YouVersion Logo
Search Icon

Lukas 18

18
Die verhaal van ’n regsgeleerde
wat uiteindelik simpatie betoon het
1Jesus het vir sy volgelinge die volgende verhaal vertel om hulle te leer om aan te hou bid: 2“Eendag was daar ’n baie kwaai regsgeleerde. Hy was vir g’n mens in sy stad bang nie. Ook nie eens vir God nie. 3In dieselfde stad het daar ook ’n vrou gebly wie se man dood was. Sy was betrokke in ’n regsgeding met iemand anders. Sy het kort-kort na die hardkoppige regsgeleerde toe gekom en hom gesmeek om haar saak vir haar te hanteer. 4Maar hy het botweg geweier. Op ’n dag het hy egter vir homself gesê: ‘Ek weet nie wat met my aangaan nie. Ek’s vir niemand bang nie, nie eens vir God nie. 5En tog dink ek ek gaan daardie weduwee help. Wie weet, netnou maak sy my naam sleg, of dalk kom gee sy my sommer nog voor almal ’n oorveeg.’”
6Die Here Jesus sê toe: “Sien julle dat daardie hardkoppige regsgeleerde op die ou end bereid was om die vrou te help? 7Wat sal God dan nie alles doen vir sy kinders wat Hy persoonlik uitgekies het om in Hom te glo nie? 8Hy luister na almal wat dag en nag tot Hom bid. Hy sal uitkoms gee. En gou ook! Hou maar net aan om te bid.
“Ek is egter oor een ding bekommerd. Glo julle regtig wat Ek sê? Sê nou Ek kom later terug na die wêreld toe en Ek vind dan uit dat julle nooit aanhou glo het nie? Glo en bid, want een van die dae breek God se nuwe wêreld aan.”
Die verhaal van die
Fariseër en die belastinggaarder
9Baie “godsdienstige” mense het gedink hulle saak met God is in orde omdat hulle allerhande godsdienstige wette streng gehoorsaam. Hierdie mense het op almal neergesien wat nie al dié wette gehou het nie. Jesus het net mooi niks van hierdie godsdienstige snobisme gehou nie. Hy het toe vir die mense die volgende verhaal vertel: 10“Op ’n dag het twee mans daar na die tempel in Jerusalem toe gegaan om God te aanbid. Die een was ’n Fariseër en die ander een ’n belastinggaarder. (Hierdie belastinggaarders was bekend as tollenaars. Hulle het nie die godsdienstige wette gehoorsaam nie. Daarom is hulle as groot sondaars beskou.)
11“Die Fariseër het toe begin bid: ‘God, ek sê vir U dankie dat ek nie ’n slegte mens is nie. Kyk net: ek steel nie ander mense se goed nie. Ek lieg en bedrieg nie. Ek slaap ook nie rond nie. Ja, en ek is ook nie so ’n groot sondaar soos hierdie tollenaar wat langs my staan nie.
12“‘O ja, kyk net wat doen ek alles: ek vas twee keer elke week. Ek gee ook ’n tiende van elke sent wat ek verdien.’
13“Die tollenaar het daar eenkant gaan staan. Hy het so skaam gekry oor al sy sondes dat hy nie eens wou opkyk nie. Hy het sy kop laat sak, met sy hand op sy bors geslaan en gesê: ‘God, ek is ’n sondaar. Help my! Wees my genadig!’”
14Toe sê Jesus vir die mense wat na Hom luister: “Hierdie tollenaar se gebed is dadelik verhoor. God het sy lewe in ’n oogwink splinternuut gemaak. Maar die Fariseër het met leë hande daar weggestap. Hy het gedink hy lewe goed genoeg om ’n plek in die hemel te kry. Maar dit werk nie so nie. Almal wat te veel van hulleself dink om vir God te vra om hulle te red, sal nog baie spyt wees. Maar almal wat voor God kom buig en op Hom vertrou om hulle lewe splinternuut te maak, sal verhoog word.”
Jesus en die kinders
15Kort daarna het ouers hulle klein kindertjies na Jesus toe gebring in die hoop dat Hy sy hande op hulle sou sit en vir hulle sou bid. Maar die dissipels het hulle weggejaag. Hulle wou nie hê dat die mense Jesus met sulke “onbelangrike” dinge lastig val nie. 16Toe Jesus dit sien, het Hy egter dadelik vir sy dissipels gesê: “Wag! Wat vang julle aan? Moenie die kindertjies wegjaag nie. Laat hulle na My toe kom. 17God se nuwe wêreld is juis vir almal soos hulle bedoel. By Hom is daar plek vir almal wat soos klein kindertjies van hulle hemelse Vader afhanklik is. Weet julle, as julle nie verander en soos kinders word nie, sal julle nooit die binnekant van God se nuwe wêreld sien nie.”
God of geld: maak jou keuse
18Op ’n dag het ’n baie belangrike man vir Jesus gesê: “Goeie Leermeester, sê my, wat moet ek doen sodat ek vir altyd in God se wêreld kan bly?”
