YouVersion Logo
Search Icon

Spreuke 23

23
1As jy saam met ’n belangrike persoon eet, let op jou tafelmaniere. 2Al is jy baie honger, moet jy nie gulsig wegval en alles vinnig opeet nie. 3Moet ook nie so na die gasheer se kos staar dat almal ongemaklik voel nie. Sy kos is tog nie so lekker as wat jy dink nie.
4Moenie jou vir baie geld afsloof nie. Wees slim genoeg om te weet wanneer jy genoeg het. 5Rykdom hou ook nie vir altyd nie. Dis soos ’n voël wat die een oomblik nog naby jou op ’n tak sit en dan skielik wegvlieg. So vinnig verdwyn geld.
6Moenie jou met ’n baie suinige mens ophou nie. Vra hom niks nie. Hy sal jou uitnooi om by hom te kom eet. 7Moet hom nie vertrou nie, want hy stel nie eintlik in jou belang nie. Sy gasvryheid is skyn. 8Selfs sy kos is so sleg dat dit jou siek maak. Jou opbouende gesprekke beteken vir hom niks nie.
9Moet tog nie ’n dom mens probeer oortuig nie. Jy mors net jou asem. Hy verstaan niks van jou wyse woorde nie.
10Respekteer ander se eiendom. Moenie weerlose mense soos weeskinders uitbuit nie. 11Die Here is hulle helper. Hy sal vir hulle sorg en jou straf.
12Maak alles wat die spreuke jou leer jou eie. Spits jou ore om nog meer van die lewe te leer.
13’n Kind het dissipline nodig. ’n Pak slae op die regte tyd sal hom goed doen. 14Wie dit nalaat, stuur sy kind die verderf in.
Jong vriend, luister
15Jong vriend, hoor wat die wysheidsleraar vir jou sê: As jy die wysheid jou eie gemaak het, is ek baie bly. 16As jy weet wat om op die regte oomblik te sê, loop ek oor van blydskap.
17Moet niks wil hê van slegte mense nie. Dit kan jou net in die ellende dompel. Wees eerder elke dag baie lief vir die Here. 18As jy dit doen, wag daar wonderlike dinge op jou. Goeie dinge sal met jou in die toekoms gebeur.
19Luister goed na wyse raad. Tree reg op. Dink mooi hoe jy wil leef. 20Moenie jou oorgee aan drank nie. Voor jy weet waar jy is, is jy daaraan verslaaf.
Moenie ’n vraat wees wat alles gulsig opslurp nie. 21’n Suiplap en ’n vraat word gou arm. Stukkende klere is hulle voorland.
22Onthou die goeie waardes wat jy in jou ouerhuis geleer het. Moenie jou ouers se harte op hulle oudag breek nie. Hou vas aan die lewenswaarhede wat hulle jou geleer het. 23Streef na nog meer wysheid. Leer nog meer lewensvaardighede. Probeer nog beter verstaan hoe om reg te lewe.
24-25Maak jou ouers trots op jou. Maak hulle dankbaar omdat jy in die Here glo en reg wil leef.
Jong vriend, volg goeie raad
26Vertrou op my goeie raad vir die lewe. Jy sal sien dit help. 27Pas op vir die los vrou. Sy kan jou lewe verwoes. ’n Ander man se vrou is soos ’n diep put waaruit niemand kom nie.
28’n Prostituut is altyd op loer na nog ’n slagoffer. Nes ’n rower. Elke dag loop baie mans hulle met haar vas. Sy maak van hulle egbrekers.
29Kyk mooi na die mense om jou. Wie kerm? Wie het dronkverdriet? Wie stry met almal? Wie kla oor alles? Wie het ’n blouoog? Snyplekke aan sy lyf? En dit alles sonder rede. Wie se oë is rooi en moeg?
30Natuurlik die dronklappe s’n. Hulle wat net nie kan ophou drink nie. Hulle wat hulle drankies meng sodat die skop nog sterker is.
31Pas maar op vir drank. Dit lyk mooi in die glas. Lekker as dit so skuim. ’n Mens slaan sommer maklik ’n hele paar doppe weg. Maar dink ook aan die nagevolge.
32Die babbelas. Die hoofpyn. Dit is soos ’n slang wat jou pik. Soos die gif van ’n adder wat jou doodmaak.
33Dit voel soos ’n ontploffing in jou kop. Jy sien dinge wat nie bestaan nie. Jy praat die grootste klomp onsin.
34Jy sweef soos iemand wat in die middel van die see op ’n bootjie ronddobber. Jy is bang soos iemand wat op die rand van ’n hoë gebou probeer slaap.
35Drank maak jou ongevoelig. Mense sal jou skop, maar jy sal dit nie eens voel nie.
Hulle sal jou slaan, maar jy sal dit nie eens weet nie. Al waaraan jy dink, is drank. Jy kan nie wag dat die drankwinkel oopmaak en jy weer kan begin drink nie.

Currently Selected:

Spreuke 23: DB

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in

YouVersion uses cookies to personalize your experience. By using our website, you accept our use of cookies as described in our Privacy Policy