YouVersion Logo
Search Icon

Matteus 11

11
Johannes kry ’n versekering
1Johannes was toe al klaar in die tronk. Selfs daar in die tronk was die mense aan die praat oor Jesus en sy preke. 2Johannes was egter nie heeltemal seker wat besig was om te gebeur nie. Nuuskierig stuur hy toe van sy vriende na Jesus toe: 3“Is U regtig die Messias op wie ons gewag het?” vra hulle. “Sê ons asseblief eerlik. Ons wil nie ’n fout maak en dalk vir ’n verkeerde een wag nie.”
4Jesus het nie met ’n eenvoudige ja of nee geantwoord nie. Hy het vir hulle gesê: “Luister na my preke en kyk wat Ek alles doen. Gaan dan na Johannes toe en vertel hom: 5mense wat nie kon sien nie, sien nou weer; mense wat nooit kon loop nie, stap nou tussen ons rond; mense wat uit die dorpe gejaag is omdat hulle melaats was, staan nou weer in die tempel, heeltemal gesond; dowes hoor; mense wat dood was, leef, en mense op wie almal neersien, hoor nou skielik dat hulle vir God baie besonders is.
6“Gelukkig is hy wat nie begin twyfel of Ek regtig die Messias is nie.”
Party mense is nooit
tevrede nie, al kry hulle die beste
7Johannes se volgelinge is toe daar weg. Intussen het Jesus egter met die groep mense om Hom verder oor Johannes gesels. “Wat het julle verwag om te sien toe julle agter Johannes die woestyn in is? ’n Opportunis wat niks beteken nie? 8Nee! Of dalk ’n ryk man in ’n duur pak klere? Ag nee, julle weet mos sulke mense bly nie in die woestyn nie, maar sit gemaklik in groot huise. Ek vra weer, wat het julle verwag om te sien? 9As julle ’n boodskapper van God verwag het, is julle heeltemal reg. Johannes is regtig so ’n profeet. Om die waarheid te sê, hy is die belangrikste profeet wat daar ooit was. 10Die woorde van Maleagi is van hom waar:
‘Ek, God, stuur iemand voor jou uit om almal te vertel dat jy kom; so sal hy alles en almal voorberei om dit vir jou makliker te maak.’
11“Laat Ek verduidelik: in die geskiedenis was daar nie ’n belangriker man as Johannes nie. Tog is almal in God se nuwe wêreld waarvoor hy julle wou voorberei, belangriker as hy. 12Van die dag dat Johannes begin preek het tot nou toe het die onkeerbare krag van God se nuwe wêreld al keer op keer oor die mense gespoel. Mense wat op en wakker is, gryp elke geleentheid aan om deel te word daarvan. 13As julle die moeite doen om die profete, asook die vyf boeke van Moses, goed te lees, sal julle agterkom dat dieselfde God wat deur julle Bybel praat, ook deur Johannes praat. 14Luister mooi: Johannes is die Elia vir wie julle wag om julle aan die Messias voor te stel. 15Hoor julle wat Ek sê?
16“Laat Ek aan ’n voorbeeld dink om die mense mee te vergelyk wat so hardkoppig weier om dit te glo. Wel, hulle is soos ’n klomp bedorwe kinders wat op ’n partytjie mekaar sit en verwyt: 17‘Ons speel musiek, maar dit is julle wat nie wil dans nie. Ons sing liedjies, maar julle sit daar soos ’n klomp lyke asof julle dit nie hoor nie.’ Hierdie kinders is met niks en niemand tevrede nie. Kyk net wat doen hulle: 18Johannes het nie in die woestyn lekker kos geëet nie. En wat sê daardie mense toe? Hulle sê hy is van sy sinne beroof.
19“Daarna kom Ek toe onder skoot. Ek het mos lekker saam met my vriende geëet. Ook dit was nie goed nie. Oor My het hulle weer die volgende kwytgeraak: ‘Het julle gesien hoe baie eet hy? Skande, dat iemand hom darem so te buite kan gaan! En wat nog erger is, hy doen dit saam met daardie skurke wat ons wet so minag.’
“Ja-nee, al wat hierdie mense kan doen, is kritiseer. Maar hoe voel God daaroor? Wel, God kyk na die gevolge van wat iemand doen. Dan besluit Hy of dít wat daardie persoon doen, goed of sleg is.”
