YouVersion Logo
Search Icon

Hosea 11

11
Die klag teen Israel
1“Toe Israel nog ’n seuntjie was, was Ek al lief vir hom. Ek het hom uit Egipte uit laat kom om my seun te kom word. 2Hoe meer Ek egter na hulle geroep het, hoe meer het hulle agter afgode aangeloop. Hulle het vir die Baäls offers gebring. Hulle het vir die beelde van gode wierook gebrand.
3“Ek self het babatjie Efraim geleer om te loop. Ek het Efraim soos ’n babatjie in my arms rondgedra. Ek het hulle vertroetel. Nou wil hulle dit nie meer onthou nie. 4Ek het vir hulle omgegee. Ek het met liefde saam met hulle geloop. Ek was vir hulle soos iemand wat by ’n dier kom wat swaarkry en die swaar gewig van sy nek afhaal. Ek het vir hulle kos gegee. 5Maar hulle weier steeds om na My toe terug te kom. Hulle sal nie na Egipte toe hoef terug te gaan nie. Assirië sal hulle baas wees. 6Die vyand sal hulle stede aanval. Hulle sal die hekke van hulle stede afbreek. Hulle sal hulle eie planne moet maak om te bly leef. 7My volk word nie moeg om van My af weg te loop nie. Ek roep hulle om terug te kom, maar hulle weier om ’n voet te versit.”
Die “nogtans” van die Here se liefde
8“Ek kan jou nie sommerso laat weggaan nie, Efraim. Ek kry dit nie oor my hart om jou sommer vir jou vyand te gee nie, Israel. Ek kan nie met jou maak soos Ek met Adma gemaak het nie. Ek kan nie met jou laat gebeur wat Ek met Sebojim laat gebeur het nie. Ek baklei met Myself om te besluit wat Ek met jou moet maak. Ek gee te veel om vir jou. 9Ek sal nie in woede teen jou losbars nie. Ek sal nooit so ver gaan om Efraim heeltemal uit te roei nie. Ek is immers God. Ek is nie ’n mens nie. Ek is die hoë God wat by julle woon. Ek sal nie met my woede op julle lostrek nie. 10My volk sal weer agter die Here aangaan. Die Here sal brul soos ’n leeu. En as sy welpies dit hoor, sal hulle begin bewe. Hulle sal baie versigtig uit die weste na Hom toe kom. 11Hulle sal soos voëls terugvlieg uit Egipte en Assirië. Hulle sal stadig nader kom soos ’n duif. Ek sal hulle weer in hulle eie huis laat bly. Dit is wat die Here sê.”

Currently Selected:

Hosea 11: DB

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in

YouVersion uses cookies to personalize your experience. By using our website, you accept our use of cookies as described in our Privacy Policy