19“Vir wat kom spreek jy My hier voor almal aan as ‘goeie Leermeester’?” het Jesus vinnig gereageer. “Jy weet mos dat daar net Een is wat regtig goed is: God. Maar nou ja, jy moet God se voorskrifte gehoorsaam. 20En jy ken tog al God se voorskrifte: jy mag nie met iemand buite jou huwelik ’n seksuele verhouding hê nie, jy mag nie moord pleeg nie, jy mag nie steel nie, jy mag nie leuens vertel nie, en jy moet respek hê vir jou pa en ma.”
21“Ag wat, ek doen al daardie dinge van kleins af,” sê die man. 22Daarop antwoord Jesus: “Wel, dan is daar nog net een klein dingetjie wat jy moet doen. Gaan verkoop al jou besittings. Gee dan al die geld vir die armes. Laat staan alles waarmee jy besig is en word een van my volgelinge. As jy dit doen, het jy vir jou ’n kosbare skat in die hemel bymekaargemaak. Dan sal jy definitief ’n plek in God se nuwe wêreld kry.”
23Hierdie woorde het die man baie omgekrap, want hy was skatryk. Hy was nie van plan om alles wat hy het aan sy familie en aan die armes uit te deel nie.
24Toe Jesus agterkom hoe omgekrap die ryk man is, sê Hy vir sy dissipels: “Sien julle, dis glad nie maklik vir iemand wat ryk is om ’n plek in God se nuwe wêreld te kry nie. 25Dit is selfs vir ’n groot kameel makliker om deur die klein gaatjie van ’n naald te stap as wat dit vir ’n ryk persoon is om sy voete in God se nuwe wêreld te sit.”
26Die omstanders was verbysterd oor hierdie woorde. Hulle vra Hom toe: “Maar wie op aarde kan dan gered word?”
27Jesus sê toe vir hulle: “Ja, julle is reg. Op julle eie kan julle nooit daar uitkom nie. Maar God kan enigiets doen. Vertrou op Hom.”
28Maar Petrus was nog nie tevrede nie: “Wag ’n bietjie, Here! Sê asseblief reguit vir ons wat ons kans is om daar uit te kom. Kyk, ons het immers al ons besittings verkoop en u volgelinge geword.”
29“Ek het baie goeie nuus vir julle!” het Jesus dadelik geantwoord. “Ek gee julle vandag die versekering dat almal wat iets groots moes opoffer om te doen wat God vra, definitief ’n plek in sy nuwe wêreld sal kry. As jy jou familie moet opoffer omdat jy in My glo, sal jy daarvoor vergoed word. Sommer nou al. 30Ja, jy sal elke dag oorlaai word met God se goedheid. En jy sal vir seker ook ’n plek kry in sy nuwe wêreld.”
Jesus is hier om te ly
31Op ’n dag het Jesus die twaalf dissipels eenkant toe geroep. Hy sê toe vir hulle: “Julle weet dat ons op pad is Jerusalem toe. Ek moet soontoe gaan om alles te laat waar word wat daar in die Bybel oor die Seun van die mens geskryf is. 32Daar in Jerusalem gaan ’n spul ongelowiges My vang. Hulle sal My voor almal spot en beledig en slaan. 33Uiteindelik sal hulle My ook doodmaak. Maar moenie bekommerd wees nie; die dood is nie sterk genoeg om My vir altyd in sy greep vas te hou nie. Ek sal op die derde dag weer lewendig word.”
34Die dissipels het egter niks verstaan van wat Jesus vir hulle sê nie. Die tyd was nog nie reg dat hulle dit alles sou verstaan nie.
’n Blinde begin sien
35Later, toe Jesus naby Jerigo kom, sit daar ’n blinde langs die pad en bedel. 36Die man het agtergekom ’n groot klomp mense stap by hom verby. “Wat is aan die gang?” vra hy toe.
37“Jesus van Nasaret gaan hier verby,” het iemand geantwoord. 38Die blinde man het dadelik hard begin skree: “Jesus, Seun van Dawid, kry my jammer, asseblief!” 39Maar die mense het vir hom gesê: “Bly stil! Hou op om so te skree!” Dit het nie gehelp nie. Die blinde het net nog harder geskree: “Jesus, Seun van Dawid, kry my jammer, asseblief!”
40Jesus gaan staan toe stil en sê vir die mense: “Bring daardie man wat so skree na My toe.”
41Toe die blinde naby Jesus kom, vra Hy hom: “Wat wil jy hê moet Ek vir jou doen?”
“Ag, Here, ek wil so graag sien!” antwoord hy.
42“Nou toe, sien dan! Jou wens het waar geword omdat jy glo,” het Jesus gesê.
43Dadelik kon die man weer sien. Hy kon sy oë nie glo nie. Vol blydskap het hy by die res van die skare ingeval en agter Jesus begin aanstap. Hy het oor en oor vir God dankie gesê omdat Hy so goed vir hom is. Die mense was net so opgewonde. Hulle het ook God se Naam grootgemaak oor wat gebeur het.

Currently Selected:

Lukas 18: DB

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in

YouVersion uses cookies to personalize your experience. By using our website, you accept our use of cookies as described in our Privacy Policy