YouVersion Logo
Search Icon

Hosea 5

5
Die priesters en die leiers in die hof
1“Die priesters moet nou mooi luister. Israeliete, gee ’n bietjie aandag. Die koning en sy gesin moet hulle ore spits. Die Here daag julle almal voor die hof. Hy kla julle daarvan aan dat julle soos ’n strik geword het vir die volk. Die dinge wat julle by Mispa laat gebeur, is vir die volk ’n lokval. Wat julle op Tabor doen, is soos ’n vangnet wat gespan is. 2Dit is soos ’n wip by Sittim waarin diere gevang word. Ek gaan julle vasvat. 3Ek weet presies wat in Efraim aan die gang is. Julle kan niks in Israel vir My wegsteek nie. Efraim, jy het My mos verlaat om agter afgode aan te draf. Israel, jy het onaanvaarbaar vir My geword. 4Wat hulle doen, is so afgryslik dat hulle nooit weer na hulle God toe kan teruggaan nie. Hulle is so besig om afgode met offers te dien dat hulle nie langer aan die Here kan behoort nie. 5Israel is so voor op die wa dat Ek hom moet aankla. Israel en Efraim val oor hulle eie foute. Selfs Juda sal saam met hulle val. 6Wanneer hulle met vee en beeste gaan om vir die Here te offer, sal dit te laat wees. Hulle sal Hom nie meer in die hande kry nie. Hy het alreeds weggegaan. 7Hulle het die Here se Naam sleggemaak. Hulle is soos ’n vrou wat nie getrou bly aan haar man nie. Sy maak skande. Sy het kinders by ’n ander man. Omdat hulle vir die afgode offers bring, gaan Ek binne ’n maand hulle landerye vernietig.”
Sinnelose burgeroorlog
8“Blaas op die trompet in Gibea! Roep almal op om te kom oorlog maak. Blaas op die trompet in Rama! Gee die teken vir die oorlog. Gee die oorlogskreet in Bet-Awen! Benjamin, kyk wat Efraim agter jou rug beplan! 9Efraim gaan sonder twyfel verwoes word wanneer hy die dag veroordeel word. Ek sê dit nou al vir al die families in Israel. 10Die leiers van Juda in die suide steel die grond van Israel in die noorde. Hulle verskuif die grense al verder na die noorde toe. Ek gaan my straf soos water op hulle uitgooi.
11“Efraim het seergekry. Hy is niks werd nie. Hy het mos besluit om agter dinge aan te gaan wat vir hom niks in die sak kan bring nie. 12Ek sal vir Efraim in die noorde wees soos ’n seer wat sweer. Ek sal vir Juda in die suide wees soos iets wat vrot. 13Wanneer Efraim sien hoe siek hy is en Juda na sy sweer kyk, sal Efraim hulp gaan soek by die groot koning van Assirië. Daardie koning sal niks daaraan kan doen nie. Hy kan nie die sweer weer gesond maak nie. 14Ek sal soos ’n leeu vir Efraim verskeur. Ek sal soos ’n jong leeu vir Juda uitmekaarskeur. Ek sal my prooi wegsleep. Niemand sal hulle uit my bek kan red nie. 15Ek sal soos ’n leeu teruggaan na my wegkruipplek. Ek sal vir hulle lê en wag. Hulle sal na My kom soek om te erken dat hulle verkeerd was. Wanneer hulle in die nood raak, sal hulle My kom vra om hulle te help.”

Currently Selected:

Hosea 5: DB

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in

YouVersion uses cookies to personalize your experience. By using our website, you accept our use of cookies as described in our Privacy Policy