YouVersion Logo
Search Icon

Lukas 7

7
Geloof druk die doodlyn terug
1Toe Jesus die mense klaar geleer het, het Hy weer na Kapernaum toe gegaan. 2Daar was ’n belangrike offisier in die Romeinse leër. Sy werker was baie siek. Almal het verwag dat hy enige oomblik sou doodgaan. 3Toe die offisier hoor dat Jesus in die dorp is, het hy gou ’n paar van die Joodse leiers in Kapernaum gevra om na Jesus toe te gaan. “Vra Hom om na my huis toe te kom en my werker gesond te maak,” het die offisier gesê.
4Toe die mans by Jesus kom, het hulle Hom vertel wat aan die gang was en Hom gesmeek om na die Romeinse offisier se huis toe te gaan. “Weet U, hy is ’n wonderlike man. As daar nou een persoon is wat ’n wonderwerk verdien, is dit daardie Romeinse offisier. 5Hy beteken so baie vir ons mense. Hy het selfs ons sinagoge hier in Kapernaum vir ons gebou,” het hulle vir Jesus gesê.
6Jesus het ingestem en saam met hulle gegaan. Toe hulle so ’n entjie van die offisier se huis af was, het hy van sy vriende na Jesus toe gestuur om vir Hom te sê: “Here, moet asseblief nie die moeite doen om verder te loop nie. 7Ek is nie belangrik genoeg dat U na my huis toe moet kom nie. Daarom het ek dit nie gewaag om na U toe te gaan nie. U kan maar net ’n woord sê, dan is my werker gesond.
8“U sien, ek is ’n offisier in die leër. Ek weet presies hoe gesag werk. Ek moet heeltyd na my bevelvoerders luister. En my soldate moet weer heeltyd na my luister. As ek vir een sê: ‘Staan op aandag!’ doen hy dit, daar op die plek. En as ek vir ’n ander soldaat sê: ‘Hardloop!’ doen hy dit ook. Dieselfde geld vir my werker. Ek kan maar net vir hom sê: ‘Maak die huis skoon!’ dan doen hy dit. So, sê net een woord. Dit is heeltemal genoeg. U is die Here. As U praat, sal die siekte moet luister!”
9Jesus was verbaas oor hierdie woorde. “Ongelooflik! Nog nêrens in die hele Israel het Ek iemand met so ’n groot geloof raakgeloop nie,” het Hy vir die skare mense gesê wat saam met Hom gestap het.
10Terwyl Jesus nog met die mense gestaan en praat het, het die werker skielik gesond geword. Toe die vriende van die offisier by sy huis aankom, was hy al weer vol lewe.
’n Seun uit die kloue van die dood gehaal
11Die volgende dag het Jesus na ’n dorp toe gegaan met die naam Nain. ’n Groot klomp mense het saam met Hom soontoe gestap. Sy dissipels was ook by.
12Toe Jesus by die ingang van Nain kom, het hulle op ’n groot groep mense afgekom wat ’n dooie na die begraafplaas buitekant die dorp gedra het. Dit was die enigste seun van ’n weduwee. Baie mense van die dorp het ook opgedaag vir die begrafnis. Hulle was saam met die weduwee hartseer oor haar seun se dood.
13Toe die Here die weduwee sien, het Hy haar uit sy hart uit jammer gekry. Hy het vir haar gesê: “Moenie huil nie.” 14Voordat iemand iets kon sê, het Jesus na die draagbaar toe gestap en dit vasgegryp. Toe die verbaasde draers tot stilstand kom, sê Jesus vir die dooie: “Jongman, word lewendig. Ek sê vir jou: staan nou dadelik op!”
15Toe gebeur daar ’n groot wonderwerk. Reg voor almal het die seun lewendig geword. Hy het orent gekom en begin praat. Jesus het hom toe aan sy ma se sorg oorgelaat.
16Die mense kon hulle oë nie glo nie. Hulle hartseer het dadelik plek gemaak vir blydskap. Met groot ontsag het hulle God se Naam begin loof en prys. “God het ’n baie belangrike boodskapper na ons toe gestuur!” het hulle uitgeroep.
17Die nuus oor hierdie wonderwerk het soos ’n veldbrand deur die hele gebied versprei, selfs deur Judea.
Johannes se groot twyfelvraag
