YouVersion Logo
Search Icon

Jeremia 1

1
1In hierdie boek lees ons alles wat Jeremia gesê het. Sy pa se naam was Gilkija. Jeremia kom uit die dorpie Anatot, wat in die Benjaminfamilie se gebied is. Hy en sy familie was mense wat by die tempel van daardie tyd gewerk het. Hulle was priesters. 2Die Here wou sekere dinge vir die koning en die volk sê. Hy het Jeremia daarvoor gebruik. Hy het vir hom boodskappe gegee in die dertiende jaar wat Josia koning van Juda was (ongeveer 627 v.C.). Josia was die seun van koning Amon. 3Die Here het aangehou om vir Jeremia boodskappe te gee ook in die tyd van koning Jojakim, wat Josia se seun was, tot in die elfde jaar dat Sedekia koning was (tot 586 v.C.). In Augustus van hierdie jaar is die mense wat in Jerusalem gebly het, gevang. Die mense van Babel het die inwoners van Jerusalem uit Juda weggevat na hulle land toe. Hulle sou in Babel in ballingskap moes bly.
Die Here roep Jeremia om sy profeet te wees
4Die Here het vir my gesê: 5“Ek ken jou van altyd af. Van voor jou geboorte af het Ek jou gekies en aangestel om namens My met die nasies van die wêreld te praat.”
6Ek het geantwoord en gesê: “Nee, Here, ek kan nie goed praat nie en ek is gans en al te jonk vir dié belangrike taak.”
7Maar die Here het my geantwoord: “Moenie sê jy is te jonk nie. Jy moet na die mense toe gaan na wie Ek jou stuur en vir hulle my boodskap gee. 8Jy moet ook nie vir hulle bang wees nie. Ek belowe jou, Ek sal by jou wees en jou beskerm.” 9Toe het dit vir my gevoel of die Here met sy hand aan my mond raak. Hy het vir my gesê: “Ek sit die woorde wat jy nodig het, in jou mond. 10Ek gee jou van vandag af mag en invloed oor nasies en regerings. Party van hierdie nasies moet jy soos bossies uittrek of soos ’n muur afbreek sodat daar heeltemal niks van hulle oorbly nie. Ander moet jy van nuuts af begin bou en sterk maak.”
Twee beelde
11Die Here het toe vir my gesê: “Wat sien jy, Jeremia?”
Ek het geantwoord: “Ek sien ’n amandeltakkie.”
12En die Here het vir my gesê: “Jy is reg, dit is ’n amandeltakkie. Die amandelboom is gevoelig en weet altyd eerste dat die lente naby is, dan maak hy bloeisels. Net so sal Ek ook fyn aanvoel en sorg dat wat Ek gesê het moet gebeur, op die regte tyd sal gebeur.”
13Die Here het toe weer met my gepraat en gevra wat ek sien. Ek het Hom geantwoord: “Ek sien ’n pot in die noorde wat staan en kook en dit lyk of die pot na ons kant toe wil omval.”
14Toe sê die Here: “Jy het reg gesien. Vanuit die noorde sal ’n doodse gevaar oorspoel oor al die mense wat in Juda bly. 15Ek beveel al die konings in die noorde om Jerusalem toe te kom. Hulle sal na die ingange van Jerusalem toe kom en elkeen vir hom ’n plek kry waar hy kan baasspeel. Hulle sal Jerusalem se mure probeer afbreek om so in die stad in te kom. Hulle sal ook van die ander stede in Juda aanval. 16Op dié manier sal Ek my mense in Juda straf vir alles wat hulle verkeerd gedoen het. Hulle was nie lojaal aan My nie. Hulle het agter ander gode aangeloop. Die ergste is, hulle het hierdie beelde met hulle eie hande gemaak en dan buig hulle sowaar voor so ’n beeld asof dit ’n regte god is!
17“Maak klaar, Jeremia, en gaan sê vir die mense alles wat Ek te sê het. Moenie vir hulle bang wees nie, anders gee Ek jou dalk ’n rede om bang te wees! 18Jy kan rustig wees, Ek maak jou so sterk soos ’n stad wat ’n muur om het om die mense te beskerm. Of Ek maak jou soos ’n ysterpaal wat vasgeplant is of so hard soos ’n muur wat van koper gemaak is. Jy sal sterk genoeg wees om al die aanvalle van mense op jou te oorleef. Dit maak nie saak of die aanvalle van die konings van Juda en hulle amptenare of die priesters of enige van die land se mense kom nie. 19Hulle sal jou definitief probeer onderkry, maar hulle sal dit nie regkry nie. Ek is aan jou kant en Ek sal jou beskerm. Ek, die Here, belowe jou dit!”

Currently Selected:

Jeremia 1: DB

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in

YouVersion uses cookies to personalize your experience. By using our website, you accept our use of cookies as described in our Privacy Policy