YouVersion Logo
Search Icon

Johannes 1

1
1Die Woord, deur wie ons God leer ken, was reg aan die begin reeds daar. Die Woord was by God en die Woord was God.
2Voor enigiets nog gemaak was, was Jesus al by God. Hy het alles in die skepping gemaak. Niks het op ’n ander manier ontstaan nie. 3Hy het alles gemaak.
4Jesus het ook lewe aan die skepping gegee. Omdat Jesus mense lewe gegee het, kon hulle die regte besluite neem, soos iemand wat ’n lig het om in die donker mee te loop. 5Mense wat reg lewe, het soos ’n helder lig in die donker, sondige wêreld ingeskyn. Hierdie donker wêreld wou niks met hulle te doen hê nie, maar kon hulle ook nie keer nie.
6Johannes het ook op die toneel verskyn. God het hom gestuur om vir almal te kom vertel van Jesus wat soos ’n helder lig in die donker kom skyn het. 7Sy sterk boodskap oor die Lig moes mense oortuig om in die Lig te glo. 8Hy self was nie die Lig nie. Hy het maar net aan die mense kom vertel waar om die Lig te kry.
9Jesus, die ware, Goddelike Lig, was op pad na die wêreld toe. Hierdie Lig se strale sou op die mense in hierdie wêreld val. 10Daar onder die gewone mense van hierdie wêreld sou die Lig kom skyn. Hy self het mos die wêreld gemaak. 11Eienaardig genoeg het die mense van die wêreld Hom nie herken toe Hy gekom het nie. Om die waarheid te sê, Hy het onder sy eie mense beweeg en opgetree, maar hulle het Hom selfs nie erken nie en wou nie glo wie Hy regtig is nie.
12Daar was egter uitsonderings. Daar was mense wat Hom met oop arms ontvang het. Hulle het Hom en dit waarvoor Hy staan ten volle in geloof aanvaar. Omdat hulle so op Hom vertrou, het Jesus alles vir hulle gedoen wat nodig was om God se kinders te word. 13God self het daarvoor gesorg dat hulle as sy kinders gebore word. En dit is iets heeltemal anders as om die kind van ’n gewone aardse pa te wees wat bloot besluit het dat hy ’n kind wil hê.
14Jesus het toe as mens aarde toe gekom. ’n Mens kan sê Hy het onder ons kom huis opsit. Ons het gesien hoe belangrik en wonderlik Hy is. Net die unieke Seun van die Vader is so groot en belangrik. Hy was soos ’n fontein van die goeie dinge wat God vir ons so onverdiend wil gee. By Hom kon ons ontdek wat regtig waar en eg is.
15Daarom vertel Johannes dit vir almal wat hy kan: “Jesus is die Een van wie ek gepraat het. Hy verskyn wel na my op die toneel, maar Hy is baie belangriker as ek. Voor ek nog gebore was, het Hy alreeds bestaan.” 16Hy het ’n oorvloed van geskenke van God af wat Hy vir ons wil gee. Daar is geen keer aan al die goeie dinge wat God vir ons gee nie, al verdien ons dit nie.
17God het die wet deur Moses gegee. Jesus het egter vir ons die wonderlike goedheid van God af gebring. By Hom kon ons leer wat die waarheid is.
18Niemand het God nog ooit gesien nie. Die unieke Seun, self God, is baie naby aan sy Vader. Daarom kan Hy ons vertel wie sy Vader is. Hy kan ons leer wat ons van God moet weet.
Daar is die Lam van God
19Die Jode uit Jerusalem het ’n afvaardiging priesters en Leviete wat in die tempel gewerk het na Johannes toe gestuur. Hulle moes kom uitvind wie Johannes presies was. Daar gekom, vra hulle hom: “Wie is jy?”
20Johannes het met groot sekerheid en oortuiging gereageer. “Ek is nie die Messias nie,” het hy openlik en beslis gesê.
21So het die ondervraging aangegaan: “Wie is jy? Is jy dalk Elia wat teruggekom het?”
“Nee! Ek is nie!”
“Is jy die spesiale boodskapper van God wat sou kom?”
“Nee.”
22Ten einde raad sê die afvaardiging toe maar vir hom: “Asseblief tog, sê vir ons wie jy is. Ons kan nie sonder ’n antwoord teruggaan na die mense toe wat ons gestuur het nie. As jy nou self voor hulle kon staan en vir hulle moes sê wie jy is, wat sou jy gesê het?”
23“Ek gaan julle antwoord met die woorde van die profeet Jesaja,” sê Johannes toe.
“Ek is ’n boodskapper wat in hierdie droë en onherbergsame plek uitroep: ‘Maak ’n pad gelyk en reguit vir die Here, want Hy is aan die kom.’”
24Die ondervraers het aan die godsdienstige party van die Fariseërs behoort. 25Hierop het hulle Johannes onder kruisverhoor geneem. “Jy sê jy is nie die Messias nie. Jy sê jy is ook nie Elia of die verwagte boodskapper van God nie. Nou waarom doop jy dan soveel mense asof jy die een of ander belangrike godsdienstige persoon is?”
