YouVersion Logo
Search Icon

Josua 1

1
1Na die dood van Moses, die groot dienaar van die Here, het die Here met Josua kom praat. Hy was die seun van Nun. Josua was vroeër ook Moses se assistent. Die Here het vir hom gesê: 2“Noudat my dienaar Moses dood is, moet jy Israel deur die Jordaan na die land toe lei wat Ek self aan hulle gaan gee. 3Ek maak aan jou dieselfde belofte wat ek vroeër aan Moses gemaak het: elke plek waardeur julle trek, sal Ek aan julle gee. 4Die grense van julle land sal strek van die woestyn in die suide tot by die Libanonberge in die noorde, en van die Eufraatrivier in die ooste deur die gebied van die Hetiete tot by die Middellandse See in die weste. 5Jou hele lewe lank sal niemand jou kan oorwin nie. Ek sal by jou wees soos Ek by Moses was. Ek sal jou nooit in die steek laat of jou alleen los nie. 6Wees sterk, vertrou My blindelings. Jy is die leier wat hierdie volk die land moet inlei wat Ek met ’n plegtige belofte aan hulle voorouers beloof het. 7Wees sterk. Vertrou My met alles in jou. Maak seker dat jy al die wette nakom wat Moses vir jou gegee het. Gehoorsaam selfs die heel kleinste voorskrifte, dan sal jy suksesvol wees in alles wat jy ook al aanpak. 8Jy moet hierdie wetboek van vroeg tot laat lees. Dink dag en nag daaroor na en maak seker dat jy alles doen wat daarin geskryf staan. Dan sal dit met jou goed gaan. Dan sal jy sukses behaal. 9Onthou, dit is Ek self wat jou hierdie opdrag gee: wees sterk en vertrou My met alles in jou! Moenie vir iets of iemand skrik of bang wees nie, want Ek, die Here jou God, is by jou waar jy ook al gaan.”
Josua se opdragte aan die volk
10Josua sê toe vir die amptenare van die volk: 11“Gaan deur die kamp en sê vir die mense: Kry vir julle padkos reg, want oor drie dae trek ons deur die Jordaan om die land in besit te neem wat die Here julle God vir julle gee.”
12Toe roep Josua die stamme van Ruben en Gad en die halwe stam van Manasse bymekaar. Hy sê vir hulle: 13-14“Julle onthou mos dat die Here se dienaar, Moses, vir julle gesê het: ‘Die Here julle God sal hierdie stuk grond aan die oostekant van die Jordaan vir julle gee as julle nuwe woonplek. Laat julle vroue, kinders en vee dan solank hier bly terwyl julle met julle wapens voor die res van die stamme uittrek om hulle te help om die land in te neem. 15Nadat die Here vir julle volksgenote ook ’n rusplek gegee het soos vir julle, en nadat julle hulle gehelp het om die land wat die Here julle God vir hulle gee, in te neem, kan julle weer hierheen terugkom. Dan kan julle hier aan die oostekant van die Jordaan kom bly. Dit is die gebied wat Moses, die Here se dienaar, vroeër aan julle gegee het.”
16Hulle het Josua geantwoord: “Ons sal alles doen wat jy sê en ons sal gaan waarheen jy ons stuur. 17Ons sal na jou luister soos ons na Moses geluister het. Mag die Here jou God by jou wees soos Hy by Moses was. 18Enigeen wat nie doen wat jy sê nie, moet doodgemaak word. Wees jy maar net sterk en vasberade!”

Currently Selected:

Josua 1: DB

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in

YouVersion uses cookies to personalize your experience. By using our website, you accept our use of cookies as described in our Privacy Policy