YouVersion Logo
Search Icon

Psalms 109

109
’n Dawidspsalm vir die leier van die musiek
1God, ek prys U altyd. Moet my asseblief nie ignoreer nie! Moenie stilbly as ek praat nie.
2Mense wat U nie wil dien nie, praat lelik van my.
Party mense is oneerlik. Hulle lieg oor my.
3Uit wat hulle sê, kan ’n mens sien dat hulle niks van my dink nie.
Hulle baklei sommer vir niks met my.
4Ek is hulle vriend, maar hulle is onbeskof met my.
Hulle gooi my liefde in my gesig terug.
Tog hou ek aan om vir hulle te bid.
5As ek iets goeds vir hulle doen, behandel hulle my net slegter.
Hulle doen net mooi die teenoorgestelde as ek.
As ek wys dat ek hulle liefhet, raak hulle al hoe leliker met my.
6Hulle sê:
“Laat hy in die hof voor ’n regter beland wat self ’n misdadiger is.
Laat sy vyand sy aanklaer wees.
7Sy lewe moet vir hom ’n nagmerrie wees.
Wanneer hy voor die hof kom, moet hy geen kans hê nie.
Die regter moet hom dadelik skuldig bevind.
As hy bid, laat dit selfs as ’n misdaad gereken word.
8Laat hom baie jonk doodgaan. Iemand anders moet sy werk kry.
9Sy kinders moet weeshuis toe gaan.
Daar moet niks wees wat sy weduwee kan erf nie. Sy moet stoksielalleen agterbly.
10Laat sy kinders loop en bedel. Hulle moet kos in asblikke gaan soek.
Mense moet hulle van die een ashoop na die ander wegjaag.
11Mense vir wie hy geld skuld, moet alles kom vat wat hy het.
Hy moet elke liewe sent betaal.
Die res van sy goed moet mense wat hy nie eens ken nie, kom steel.
12Niemand moet daardie slegte mens kan vertrou nie.
Almal moet hom in die steek laat.
Niemand moet hom eens jammer kry nie. Niemand moet hom liefhê nie.
Ook sy weeskinders moet sonder liefde grootword.
13Hy moenie ’n nageslag hê nie. Mense moenie eens van hom weet nie.
Sy kinders en kleinkinders, ja, sy hele familie moet doodgaan. Niemand mag oorbly nie. 14Die Here moet sy ouers se sonde straf.
Die Here moet nie een van die slegte dinge wat sy ma gedoen het, vergewe nie.
15Hy moet vir altyd die slegte vrugte pluk van daardie dade.
Die Here moet sorg dat niemand ooit weer aan daardie mense dink nie.
16Laat hierdie dinge gebeur omdat daardie skurk nooit iets goeds vir iemand anders gedoen het nie.
Hy het nooit mense gehelp wat arm en behoeftig is nie.
Mense wat in die moeilikheid was, het hy nog swaarder laat kry.
17Diegene wat moedeloos was, het hy heeltemal gebreek.
Hy het dit geniet om mense slegte dinge toe te wens.
Al daardie dinge moet hom nou tref.
Hy het nooit ’n goeie woord vir ander gehad nie.
Laat dieselfde met hom gebeur.
18Hy is baie lief om ander te vloek.
Van binne en buite is hy sleg. 19Dit is soos die bloed in sy are; soos die murg in sy pype.
Hy kan nie daarvan ontslae raak nie.
20Mag die Here al hierdie dinge laat kom oor hulle wat niks van my hou nie.
Hulle sê altyd lelike dinge van my. Daarom verdien hulle hierdie dinge.
21Here, wees asseblief goed vir my. U Naam is op die spel.
U is tog die Here, my God! Help my uit die moeilikheid uit.
U het u kinders baie lief.
22Ek is in die moeilikheid. Ek het u hulp nodig.
My binneste is stukkend. 23Ek is besig om stadig dood te gaan.
Daar is niks waaraan ek kan vashou nie. 24My bene vou onder my in.
Ek kan nie meer eet nie. Ek is maer. Daar is geen vet meer aan my nie. Slegte mense het op my getrap en my beledig.
25As hulle my sien, maak hulle ’n gek van my. Hulle haat my, en hulle is bly as dit sleg met my gaan.
26Here, my God, help my tog!
Help my asseblief uit die moeilikheid uit.
U het u kinders baie lief.
27Mense moet sien dat U hulle uit die moeilikheid gehelp het.
28Slegte mense kan my maar vloek, Here.
Gee U vir my goeie dinge.
Hulle wou my lelik behandel en seermaak, maar hulle kon nie.
Ek dien U. Dit maak my sommer baie bly.
29Verneder daardie mense wat teen my is. Laat hulle met hulle kop in skaamte wegstap.
30Dan sal ek die Here prys. Almal moet dit hoor.
Ek sal Hom voor baie mense loof.
31Hy help almal wat sy hulp nodig het!
Hy help mense teen skurke wat ander seermaak.

Currently Selected:

Psalms 109: DB

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in

YouVersion uses cookies to personalize your experience. By using our website, you accept our use of cookies as described in our Privacy Policy