YouVersion Logo
Search Icon

Matteus 19:3-12

Matteus 19:3-12 DB

’n Klomp Fariseërs het ook daar opgedaag. Hulle wou Jesus verneder met ’n strikvraag. “Kom ons hoor ’n bietjie wat jy dink. Mag ’n man sommer om enige rede van sy vrou skei?” Jesus het dadelik ’n teenvraag vir hulle gereed gehad: “Ken julle dan nie julle Bybel nie? Weet julle nie daar staan geskryf dat God heel aan die begin man en vrou gemaak het om lewenslank by mekaar te bly nie? Daarom het God gesê: ‘Die dag wanneer ’n man trou, sal hy nie meer by sy ouers bly nie. Nee, hy en sy vrou sal dan op hulle eie gaan bly. Hulle sal dan liggaamlik en geestelik een word.’ “In die huwelik bestaan daar nie meer twee mense in God se oë nie, maar net een. Hierdie band tussen man en vrou is onbreekbaar. As God dan twee mense op hierdie manier in die huwelik aan mekaar verbind het, mag niemand op aarde dit verbreek nie.” Die Fariseërs het vinnig daarop gereageer: “Maar wat dan van Moses? Waarom het hy nie ’n probleem daarmee gehad dat ons kan skei nie? Al wat hy wel vir ons gesê het, is om te sorg dat ons vir ons vrou ’n wettige skeibrief gee wanneer ons hulle die dag laat loop.” “Ja, dit is waar,” het Jesus geantwoord. “Maar dit is omdat julle koppe en julle harte so hard soos klip is dat hy toegelaat het dat julle kan skei. Dit is omdat julle nie na God se voorskrifte wou luister nie. Maar dit was nie van die begin af so nie. Egskeiding is glad nie deel van God se oorspronklike plan nie. Daarom sê Ek nou eens en vir altyd vir julle: jy mag glad nie skei nie. Glad nie! As jy van jou vrou skei en met ’n ander een trou, pleeg jy egbreuk. Want jou eerste huwelik bestaan nog steeds in God se oë. “Ek maak slegs een uitsondering: as jou vrou by ’n ander man slaap, mag jy van haar skei. Want dan het sy en daardie man liggaamlik een geword.” Na die tyd het Jesus se dissipels eenkant vir Hom kom sê: “Ons het gestaan en luister na wat U vir die Fariseërs oor die huwelik gesê het. Maar, Here, g’n mens kan dit wat U sê, nakom nie. Dis heeltemal te moeilik. Is dit dan nie maar beter om nie te trou nie?” “Ja, Ek weet dis nie maklik om te doen wat Ek vir julle sê nie,” het Jesus geantwoord. “Maar wanneer God met sy goedheid in julle lewens aan die werk is, kan julle doen wat Ek sê. Tog is dit nie vir almal moontlik om te trou nie. Daar is byvoorbeeld mense wat nie in staat is om te trou nie omdat hulle weens aangebore liggaamlike gebreke nie hulle normale seksuele funksies kan vervul nie. Daar is ook mans wat ontman is en nie in staat is om kinders te hê nie. En dan is daar ook mense wat self besluit het dat hulle nie wil trou nie sodat hulle al hulle tyd en energie aan God se diens kan wy. As julle egter kans sien om my voorskrifte oor die huwelik uit te voer, trou dan!”

YouVersion uses cookies to personalize your experience. By using our website, you accept our use of cookies as described in our Privacy Policy