YouVersion Logo
Search Icon

Openbaring 9

9
Die vyfde trompet: God waarsku,
maar die mense luister nie
1Die vyfde engel se trompet weerklink toe. Juis toe val my oog op iemand wat soos ’n ster van bo af op die aarde afkom. 2Hy het die sleutel gekry wat die ingang na die onder-aardse dieptes oop- en toesluit. Toe hy die ingang oopsluit, borrel daar ’n digte rookmassa uit hierdie onderaardse diepte uit. 3Die rookmassa was so dik dat die lug heeltemal swart geword het, sodat ’n mens nie eens die son kon sien nie. Uit hierdie wolke rook kruip daar toe sprinkane uit, die wêreld vol! Aan die sprinkane is buitengewone mag gegee. Hulle was gevaarlik soos skerpioene. 4Daar is mooi vir hulle gesê wat hulle moes doen. Die plante, bome en gras moes hulle met rus laat, maar die mense moes hulle tref, hoewel nie almal nie. Daardie mense wat die merk van God op hulle voorkop gehad het, was veilig, maar die mense sonder daardie merk moes deurloop. 5Die sprinkane moes nie die mense doodmaak nie, maar net vyf maande lank seermaak. Dit sal wees soos skerpioene wat hulle die hele tyd steek en dít gaan so seer wees dat die mense allerhande planne sal maak om hulleself dood te maak. 6Maar hulle planne sal nie uitwerk nie. Hoe hard hulle ook al probeer, die dood sal soos wind deur hulle grypende vingers glip.
7Die sprinkane het soos perde gelyk wat spesiaal vir oorlog reggemaak is. Hulle gesigte het soos dié van mense gelyk. Op hulle koppe was iets wat gelyk het soos die goue kroon wat mense kry wat ’n kompetisie gewen het. 8Onder die kroon het ’n pragtige haardos uitgehang, soos ’n vrou s’n. Hulle tande het soos leeus s’n gelyk. 9Ysterplate het hulle bors beskerm. Hulle het ’n groot lawaai gemaak, net soos die gedreun van ’n massa perde en waens wat in ’n oorlog instorm. 10Hulle sterte het nes dié van skerpioene gelyk, en kón dit steek! Vyf maande aanmekaar moes die mense onder daardie sterte deurloop. Glo my, dit was seer! 11Hulle het ’n leier gehad, die engel van die onderwêreld. Sy Hebreeuse naam was Abaddon - dit beteken: die een wat alles verwoes. 12Hoe verskriklik is dit nie, nè? Wag maar, daar is nog twee sulke skrikwekkende dinge op pad.
Die sesde trompet: vernietigende oordeel
13Toe weerklink die sesde engel se trompet. Ek hoor toe ’n stem uit die rigting van die vier horings op die vier hoeke van die goue altaar. Die altaar het voor God gestaan. 14Die stem praat toe met hierdie sesde engel: “Laat daardie vier engele losbreek wat net heeltyd by die groot Eufraatrivier moes bly.” 15Toe breek die vier engele los, want hulle was reg daarvoor. Hiervoor het hulle gewag. Nou maar waarvoor het hulle gewag? Om ’n derde van die mense van kant te maak. 16Hulle was nie alleen nie. Hulle het ’n massa soldate op perde gehad. Ek het ook gehoor hoe baie daar was: twee maal 10 000 en dit nog weer met 10 000 vermenigvuldig.
17Ek kon die perde en hulle ruiters duidelik in ’n gesig voor my sien. Elke ruiter het ysterplate oor sy bors en maag gedra, reg vir oorlog. Die plate het soos vuur gelyk met blou en geel vlekke. Elke perd se kop het gelyk soos dié van ’n leeu wat alles wil verskeur. Vuur met rook en swaelwolke het uit hulle monde geborrel. 18Alles voor hulle is verskroei, saam met ’n derde van die mense op die aarde.
19Kyk, hierdie perde het nie met hulle laat speel nie! Hulle was baie sterk. Hulle krag het veral in hulle sterte gelê en in hulle monde wat so vuur spoeg. Hulle sterte was soos slange met die verskriklikste koppe. Waar hulle jou raak pik, is daar ’n gapende wond.
20Die mense wat hierdie plae oorleef het, het jou werklikwaar niks daaruit geleer nie. Hulle het maar net so verkeerd en sondig bly leef. Hulle het hulle nie aan God gesteur nie en glad nie belanggestel om Hom te begin dien nie. Hulle het maar aangehou om allerhande demone te aanbid. Hulle het vir hulle beelde van goud of brons gemaak. As hulle nie goud of sulke dinge gehad het nie, het hulle dit van klip of hout gemaak. Hierdie dooie beelde wat nie eens kon sien of hoor of praat nie, het hulle dan vurig aanbid. 21Daar was by hulle geen teken te bespeur dat hulle enige plan het om God te dien nie. Hulle het maar met hulle moord en toordery, hulle swak seksuele gedrag en agterbakse bedrog aangegaan asof niks gebeur het nie.

Currently Selected:

Openbaring 9: DB

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in

YouVersion uses cookies to personalize your experience. By using our website, you accept our use of cookies as described in our Privacy Policy