YouVersion Logo
Search Icon

Openbaring 8

8
Die geur van gebed rondom God
1Toe maak die Lam die sewende seël oop. ’n Halfuur lank was dit doodstil in die hemel. 2Toe val my oog op sewe engele wat voor God staan. God gee toe vir hulle elkeen ’n trompet. 3’n Ander engel verskyn toe ook op die toneel. Hierdie engel het ’n goue bak vasgehou en by die altaar gaan staan. ’n Klomp wierook, wat baie lekker ruik, is vir die engel gegee. Dit is saam met die gebede van al God se mense op die goue altaar gesit. Die altaar het reg voor God gestaan. 4Die heerlikste geur van die wierook het saam met die gebede van God se mense die ruimte by God gevul. Dit het uit die mengsel gekom wat die engel met sy hande gemaak het. 5Die engel maak toe die bak vol met brandende kole van die altaar af. Hy keer dit toe op die aarde om met merkwaardige gevolg. Blitse het geslaan, die donder het gedreun, mense het geskree en die aarde het gebewe.
Die onheilspellende klank
van die eerste vier trompette
6Nadat die sewe engele hulle trompette reggekry het, 7het die eerste een op sy trompet geblaas. ’n Reënbui van hael en vuur, gemeng met bloed, het losgebars. Vure het oral uitgebreek. In die woeste brand is ’n derde van die aarde afgebrand. Daar het nie ’n grashalmpie oorgebly nie en ’n derde van die woude het in die slag gebly.
8Toe blaas die tweede engel op sy trompet. Ek het ’n groot berg vlamme gesien. Dit is in die see gegooi. Dit was vernietigend. 9’n Derde van die see het in bloed verander. Dit is nie al nie. ’n Derde van die seediere het ook gevrek en ’n derde van die skepe het gesink.
10Die derde engel blaas toe op sy trompet. Daarna val ’n groot ster van bo af. Dit het soos ’n fakkel gebrand. 11Die ster, met die naam “Bitterheid”, val toe reg op ’n derde van die riviere en op die fonteine. ’n Derde van die water het so bitter soos gal geword. Baie mense is van die giftige water dood.
12Die vierde engel blaas toe op sy trompet. ’n Derde van die son, maan en sterre word toe getref. Die gevolg was dat die sonlig ’n derde minder was en die maan ook ’n derde swakker geskyn het.
13Ek kyk toe mooi. Bo in die lug sien ek ’n arend sweef. Die arend skree toe hard sodat almal kan hoor: “Verdoemend, ja, vernietigend, verskriklik! Die arme mense op aarde. Ek kry hulle jammer as die laaste drie engele op hulle trompette blaas.”

Currently Selected:

Openbaring 8: DB

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in

YouVersion uses cookies to personalize your experience. By using our website, you accept our use of cookies as described in our Privacy Policy