YouVersion Logo
Search Icon

Markus 3

3
1Op ’n ander keer is Jesus weer na die bymekaarkomplek van die Jode toe. Daar was ’n man wie se hand heeltemal inmekaargetrek was. 2Daar was Fariseërs wat Jesus graag in die moeilikheid wou bring. Hulle het Hom fyn dopgehou om te sien of Hy die gebreklike man op die sabbat gesond sou maak. Jesus stel hulle toe nie teleur nie. 3Hy sê vir die siek man: “Kom staan hier waar almal jou kan sien.”
4Toe draai Jesus na die moeilikheidmakers toe: “Wat dink julle mag ’n mens op die sabbat doen? Moet jy goeddoen, of kwaad? Moet jy iemand se lewe red, of hom doodmaak?” Hulle het niks gesê nie. 5Jesus het verontwaardig na hulle gekyk. Hy was veral omgekrap omdat hulle nie hulle fout wou insien en erken dat hulle verkeerd was nie. Hy sê toe vir die siek man: “Steek uit jou hand.” Hy doen dit toe, en daar was sy hand heeltemal gesond. 6Die godsdienstige Jode wat aan die party van die Fariseërs behoort het, is toe daar uit en het saam met die mense wat Herodes ondersteun het, begin planne maak om Jesus dood te maak.
Mense stroom na Jesus toe
7-8Jesus is weer met sy volgelinge see toe. ’n Groot groep mense uit Galilea is saam met hulle. Maar die nuus oor alles wat Jesus gedoen het, het ver oor die grense van Galilea versprei. Uit alle rigtings soos Judea en Jerusalem, selfs van Idumea, Tirus en Sidon en van die oorkant van die Jordaan af het die mense gekom. 9Jesus vra toe sy dissipels om ’n klein bootjie reg te hou sodat Hy daarin kon klim as die mense te veel om Hom saamdrom. 10Jesus het baie mense gesond gemaak en daarom het almal wat siek was vorentoe gebeur om net aan Hom te kon raak. 11Elke keer as iemand met ’n bose gees Hom gesien het, het hy op die grond voor Hom neergeval en uitgegil: “Jy is die Seun van God.” 12Maar Hy het hulle ernstig verbied om te sê wie Hy is.
13Later het Jesus berge se kant toe gegaan. Hy het ’n paar van sy volgelinge gekies en hulle het nader gestaan. 14-15Hy stel toe twaalf manne aan om by Hom te bly, om te stuur om die boodskap vir ander te gaan vertel en om duiwelse geeste uit mense te dryf. Hy het hulle apostels genoem. 16Die twaalf se name was: Simon (Jesus het hom Petrus genoem), 17Jakobus en Johannes, die twee seuns van Sebedeus (Jesus het hulle twee die naam Boanerges gegee, wat beteken: manne van die donder), 18Andreas, Filippus, Bartolomeus, Matteus, Tomas, Jakobus (Alfeus se seun), Taddeus, Simon die Kananeër 19en Judas Iskariot, wat Jesus uiteindelik sou verraai.
’n Mens baklei tog nie teen jouself nie
20Jesus is toe weer huis toe. Die mense het so om Hom saamgedrom dat Hy en sy dissipels nie eens ’n kans gekry het om te eet nie. Jesus het die wonderlikste dinge gedoen wat geen gewone mens kon doen nie. 21Toe sy familie daarvan hoor, het hulle inderhaas na Jesus toe gekom om Hom te kom haal, want hulle het gesê: “Hy het van sy kop af geraak.”
22Die kenners van die Joodse wet wat van Jerusalem af gekom het, het weer gesê: “Dit is Beëlsebul, die hoof van die duiwelse geeste, wat in hom bly. Die einste Beëlsebul help hom ook om die duiwelse geeste te verjaag.”
23Jesus roep hulle toe en verduidelik vir hulle met ’n voorbeeld hoe verkeerd hulle regtig is. “Hoe kan Satan homself uitdryf? 24’n Regering waarin groepe gedurig onder mekaar baklei, kan mos nêrens kom nie. 25’n Gesin waarin elkeen heeltyd die ander een boikot, sal mos uitmekaarspat. 26Met Satan is dit nie anders nie. As Satan nou teen homself oorlog verklaar en homself oral uitdryf, gaan daar niks van hom oorbly nie. Dan is dit verby met hom. 27Aan die ander kant kan ’n mens ook nie in ’n sterk man se huis instap en vat wat jy wil hê nie. Jy moet eers sorg dat die sterk man vasgebind is voordat jy sulke dinge kan doen. 28Sowaar, Ek sê vir julle: daar is niks wat julle kan doen of sê wat so sleg is dat God dit nie kan vergewe nie, selfs al praat julle lelik van Hom. 29Maar daar is een ding wat God net mooi niks van hou nie: dit is as mense sê dat die dinge wat die Gees doen van die duiwel af kom. God sal dit vir altyd teen so ’n persoon hou.” 30Dit het Jesus gesê omdat daar mense was wat beweer het dat ’n bose gees in Hom werk.
Julle is God se familie
31Jesus se ma en broers kom toe juis daar aan. Hulle het buite gewag en iemand gevra om Jesus te gaan roep. 32Die mense het om Jesus gesit toe hulle Hom kom roep. “Jou ma en broers wag hier buite vir jou,” sê hulle. 33Jesus sê toe: “Wie is regtig my ma en broers?” 34Hy kyk toe na die mense wat om Hom sit en sê: “Hier is my regte familie.
35“Elkeen wat doen wat God van hom verwag, is deel van my familie. Hulle is regtig my broer, my suster, my ma.”

Currently Selected:

Markus 3: DB

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in

YouVersion uses cookies to personalize your experience. By using our website, you accept our use of cookies as described in our Privacy Policy