YouVersion Logo
Search Icon

Lukas 5

5
Jesus se eerste dissipels
1Op ’n dag het Jesus by die See van Galilea gepreek. Daar was so ’n groot klomp mense dat hulle mekaar omtrent vertrap het om Hom behoorlik te kon sien. Jesus maak toe ’n plan. 2Hy het gesien dat twee vissersbote teen die kant van die see vasgemeer lê. Die vissermanne het pas uit hulle bote geklim en was besig om hulle nette skoon te maak. 3Jesus gaan klim toe in Simon se boot en vra hom om ’n entjie van die kant af weg te vaar. Hy het in die boot gaan sit en van daar af met die skare gepraat.
4Later, toe Jesus klaar gepraat het, sê Hy vir Simon: “Vat die boot dieper in die see in en gooi dan weer julle visnette in.”
5Simon antwoord toe: “Ons het die hele nag op die see deurgebring en ons het net mooi niks gevang nie. Maar omdat U so sê, sal ek my visnette weer ’n keer laat sak!”
6So gesê, so gedaan. Skaars het Simon sy nette ingegooi of hulle was propvol vis. Daar was so baie vis dat die nette wou skeur. 7“Kom help ons. Maak gou!” het hy vir sy vriende in ’n ander boot daar naby hulle geskree. Later was albei bote vol vis. Hulle was so swaar gelaai dat hulle amper gesink het.
8Simon Petrus was verslae oor wat gebeur het. Hy het op sy knieë voor Jesus neergeval en gesê: “Here, U kan nie langer by my bly nie, want ek is ’n groot sondaar.”
9Petrus en almal saam met hom op die bote was verstom oor hierdie groot visvangs. 10Ook Petrus se vriende, Jakobus en Johannes, die seuns van Sebedeus, was daardeur aangegryp.
Jesus sê toe vir Petrus: “Moenie bang wees nie. Jou werk begin nou eers. Van nou af gaan jy mense vang. Jy sal maak dat baie mense in My glo.”
11’n Rukkie later, toe hulle die bote veilig vasgemeer het, het hierdie mans hulle bote net daar laat staan en volgelinge van Jesus geword.
Jesus maak ’n melaatse gesond
12In een van die dorpe in Galilea waar Jesus aangedoen het, was daar ’n melaatse. Melaatsheid was ’n velsiekte wat veroorsaak het dat mense eenkant moes gaan bly. Toe hy vir Jesus sien, het hy laag voor Hom op die grond gebuig. Toe smeek hy Jesus: “Here, as U wil, kan U my gesond maak. Dan sal ek weer rein wees. Dan kan ek weer ’n gewone lewe lei; ek sal weer vriende hê en in die tempel kan gaan aanbid.”
13Jesus sit toe sy hand op die melaatse en sê vir hom: “Ek wil dit graag doen. Word gesond. Nou dadelik!” Net daar het die velsiekte aan die man se lyf verdwyn. Sy vel was glad en skoon. Hy was heeltemal gesond.
14Jesus sê toe vir hom: “Moet asseblief nie vir almal gaan vertel wat met jou gebeur het nie. Gaan reguit na die priester toe. Wys vir hom dat jy gesond is. Nadat hy gesien het dat jou vel weer normaal is, moet jy die offer bring wat Moses voorgeskryf het vir mense wat gesond geword het. So sal almal kan sien wat met jou gebeur het. Jou dade sal harder praat as al jou woorde.”
15Die nuus oor Jesus het soos ’n veldbrand versprei. ’n Groot massa het na Hom toe gestroom om te hoor wat Hy sê en om gesond gemaak te word.
16Jesus moes gereeld na stil plekke toe uitwyk om ’n bietjie stilte te hê en om te bid.
Jesus maak ’n man wat lam is gesond
17Op ’n dag was Jesus weer besig om die mense te leer. Baie godsdienstige leiers het ook kom luister na wat Hy te sê gehad het. Fariseërs en kenners van die wet van Moses van oor die hele Galilea en Judea, selfs uit Jerusalem, was in die gehoor. Deur die krag van die Here het Jesus baie siekes gesond gemaak.
18Intussen het daar ’n klompie mense aangekom wat ’n verlamde man op ’n draagbaar gedra het. Hulle wou hê dat Jesus hom gesond moet maak. 19Maar daar was so baie mense dat hulle nie naby Hom kon kom nie. Hulle het toe op die dak geklim, ’n klomp dakteëls uitgehaal en die man op die draagbaar met toue laat afsak tot reg voor Jesus.
20Jesus was baie beïndruk met hulle geloof. Hy sê toe vir die verlamde man: “Vriend, Ek gaan jou ’n goeie rede gee om weer te lag. Ek gaan sorg dat God nie meer vir jou kwaad sal wees oor jou sondes nie. Jou sondes is vergewe.”
21Hierdie woorde het die Joodse godsdienstige leiers lelik omgekrap. “Wie dink hy is hy dat hy sulke dinge sê?” het hulle onder mekaar gevra. “Hy praat mos nou godslasterlik. Hy het geen respek vir God nie. Net God kan tog sondes vergewe.”