Wees gewaarsku
20Iets anders het Jesus ook gepla. In sekere dorpe het Hy baie gepreek en ook baie wonderlike dinge daar gedoen. Eintlik kon die mense nie oor sy wonderkrag twyfel nie. Ten spyte van dit alles het hulle bloot hulle skouers opgetrek en aangegaan asof niks gebeur het nie.
21Dit het Jesus ontstel: “Gorasin, Betsaida, julle is soos mense wat met die volgende tree by ’n vernietigende afgrond gaan afstort en julle gee nie eens om nie. Weet julle, as die ongodsdienstige mense van Tirus en Sidon die wonders kon sien wat julle gesien het, was hulle binne sekondes op hulle knieë voor My. Maar toemaar, die finale oordeel van God is op pad.
22“Daardie dorpe sal lig daarvan afkom in vergelyking met wat julle gaan tref.
23“Mense van Kapernaum, wat dink julle van julleself? Dink julle God gaan vir julle spesiale plekke in die hemel gee? Dan wag daar vir julle ’n baie groot ontnugtering! Julle plekke is eerder in die warm plek bespreek. Julle onthou mos nog hoe daardie sondige stad Sodom deur God vernietig is? 24Wel, sê nou Ek kon in Sodom gepreek en die wonders gedoen het wat Ek by julle gedoen het. Weet julle, hulle sou hulle lewe so vinnig verander het dat dit glad nie meer vir God nodig sou gewees het om een van hulle te straf nie. Wees gewaarsku! God se oordeel was nie naastenby so erg oor hulle as wat dit oor julle gaan wees nie.”
Die boodskap: so helder dat
kindertjies dit kan verstaan
25Jesus maak toe sy oë toe en begin bid. “Baie dankie, Vader, U wat oor die hemel en die aarde heers, dat u boodskap so duidelik en eenvoudig is. ’n Mens hoef nie jare op skoolbanke te sit of spesiale kursusse te loop om dit te verstaan nie. Dankie dat ’n ma die kind op haar skoot van U kan vertel en dat hy dit kan verstaan. Dankie ook, Vader, dat die sogenaamde slim mense van die wêreld wat dink hulle weet alles nie u boodskap met hulle geleerdheid kan stilmaak nie. Nee, al hulle ingewikkelde redenasies laat net hulle eie koppe draai. Uiteindelik begryp hulle minder van u boodskap as die kindertjies. 26Dankie, Vader, dat U besluit het om so duidelik en eenvoudig met ons te praat. Amen.”
Hoe ’n mens lekker kan leef
27Na die gebed gesels Jesus toe verder met die mense: “My Vader het My gevra om al hierdie dinge op die aarde te kom doen. Hy het ook vir My alles gegee wat Ek nodig het om dit wel te kan doen. Ek en my Vader het geen geheime vir mekaar nie. Ons ken mekaar deur en deur. Niemand ken Ons soos Ons mekaar ken nie. Wil julle die Vader so leer ken? Ek kan julle aan 28Hom voorstel.
“Daarom wil Ek julle uitnooi: Voel julle moeg vir hierdie lewe? Knak julle knieë onder al die probleme en verantwoordelikhede wat julle moet dra? Het julle godsdiens leeg geword sodat dit julle geestelike dors nie meer les nie? Kom dan na My toe! Ja, kom wy jou lewe aan My toe. By My sal jy weer die sin van die lewe ontdek.
“Kom luister na wat Ek vir jou oor jou lewe wil leer. Ek sal jou leer dat geluk nie is om heeltyd net vir jouself te leef nie. Jy sal ontdek wat dit beteken om nog vir ander mense tyd en liefde oor te hê.
29“Kom ontdek watter vreugde dit bring om te leef soos God wil hê jy moet leef.
“Dis nie moeilik om so te leef nie; om die waarheid te sê, 30as jy so begin leef, sal jy agterkom hoe lekker die lewe regtig kan wees.”

Currently Selected:

Matteus 11: DB

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in

YouVersion uses cookies to personalize your experience. By using our website, you accept our use of cookies as described in our Privacy Policy