26“Ek doop met water,” sê Johannes toe, “maar daar tussen julle in die skare staan Iemand anders. Julle weet nog net nie van Hom nie. 27Nee, Hy gaan eers ná my op die toneel verskyn. Maar Hy is so belangrik in vergelyking met my dat ek nie eens soos ’n slaaf werd is om sy skoenrieme los te maak nie.”
28Die mense het in Betanië, oorkant die Jordaan, met Johannes gaan praat omdat hy die mense daar gedoop het.
29Die volgende dag het dit toe gebeur. Jesus het na Johannes toe gekom.
“Kyk mooi! Daar is die Offerlam van God!” het Johannes uitgeroep. “Hy gaan die mag van die sonde in die wêreld finaal breek. 30Dit is van Hom wat ek gepraat het. Ek het mos gesê dat daar Iemand ná my gaan kom, maar dat Hy baie belangriker is as ek. Immers, voor ek nog gebore was, was Hy al daar. Julle het gevra hoekom ek doop. 31Wel, ek self het nie eens mooi geweet wie Hy presies is nie. Daarom doop ek met water, want so sal God se mense Hom kan herken.”
32Dit is nie al wat Johannes te sê gehad het nie, maar hy het met oortuiging die volgende vertel: “Die Gees het voor my oë soos ’n duif uit die hemel afgekom en op Jesus neergesak en op Hom gebly. 33Wel, soos ek gesê het, ek self het nie eens geweet wie hierdie belangrike Persoon sou wees nie. God wat my gestuur het om met water te doop, het egter vir my gesê: ‘Dit is jou teken: die Gees sal voor jou oë neersak op die Een wat mense met die Heilige Gees gaan doop.’ 34Presies so het dit gebeur. Daarom sal ek voor enige hof getuig: hierdie man, ja Hy, is die Seun van God!”
Jesus se volgelinge ontdek wie Hy regtig is
35Die volgende dag was Johannes weer op sy pos. Twee van sy volgelinge was saam met hom daar. 36Jesus stap toe daar verby. Johannes het Hom gesien en gesê: “Kyk mooi! Hy is die Offerlam van God!”
37Die twee volgelinge van Johannes het hom dit hoor sê en is agter Jesus aan. 38Jesus kyk toe om.“Wie soek julle?” vra Hy vir hulle.
“Rabbi, waar bly U?” vra hulle. (Terloops, “rabbi” beteken “onderwyser”.)
39“Kom saam en kom kyk,” nooi Jesus hulle toe uit. So het dit gekom dat hulle saam is om te gaan kyk waar Hy bly. Dit was egter al laatmiddag en die son het begin water trek, met die gevolg dat die twee kuiergaste toe sommer die nag daar oorgebly het.
40Een van die twee wat op Johannes se getuienis agter Jesus aan is, was Andreas. 41Hy het daar en dan vir Simon, dit is sy broer, gaan soek. 42Toe hy hom kry, sê hy vir hom: “Ons het die Messias gekry.” (Die Griekse woord vir “Messias” is “Christus”.) Simon is toe agter Andreas aan na Jesus toe. Daar gekom, sien Jesus vir Simon en sê: “Jy is Simon uit die familie van Johannes. Hier tussen ons sal jy Sefas wees.” (“Sefas” is ’n ander woord vir “Petrus”.)
43Die volgende dag was Jesus van plan om na Galilea toe te gaan. Hy loop toe vir Filippus raak. “Kom saam met My,” nooi Jesus hom uit. 44Filippus het uit Betsaida gekom waar Andreas en Petrus ook gebly het.
45Die nuus oor Jesus het vinnig versprei. Filippus het vir Natanael gekry en hom weer vertel: “Ons het die Een gekry oor wie Moses geskryf het. Jy weet mos, dit is die Een oor wie die profete ook so geskryf het. Dit is Jesus, die seun van Josef wat in Nasaret bly.”
46“Jy speel seker. Kan daar uit Nasaret enigiets kom wat die moeite werd is?” was Natanael se reaksie.
“Kom kyk self,” het Filippus egter volgehou.
47Terwyl Natanael nog in Jesus se rigting op pad was, het Jesus al gesê: “Kyk, hier is ’n ware, egte Israeliet. Hy is eerlik en opreg. Hy het glad niks om weg te steek nie.”
48“Van waar af ken U my dan?” vra Natanael.
“Jy was nog daar onder ’n vyeboom toe het Ek jou al raakgesien, nog voordat Filippus met jou gepraat het.”
49“Rabbi, U is die Seun van God! U is die Koning van Israel!” het dit oor Natanael se lippe gerol.
50Jesus sê toe vir hom: “Jy glo en vertrou My omdat Ek maar net vir jou gesê het dat Ek jou onder die vyeboom gesien het. Eintlik het jy nog niks gesien nie! Wag maar, daar kom nog baie groter ervarings as dit.
51“Luister nou mooi na wat Ek sê: Julle sal God se woonplek in die hemel sien oopgaan. Voor julle oë sal die engele van God van die Seun van die mens af opgaan daarheen en dan terugkom na Hom toe.”

Currently Selected:

Johannes 1: DB

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in

YouVersion uses cookies to personalize your experience. By using our website, you accept our use of cookies as described in our Privacy Policy