YouVersion Logo
Search Icon

Nehemia 1

1
1Hier volg die verhaal oor alles wat Nehemia seun van Gakalja gedoen het.
Nehemia se hartseer oor Jerusalem
In die laatherfs van die twintigste regeringsjaar van koning Artasasta van Persië was ek, Nehemia, in die hoofstad Susan. 2Ganani, ’n amptenaar in die koning se diens, en ’n klompie ander mense uit Juda het daar by my aangekom. Ek wou by hulle weet hoe dit met die ander Jode gaan wat die ballingskap vrygespring het en ander wat die ballingskap oorleef het, en ook hoe dit in Jerusalem lyk. 3Hulle sê toe vir my: “Dit gaan glad nie goed met die mense daar in die provinsie Juda nie. Hulle kry baie swaar. Almal spot met hulle. Die muur wat rondom Jerusalem gebou is, lê ook nog steeds in puin en die stad se hekke is nog nie reggemaak nadat dit afgebrand is nie.”
Nehemia se gebed
4Toe ek hierdie slegte nuus hoor, het ek gaan sit en huil. Ek was so hartseer dat ek dae lank niks geëet het nie. Ek het tot die God van die hemel gebid. 5Ek het vir Hom gesê: “O Here, God van die hemel, U is groot. Almal sidder en bewe voor U. U is die God wat u ooreenkoms nakom teenoor almal wat U liefhet en doen wat U sê. U bly altyd lojaal teenoor almal wat U dien.
6“Sien my asseblief raak, Here. Ek is u dienaar. Luister na die gebed wat ek dag en nag tot U bid sonder om moeg te word. Ek bid vir u dienaars, die Israeliete. Ek bely dat ons almal teen U gesondig het. 7Ook ek en my familie het verkeerd gedoen. Ons het nie genoeg respek aan U bewys nie. Ons het nie geluister na die wette en die voorskrifte wat U aan u kneg Moses gegee het nie.
8“Dink asseblief aan wat U vir Moses gesê het: ‘As julle die rug vir My draai, sal Ek julle onder vreemde volke verstrooi. 9Maar as julle terugkeer na My toe en doen wat Ek van julle vra, sal Ek julle weer bymekaarmaak, ook al is julle oor die hele aarde verstrooi. Ek sal julle terugbring na dié plek toe waar Ek gekies het om aanbid te word.’
10“Die Israeliete is tog u dienaars, u eie volk, wat U met u groot mag en krag verlos het. 11Here, hoor tog my gebed! Hoor ook die gebede van al die mense vir wie dit ’n vreugde is om U te dien en te eer. Help my met wat ek vandag wil doen; laat die koning my goedgesind wees as ek na hom toe gaan met dit wat ek hom wil vra.”
In daardie stadium was dit my werk om die koning se wyn in te gooi.

Currently Selected:

Nehemia 1: DB

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in

YouVersion uses cookies to personalize your experience. By using our website, you accept our use of cookies as described in our Privacy Policy