18Johannes die Doper het intussen ook gehoor wat Jesus alles doen. Sy volgelinge het hom op hoogte gehou van al Jesus se doen en late. 19Johannes het toe twee van hulle na die Here toe gestuur om vir Hom te vra: “Is U regtig die Een wat van God af na ons toe gestuur is, of nie? Sê ons asseblief eerlik. Ons wil nie die fout maak om dalk vir die verkeerde een te wag nie.”
20-21Toe Johannes se volgelinge by Jesus kom, sê hulle: “Johannes die Doper het ons na U toe laat kom. Hy wil weet of U die Een is wat van God af na ons toe gestuur is, of nie. Sê ons asseblief eerlik. Ons wil nie die fout maak om dalk vir die verkeerde een te wag nie.”
Jesus was juis besig om ’n skare mense van allerhande siektes gesond te maak. Hy het mense bevry wat in die mag van bose geeste was en blindes laat sien. 22Jesus sê toe vir hulle: “Kyk om julle. Kyk na al die wonderwerke wat Ek doen. En luister mooi na wat Ek sê. Gaan vertel dan vir Johannes: mense wat nie kon sien nie, sien nou weer; mense wat glad nie kon loop nie, stap nou weer rond; mense wat eenkant moes bly omdat hulle melaats was, is nou heeltemal gesond; dowes kan weer hoor; mense wat dood was, leef weer, en mense wat niks het nie, hoor nou skielik dat hulle vir God baie spesiaal is.
23“Gelukkig is elkeen wat nie twyfel of Ek regtig die Een is wat van God af kom nie.”
Jesus praat oor Johannes
24Toe Johannes se volgelinge daar weg is, het Jesus verder met die groot skare oor Johannes gepraat: “Wat het julle verwag om te sien toe julle agter Johannes die woestyn in is? Die een of ander kansvatter wat niks beteken nie? Natuurlik nie! 25Of dalk ’n ryk man wat mooi klere dra? Nee. Julle weet mos dat ryk mense nie in die woestyn bly nie. Hulle sit heeldag in groot, gerieflike huise, omring met alles wat hulle begeer. 26Ek vra weer ’n keer, wat het julle verwag om te sien? ’n Boodskapper van God? Wel, dan is julle heeltemal reg. Johannes is regtig ’n profeet. 27Om die waarheid te sê, hy is die heel belangrikste profeet wat nog ooit geleef het. Wat Maleagi geskryf het, is van hom waar:
‘Ek, God, stuur iemand voor jou uit om vir almal te vertel dat jy kom. Hy sal sorg dat die mense van jou weet sodat jy jou werk makliker kan doen.’
28“Daar was nog nooit in die geskiedenis so ’n belangrike man soos Johannes nie. En tog is almal in God se nuwe wêreld waarvoor hy julle wou voorberei belangriker as hy, selfs die heel onbelangrikste persoon.”
29Toe die mense en diegene wat gewoonlik as sondaars beskou is, hoor wat Jesus sê, het hulle God se Naam grootgemaak. Want hulle almal is met die doop van Johannes gedoop. 30Maar die Fariseërs en die kenners van die wet het hulle natuurlik nie gesteur aan wat God deur Johannes vir hulle gesê het nie. Daarom dat hulle botweg geweier het om hulle deur Johannes te laat doop. 31Toe sê Jesus: “Kom Ek gebruik ’n voorbeeld om te verduidelik hoe hardkoppig hierdie spul mense is. 32Ja, hulle is soos ’n klomp bedorwe kinders wat op ’n partytjie mekaar sit en verwyt: ‘Ons speel die regte musiek, maar julle wil nie dans nie. Ons speel selfs vir julle ’n klomp treurige liedjies, maar julle sit daar soos ’n spul dooies en maak asof julle dit nie hoor nie.’ Hierdie geslag is net soos daardie kinders wat met niks tevrede is nie. Hulle vind gedurig fout met alles.
33“Kyk net: Johannes die Doper het in die woestyn gaan bly. Hy het glad nie lekker kos gehad om te eet nie, nie eens ’n stukkie vars brood of ’n bietjie wyn nie. En wat sê die mense toe van hom? ‘Hy is van die duiwel besete!’
34“Toe kom Ek, die Seun van die mens. Ek het dikwels saam met die mense geëet en gedrink. En wat sê julle toe? ‘Kyk, Hy’s ’n regte vraat en ’n suiplap! Hy kuier graag saam met sondaars en daardie spul wat ons godsdienstige wette verwerp.’
