreemde vrou is wat op sy land are optel. 6Hierop het die voorman geantwoord: “Dit is Naomi se skoondogter wat saam met haar uit Moab uit teruggekom het. 7Sy het vanmôre al gevra of sy are agter die werkers mag optel. Van toe af werk sy nog aanmekaar. Sy rus nou vir die eerste keer ’n bietjie daar in die koelte.”
8Boas stap toe na Rut toe en sê vir haar: “As ek jou raad kan gee, moenie op ’n ander land gaan are optel nie. Bly by die vroue wat hier op my land werk. 9Kyk waar hulle are optel en volg hulle. Ek het ook die werkers gewaarsku om jou nie te pla nie. En as jy dors word, gaan drink gerus water daar by die kanne wat hulle vir hulleself volgemaak het.”
10Rut het baie beleefd dankie gesê. “Maar,” vra sy toe vir hom, “hoekom is u bekommerd oor my? Ek is tog maar net ’n vreemdeling hier.”
11Boas sê toe vir haar: “Ek het gehoor van alles wat jy vir jou skoonma gedoen het ná jou man se dood, dat jy bereid was om jou ouers en jou geboorteland prys te gee om hier saam met haar tussen ’n klomp vreemde mense te kom bly. 12Mag die Here, die God van Israel, by wie jy hulp kom soek het, vir jou baie goed wees. Mag Hy jou goed versorg oor al die mooi dinge wat jy gedoen het.”
13“U is baie vriendelik, Meneer,” sê sy toe vir hom. “Ek is bly dat u so ordentlik met my praat al is ek nie een van u werkers nie.”
14Met etenstyd het Boas vir Rut geroep en gesê: “Kom eet saam met ons. Vat gerus ook van die brood en doop dit in die wynsous om jou dors weg te vat.”
Sy het toe by die werkers gaan sit en Boas het vir haar gebraaide koring gegee. Toe sy klaar geëet het, was daar genoeg oor om saam te vat huis toe. 15Toe Rut weg is om verder te gaan werk, het Boas vir sy werkers gesê: “Laat haar toe om ook tussen die gerwe koringare op te tel. Moenie haar keer om dit te doen nie. 16Julle moet ook so nou en dan van die are uit die bondels uittrek en dit spesifiek vir haar los sodat sy dit kan optel. Moenie dit moeilik maak vir haar nie.”
17Rut het tot die aand toe are op die land opgetel. Toe sy later die are uitslaan om die graan en die halms te skei, was daar omtrent tien kilogram graan.
Naomi en Rut in gesprek
18Rut het die koring teruggevat dorp toe en vir haar skoonma gaan wys hoeveel sy die dag bymekaargemaak het. Sy het ook vir Naomi van die kos gegee wat van die middag se ete oorgebly het.
19Naomi was so verbaas dat sy sommer gevra het: “Waar kry jy so baie? Op wie se land het jy gewerk? Mag die Here baie goed wees vir die persoon wat jou gehelp het!” Rut het haar toe vertel wat sy gedoen het en dat sy op die land van ’n man met die naam Boas gewerk het.
20“Mag die Here Boas seën!” het Naomi gesê. “Die Here kom altyd sy beloftes na aan dié wat lewe en selfs ook dié wat al dood is. Weet jy, hierdie man is familie van ons. Om die waarheid te sê, hy is eintlik een van die mense wat veronderstel is om vir ons te sorg omdat ons nie meer mans of kinders het nie.”
21Toe sê Rut: “Dis nie al nie. Hy het ook gesê ek moet terugkom en elke dag saam met sy werkers are kom optel totdat die hele oes van die land af is.”
22Naomi sê toe vir Rut: “Dis goed so. Jy moet eerder saam met die vroue op Boas se land werk. Jy mag dalk net beledig word as jy op iemand anders se land gaan werk.”
23Rut het toe saam met die ander vroue in Boas se land are opgetel totdat die gars- en koringoes ingesamel was. Sy het die hele tyd by haar skoonma gebly.

2002. Gebruik met toestemming van Christelike Uitgewersmaatskappy,Posbus 1599, Vereeniging, 1930. Alle regte voorbehou.

Learn More About Die Boodskap