YouVersion Logo
Search Icon

Levitikus 18

18
Moenie soos die ander volke leef nie
1Die Here het nog verder vir Moses gesê 2om vir die Israeliete te sê: “Omdat Ek, die Here, julle God is, 3mag julle nie maak soos die mense van Egipte by wie julle gebly het nie. Julle moet ook nie leef soos die mense van Kanaän waarnatoe Ek met julle op pad is nie. Julle mag nie hulle gewoontes aanleer nie. 4Leef volgens my voorskrifte en hou by my reëls, want Ek, die Here, is julle God. 5Doen wat Ek vir julle sê. Iemand wat na My luister, se lewe sal voorspoedig wees. Ek is die Here.”
Seksuele omgang wat nie reg is nie
6“’n Persoon mag nie seks hê met mense uit sy familie nie. Ek is die Here. 7Moenie jou pa in die skande bring en by jou ma slaap nie. Sy is jou ma en jy mag nie seks met haar hê nie. 8Jy mag ook nie by een van jou pa se ander vroue slaap nie. Dit is sy vrou. 9Jy mag ook nie by jou suster slaap nie. Dit maak geen verskil of dit jou halfsuster is aan jou pa se kant of aan jou ma se kant en of sy nou in dieselfde huis grootgeword het as jy of in ’n ander huis nie. 10Jy mag ook nie seks hê met jou kleindogter nie, of dit nou jou seun of jou dogter se kind is. Dis jou eie vlees en bloed. 11Met ’n dogter van een van jou pa se ander vroue mag jy ook nie seks hê nie. Jou pa is ook haar pa en sy is jou eie familie. 12-13Jy mag ook nie by jou tannie slaap nie, of dit nou jou pa se suster of jou ma se suster is. Sy is julle bloedfamilie. 14Moenie jou oom in die skande bring en by sy vrou slaap nie. Sy is tog jou tannie. 15Los jou skoondogter uit, want dit is jou seun se vrou. 16Moenie met jou skoonsuster lol nie. Jy sal jou broer in die skande bring. 17Jy mag nie tegelyk ’n seksuele verhouding hê met ’n vrou en haar dogter of haar kleindogter nie, of dit nou aan haar seun of haar dogter se kant is. Hulle is haar bloedfamilie. Dit is lelik om so iets te doen. 18Moenie jou skoonsuster as byvrou neem terwyl jou vrou nog lewe nie. 19Moenie by ’n vrou kom wat menstrueer om by haar te slaap nie. Sy mag in daardie tyd nie by die Here se tent kom nie. 20Jy moet ook nie jouself in die skande bring en by iemand uit jou volk se vrou slaap nie. 21Jy mag nooit enige van jou kinders aan die afgod Molek gee en so jou God se Naam deur die modder sleep nie. Ek is tog mos die Here. 22Jy mag nie met ’n ander man seksueel verkeer nie. Dit is afstootlik. 23’n Man moenie homself verwerplik maak en seksueel met ’n dier verkeer nie. ’n Vrou mag dit ook nie met ’n dier doen nie. Dit is ’n skande.”
Moenie maak soos ander nie
24“Julle moenie julleself met enige van hierdie dinge vuil maak nie. Dit is omdat hulle hierdie soort goed doen dat Ek niks te make wil hê met die nasies wat Ek voor julle uit die land uit wegjaag nie. 25Selfs die land het vir my so vuil geword dat Ek dit moes skoonmaak met my straf. Die land gaan van sy inwoners ontslae raak asof hulle uit iemand se mond uitgespoeg word.
26“Julle moet by my reëls en my voorskrifte hou. Gebore Israeliete sowel as die buitelanders wat tussen julle woon, moet oppas om niks van hierdie lelike dinge te doen nie. 27Die mense wat voor julle in hierdie land gewoon het, doen hierdie soort dinge. Dit het die land met vuilheid besmet. 28Julle moet nie ook die land met verkeerde dinge laat vuil word sodat dit van julle ontslae moet raak soos dit die nasies voor julle uitgespoeg het nie. 29Enigiemand wat enige van hierdie gruwelike dinge aanvang, sal uit sy volk weggejaag word. 30Handhaaf die standaarde wat Ek gestel het, sodat julle nie dieselfde afskuwelike dinge doen waaraan die inwoners voor julle hulle skuldig gemaak het nie. Moenie julleself met daardie dinge verwerplik maak nie. Ek is die Here julle God.”

Currently Selected:

Levitikus 18: DB

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in

YouVersion uses cookies to personalize your experience. By using our website, you accept our use of cookies as described in our Privacy Policy