YouVersion Logo
Search Icon

Psalms 92

92
1’n Loflied. ’n Lied vir die rusdag
2Allerhoogste Here, dit maak my baie bly om vir U ’n danklied te sing.
Ek wil liedere sing om aan U eer te gee.
3Vroeg in die môre wil ek van u groot liefde vertel.
In die aand wil ek uitjubel dat U altyd op u pos is. U slaap nooit nie.
4Ek wil dit uitsing met die geklank van viole, kitare, harpe en liere.
5Here, ek sal sing, want U het my lewe vol blydskap gemaak.
Ek juig oor alles wat U gedoen het.
6Wat U gedoen het, is te groot vir ons klein verstandjies.
Wat U dink en beplan, is te groot vir mense om te verstaan.
7As jy nie oor die Here se grootheid nadink nie, is jy dom;
dan het jy geen verstand in jou kop nie.
8Ook al gaan dit baie goed met mense wat U nie dien nie,
en al het mense wat lelike dinge doen sakke vol geld,
hulle gaan die een of ander tyd onder.
9Maar Here, U is altyd baie groot.
10U sal altyd die Here wees, maak nie saak wat mense sê of doen nie.
Al die slegte mense sal die een of ander tyd verdwyn.
11U gee vir my krag om op te staan.
U maak my so sterk soos ’n jong buffel.
Ek geniet al die goeie dinge waarmee U my oorlaai.
12Ek geniet dit as mense wat my probeer onderkry, my nie stukkend kan trap nie. Ek is nie bang vir hulle nie, al ondermyn hulle my omdat hulle teen my in opstand kom.
13Iemand wat die Here liefhet, staan so sterk soos ’n yslike groot boom.
Soos bome in die Libanon se woud, so sterk staan hy.
14Mense wat die Here liefhet, kry krag daaruit om die Here te aanbid.
Daarom is hulle gereeld op hulle knieë voor ons God.
15Selfs as hulle baie oud is, hou hulle aan om goeie dinge te doen.
Hulle is dan nog sterk en vol lewe.
16Hulle sal vertel dat die Here ’n reguit pad met mense loop. Hy duld nie kwaad nie.
Hy beskerm sy kinders.
Ek kruip by Hom weg.

Currently Selected:

Psalms 92: DB

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in

YouVersion uses cookies to personalize your experience. By using our website, you accept our use of cookies as described in our Privacy Policy