YouVersion Logo
Search Icon

Numeri 5

5
Die mense met aansteeklike
siektes word uit die kamp uitgestuur
1Die Here het vir Moses gesê: 2“Beveel die Israeliete om elkeen wat ’n ernstige velsiekte het, of ’n onnatuurlike liggaamlike uitskeiding, of wat in kontak was met ’n lyk en daarom vir ’n tydperk nie aan godsdienstige aktiwiteite mag deelneem nie, uit die kamp uit te stuur. 3Dit geld vir sowel mans as vroue. Stuur hulle uit die kamp uit sodat hulle nie die kamp waar Ek by julle is, onrein maak nie.” 4Die Israeliete het toe die Here se opdrag uitgevoer en al hierdie mense uit die kamp weggestuur.
Skadevergoeding
5Die Here het toe vir Moses gesê: 6“Wanneer ’n man of ’n vrou enige sonde doen waarmee hulle ontrou aan die Here is, 7moet die skuldige persoon sy skuld bely. Verder moet die volle bedrag vir die skade wat die onskuldige gely het, plus ’n verdere twintig persent as skadevergoeding aan daardie persoon terugbetaal word. 8As die persoon wat skade gely het, reeds dood is en nie ander familie het aan wie die skuld betaal kan word nie, behoort die geld aan die Here. Hierdie bedrag moet saam met die ram, wat geoffer moet word as bewys dat die skuldige jammer is oor sy sondes, aan die priester gegee word.
9“Al die offers wat die Israeliete na die priester toe bring vir die diens aan die Here, behoort aan die priester. Dit dien as sy inkomste waarvan hy moet leef. 10Nadat die Here se deel deur die mense wat kom offer aan Hom gegee is, behoort die res aan die priester.”
Mans wat hulle vroue van skelm verhoudings verdink
11Toe sê die Here vir Moses: 12-15“As ’n man agterdogtig raak en dink sy vrou het ’n verhouding met ’n ander man, moet hy haar na die priester toe bring. Dit kan wees dat die getroude vrou by iemand anders geslaap het sonder dat haar man daarvan weet of sonder dat iemand dit uitgevind het. Dit kan ook wees dat, al was sy ontrou, daar geen getuie was wat haar betrap het nie. Dit kan ook wees dat die man agterdogtig is en sy vrou van sulke slegte dinge verdink sonder dat sy iets verkeerds gedoen het. In al hierdie gevalle moet die man sy vrou na die priester toe bring. Hy moet ook ’n offer bring van een en ’n half kilogram garsmeel. Hy moet die meel nie met olie en wierook meng nie, want so ’n offer waar ’n man sy vrou nie vertrou nie, is ’n offer wat die waarheid aan die lig moet bring.
16“Die priester moet die vrou dan voor die altaar in die teenwoordigheid van die Here laat staan. 17Die priester moet dan ’n bak vat, dit volmaak met water wat vir sy diens opsy gesit is en dit met stof van die tabernakel se vloer meng. 18Dan moet hy die vrou se hare losmaak waar hulle voor die Here staan. Sy moet dan die offer vashou, sodat hulle kan sien of haar man reg was of nie. Die priester moet voor haar staan. Hy moet die bak met die water vashou wat moet wys of sy skuldig is en ’n groot straf oor haar kan bring. 19Dan moet hy die vrou vra om plegtig te beloof dat sy die waarheid praat. Hy moet dan vir haar sê: As ’n ander man nie by jou geslaap het nie en jy wat ’n getroude vrou is, nie ontrou aan jou man was nie, mag jou onskuld dan sigbaar word deur hierdie bitter water wat ’n groot straf oor jou kan bring as jy jok. 20Maar as jy die spoor byster geraak het en met ’n ander man seks gehad het, 21-22mag die Here dan maak dat jou eie mense jou sal haat en verwerp. Mag jy dan nooit weer kinders hê nie sodat almal kan sien dat die Here se straf op jou rus. As jy skuldig is, mag hierdie water jou vir altyd onvrugbaar maak wanneer jy dit drink.
“Hierop moet die vrou die priester dan antwoord: Dit is goed so. Laat dit alles presies net so gebeur.”
23“Die priester moet hierdie vloeke op ’n stukkie leer neerskryf en dit in die bak met die bitter water afwas. 24Dan moet hy die vrou van die bitter water laat drink sodat dit kan uitwys of sy skuldig is of nie. 25Daarna moet die priester die offer by haar vat, dit aan die Here opdra en dit by die altaar neersit. 26Dan moet hy ’n hand vol van die offer, wat eintlik ’n simbool vir die hele offer is, vat en dit op die altaar verbrand. Daarna moet hy die vrou die res van die water laat drink. 27As sy ontrou was aan haar man, sal die water haar baie siek laat word. Haar maag sal opswel, en sy sal nie weer kinders kan hê nie. Haar mense sal haar verag en verstoot. 28Maar as sy nie ontrou was aan haar man nie, sal haar onskuld bewys word. Dan sal sy weer babas verwag.
29“Hierdie prosedure moet gevolg word wanneer ’n man sy vrou nie vertrou nie. As ’n vrou ontrou was aan haar man en by iemand anders geslaap het, 30of as ’n man sy vrou van ontrou verdink, moet hy haar bring sodat sy voor die altaar in die teenwoordigheid van die Here kan staan en die priester hierdie ritueel kan uitvoer. 31As die vrou skuldig is, sal sy die gevolge van haar daad moet dra. Die man is in sulke gevalle onskuldig.”

Currently Selected:

Numeri 5: DB

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in

YouVersion uses cookies to personalize your experience. By using our website, you accept our use of cookies as described in our Privacy Policy