35“Ja, al wat hierdie mense doen, is om fout te vind. Maar gelukkig sal diegene wat doen wat God vra, weet wat die waarheid is.”
Goeie nuus vir iemand wat al die reëls oortree het
36Op ’n dag het ’n Fariseër met die naam Simon vir Jesus uitgenooi om by hom te kom eet. Daar aangekom, het Jesus saam met Simon en ’n paar ander mans by die tafel gaan aansit.
37In dieselfde dorp het daar ook ’n vrou gebly wat ’n baie slegte lewe gelei het. Toe sy hoor dat Jesus by Simon se huis gaan eet het, was sy baie opgewonde. Sy het toe ’n bottel met baie duur parfuum gevat en reguit na Simon se huis toe gegaan. 38Sy wou Jesus se voete gaan salf om vir Hom te wys hoeveel respek sy vir Hom het. Toe sy by Simon se huis kom, het sy ongenooid ingestap, tussen al die mans deur, tot by Jesus.
Toe die vrou agter Jesus op haar knieë gaan staan, het sy skielik in trane uitgebars. Haar trane oor haar stukkende lewe het toe op Jesus se voete geval. Sy het sy voete haastig met haar hare afgedroog. Daarna het sy sy voete gesoen en met die duur parfuum gesalf.
39Simon was baie ontsteld oor wat hierdie vrou in sy huis aangevang het. Hy het goed geweet wie sy was. Hy dink toe in die stilligheid by homself: “As hierdie Jesus regtig ’n boodskapper van God is, sal Hy mos weet dat dié vrou wat nou aan Hom raak ’n groot sondaar is. Dan sal Hy haar wegjaag, want sy is besig om Hom onrein te maak.”
40Jesus het baie goed geweet wat Simon dink. Hy sê toe vir hom: “Simon, daar is iets wat Ek graag vir jou wil vertel.”
“Praat maar. U is mos die leermeester. Ek luister,” het Simon geantwoord.
41Jesus vertel toe vir hom ’n kort verhaaltjie: “Twee mans het geld aan ’n bankbestuurder geskuld; die een 80 000 rand, en die ander 8 000 rand. 42Maar hulle kon nie hulle skuld betaal nie. Toe besluit die bestuurder na ’n ruk om hulle skuld af te skryf. Sê vir My: Wie van hierdie twee mans was die blyste? Wat dink jy?”
43“Die een wat die meeste geld geskuld het,” het Simon geantwoord.
“Jy is heeltemal reg,” het Jesus gesê.
44Toe draai Jesus na die vrou toe terwyl Hy nog met Simon praat. “Simon, jy het gesien wat hierdie vrou alles vir My gedoen het. Baie meer as jy. Jy het nie eens die moeite gedoen om water by jou deur neer te sit sodat die stof van my voete afgewas kon word toe Ek hier aangekom het nie. Maar hierdie vrou het my voete met haar trane gewas en met haar hare afgedroog.
45“Jy het My ook nie baie hartlik ontvang nie, nie eens ’n warm handdruk of ’n vriendelike omhelsing gegee nie. Maar hierdie vrou kon nie ophou om my voete te soen nie.
46“Jy het ook nie ’n geskenk vir My gehad nie, nie eens ’n bietjie reukolie wat Ek aan my hare kon sit om lekker te ruik nie. Maar hierdie vrou het sommer ’n hele bottel reukolie oor my voete uitgegooi.
47“Ja, hierdie vrou het baie lelike dinge aangevang. Maar dis nou verby. Haar sondes is vergewe. God dink nie meer daaraan nie. Daarom doen sy al hierdie wonderlike dinge vir My. Jy het nie die vaagste idee wat dit vir ’n sondaar soos sy beteken om deur God vergewe te word nie. Daarom dien jy Hom so halfhartig.”
48Jesus kyk toe na die vrou en sê vir haar: “Ek het baie goeie nuus vir jou. Jou sondes tel nie meer by God nie.”
49Al die ander mense aan tafel het onder mekaar gesê: “Wie is hierdie man dat hy selfs die mag het om sondes te vergewe? Net God kan tog so iets doen!”
50Jesus het vir die vrou gesê: “Dit wat jy vandag gedoen het, wys dat jy in God glo. Jou saak met Hom is nou in orde. Gaan leef in vrede met God.”

Currently Selected:

Lukas 7: DB

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in

YouVersion uses cookies to personalize your experience. By using our website, you accept our use of cookies as described in our Privacy Policy