22Jesus het geweet dat hulle staan en skinder. Daarom het Hy toe vir hulle gesê: “Wat dink julle gaan julle bereik met julle geskinder? 23Sê ’n bietjie vir My wat is die maklikste: om vir iemand te sê: ‘Jou sondes is afgeskryf’ of: ‘Staan op en loop gesond hier weg’? Natuurlik is dit nie moeilik om enigeen van hierdie dinge te sê nie. Woorde kom maklik. 24Maar om dit te laat gebeur is heeltemal ’n ander saak. Wel, julle weet baie goed dat iemand net sondes kan vergewe as hy die mag het om dit te doen. Ek, die Seun van die mens, het daardie mag. Kyk nou mooi: Ek gaan dit doen sodat julle kan besef met wie julle te doen het.”
Jesus sê toe vir die lam man: “Staan op. Vat jou draagbaar en gaan terug na jou mense toe.”
25Die man het nie ’n oomblik gehuiwer nie. Voor almal het hy opgestaan, sy draagbaar gevat en na sy huis toe gestap. Hy het God hardop geloof en geprys.
26Die mense kon hulle oë nie glo nie. Hulle is met groot respek vir God vervul. “Nou het ons regtig gesien hoe wonderlik God is,” het hulle vir mekaar gesê.
Levi word ’n dissipel van Jesus
27Van daar af het Jesus verder gestap tot by die kantoor van ’n man wat belasting ingevorder het. Sy naam was Levi. Toe Jesus vir Levi daar by sy kantoor sien sit, sê Hy vir hom: “Volg My!” 28Levi het nie op hom laat wag nie. Hy het alles waarmee hy besig was net so gelos en saam met Jesus gestap.
29Van daar af is hulle na Levi se huis toe. Levi het gou ’n groot klomp van sy vriende vir ete oorgenooi. Hy was so bly oor wat met hom gebeur het dat hy voor almal vir Jesus wou dankie sê. ’n Groot groep tollenaars en ’n klomp ander mense saam met wie die godsdienstige leiers nooit aan ’n tafel gesien wou wees nie, het toe saam met Jesus en Levi kom feesvier.
30Die godsdienstige leiers het gesien dat Jesus saam met al hierdie mense aan tafel sit. Hulle was baie geskok daaroor. Hulle het toe vir sy dissipels gevra: “Hoe kry julle dit reg om saam met ’n klomp skelms en sondaars te eet en te drink? Julle weet mos dat rein mense nie saam met onrein mense mag eet nie.”
31Jesus het gehoor wat hulle vir sy dissipels sê. Hy antwoord hulle toe: “Wat dink julle is dokters se werk? Moet hulle heeltyd gesonde mense oppas? Of moet hulle siek mense help? Julle weet mos wat die antwoord is: dokters is daar vir siek mense. 32Wel, Ek ook. Dis nie my werk om mense wat klaar aan God gehoorsaam is, weer ’n keer na Hom toe te lei nie. Ek het gekom om mense wat glad nie in Hom glo nie se oë oop te maak.”
Moet gelowiges vas?
33Die godsdienstige leiers sê toe vir Jesus: “Jy moet net sien hoe toegewyd al Johannes die Doper se volgelinge is. Hulle is so ernstig in hulle godsdiens dat hulle lang tye niks eet nie. Hulle vas en bid gereeld. Die Fariseërs doen dit ook. Maar jou dissipels steur hulle glad nie daaraan nie. Hulle eet en drink net die hele tyd.”
34Jesus sê toe vir hulle: “Julle het nie die vaagste idee waaroor godsdiens regtig gaan nie. Kyk, as mense by ’n troue is, staan hulle mos nie met lang gesigte en huil nie. Hulle vier dan fees, nie waar nie? Dan eet en drink hulle omdat hulle saam met die bruidegom bly is. 35Later, as die troue verby en die bruidspaar weg is, kan hulle weer met hulle gewone lewe aangaan. Dan sal hulle weer vas.
36“Kom Ek verduidelik wat Ek bedoel met ’n voorbeeld: as iemand ’n gat in ’n ou stuk klere wil regmaak, lap hy dit mos nie met nuwe materiaal wat baie sal krimp nie. Met die eerste was gaan die nuwe materiaal krimp en dan kom daar ’n yslike gat in die ou klere.
37“Nog ’n voorbeeld: ’n mens gooi ook nie nuwe wyn in ou, verweerde sakke nie. Anders skeur die sakke en dan loop al die wyn uit. 38Nee, ’n mens sit nuwe wyn in nuwe sakke. Dan kan dit goed verouder. 39Mense wat sulke goeie wyn gedrink het, wil dan glad nie weer ander wyn drink nie. ”

Currently Selected:

Lukas 5: DB

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in

YouVersion uses cookies to personalize your experience. By using our website, you accept our use of cookies as described in our Privacy Policy