YouVersion Logo
Search Icon

Romeine 3

3
Die Jode het wel ’n paar voorregte
1Maak dit dan saak dat jy ’n Jood is en dat jy besny is? 2Ja, tog! God het Hom immers aan Israel kom bekendmaak. Hy het ook toegelaat dat Israel sy woorde en dade op skrif stel. 3Maar wat dan as party Israeliete ongehoorsaam aan God is? Bring hulle ongehoorsaamheid God se lojaliteit in die gedrang? 4Nee, beslis nie. God hou altyd sy woord. Hy bly lojaal selfs al lieg en bedrieg almal op aarde. Dit is soos een van die psalms sê:
“Dit wat U sê, is reg. U wen altyd u saak wanneer mense U beskuldig dat U ontrou is.”
5God is heeltemal reg as Hy ons straf as ons verkeerde dinge doen. Sy straf is mos nie ’n teken dat Hy nou skielik onregverdig is nie. (Nou praat ek op ’n doodgewone manier.) 6Nee, natuurlik nie. God moet sy eer op die een of ander manier beskerm. Daarom veroordeel Hy almal wat nie doen wat Hy vra nie.
7Party mense sê egter dat God onregverdig is as Hy hulle oor hulle sondes straf. Hulle loop en vertel dat al hulle leuens eintlik ’n groot hulp vir God is. 8Dit bied glo aan Hom die geleentheid om te wys dat Hy die waarheid gepraat het toe Hy gesê het dat Hy sondaars vergewe. Die ergste van alles is dat hierdie mense agter my rug sê dat hulle dit by my gehoor het. Natuurlik is dit ’n leuen. Ek verkondig nie sulke dinge nie. Die mense wat dit oor my sê, sal hulle verdiende straf kry.
Almal is sondaars
9Wat dan? Help dit regtig om ’n Jood te wees? Nee, glad nie. Ek het mos vroeër al gesê dat ons almal in die greep van die sonde vasgevang is, of ons nou Jode is of nie. 10Die Bybel stel dit baie duidelik:
“Niemand op aarde leef reg nie, niemand nie, 11niemand probeer om volgens God se wil te leef nie. 12Almal het die spoor byster geraak. Hulle het in sonde verval. Niemand doen goed nie, nie ’n enkele een nie. 13Hulle kele is ’n oop deur na die doderyk toe. Hulle tonge is vol bedrog. Hulle lippe is vol van die dodelikste gif. 14Elke woord wat hulle sê, is gelaai met bitterheid. Hulle vloek links en regs. 15Hulle kan nie voorbly om mekaar dood te maak nie. 16Agter hulle lê ’n spoor van vernietiging en ellende. 17Hulle weet nie wat dit beteken om in vrede met ander mense te leef nie. 18Hulle het geen eerbied vir God nie.”
19Ons weet dat alles wat Moses in die wet gesê het, spesifiek vir mense bedoel is wat onder die gesag van die wet staan. Daarom moet ons stilbly en ophou om so maklik die vinger na ander te wys. Ons almal staan skuldig voor God. 20Ons wat Jode is moenie dink dat God ons sal vryspreek as ons sy wet probeer gehoorsaam nie. Al wat die wet kan doen, is om vir ons te wys wat sonde is, maar dit help ons glad nie om op te hou verkeerde dinge doen nie.
God spreek mense vry wat glo
21Ek het nou baie goeie nuus vir julle: dit waarvan die Bybel praat, naamlik dat God mense sal vryspreek van hulle sondes, selfs al doen hulle nie stiptelik alles wat die wet van God sê nie, het uiteindelik waar geword. 22Mense wat in Jesus Christus glo, word nou deur God van hulle sondes vrygespreek. Dit geld vir elkeen wat glo.
23Ons almal is sondaars. Nie een van ons leef tot God se eer nie. 24Ten spyte daarvan het Hy besluit om ons vry te spreek. 25-26Daarom het Hy Jesus Christus gestuur om ons te kom verlos. God doen dit omdat Hy baie vir ons omgee, nie omdat ons so goed leef nie. God het Jesus soos ’n offerlam laat slag vir al ons sondes. As ons in Hom glo, tel ons verkeerde dade glad nie meer nie.
God was ’n lang tyd geduldig met ons oor al ons sondes. Hy het ons nie links en regs daarvoor gestraf nie. Maar omdat God regverdig is en dit die een of ander tyd moet straf, het Hy besluit om ons sondes op Jesus Christus te laat neerkom. Daarom kan Hy nou elkeen vryspreek wat in Christus glo.
27Wie kan dit nou nog waag om te spog oor hulle gehoorsaamheid aan die wet? Dit help in elk geval nie. Al wat nou saak maak, is geloof. Dit gaan glad nie meer oor wat óns alles vir God doen nie, maar wat Hý vir ons doen. 28God spreek mense vry slegs omdat hulle glo, nie omdat hulle die wet gehoorsaam nie. 29Hierdie goeie nuus geld vir die Jode sowel as vir ander volke. Die Jode het mos nie die alleenreg op God nie. 30Daar is slegs een God en Hy spreek alle mense vry wat in Hom glo. Of hulle besny is of nie, maak glad nie vir Hom saak nie.
31Al gaan dit nou nie meer oor wat ons vir God moet doen nie, maar oor wat Hy vir ons doen, beteken dit nie dat die wet van Moses sy betekenis verloor het nie. Inteendeel, ons geloof gee juis aan die wet sy regte plek. Nou kan almal wat glo, die wet gehoorsaam.

Currently Selected:

Romeine 3: DB

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in

YouVersion uses cookies to personalize your experience. By using our website, you accept our use of cookies as described in our Privacy Policy