Parallel
50
Jakob se begrafnis
1Josef het op sy pa gaan lê en terwyl hy huil, het hy Jakob se gesig gesoen. 2Josef het toe beveel dat sy pa se liggaam gebalsem moet word. 3Dit het 40 dae geduur. Dit was maar die normale tyd wat dit in Egipte geduur het om ’n liggaam te balsem. Al die Egiptenaars het 70 dae oor Jakob gerou. 4Na die routyd het Josef vir die koning se amptenare gesê: “As julle van my hou, gaan sê vir die koning my pa het voor sy dood my laat belowe dat ek hom in die familiegraf in Kanaän moet gaan begrawe. 5Ek vra die koning se toestemming om my pa in Kanaän te begrawe. Ek sal dadelik ná die begrafnis terugkom.”
6Die koning het geantwoord: “Gaan begrawe jou pa, want jy het hom jou woord gegee.”
7So is Josef daar weg. Al die koning se amptenare, al die senior persone in sy diens en al die leiers in Egipte is saam met Josef Kanaän toe. 8Josef se eie familie, sy broers en al sy pa se mense het saamgegaan. Slegs die klein kindertjies en die ou mense, asook die skape en bokke, het in die land Gosen agtergebly. 9Baie ruiters op oorlogswaens en perde het saam met Josef-hulle gegaan. Dit was ’n groot en ’n indrukwekkende groep mense.
10Toe hulle by Atad aan die oostekant van die Jordaan kom, het hulle eers gestop. Almal het bymekaargekom en weer lank oor Jakob gehuil en gerou. Hulle het sewe dae lank daar gebly en oor Jakob se lewe nagedink en oor hom gerou.
11Toe die mense van Kanaän sien wat by Atad gebeur, het hulle gesê: “Hoe aangrypend het die Egiptenaars tog nie sewe dae lank oor Jakob gerou nie!” Toe het die mense besluit om die plek se naam na Abel-Misrajim te verander.
12Jakob se seuns het gedoen wat hulle pa hulle gevra het: hulle het sy liggaam Kanaän toe gebring en dit neergelê in die grot van Magpela, oos van Mamre, op die stuk grond wat Abraham nog van Efron, die Hetiet, as grafgrond gekoop het. 13Na die begrafnis is Josef, sy broers en almal wat saam met hom vir die begrafnis Kanaän toe is, weer terug Egipte toe.
Josef stel sy broers gerus
14Na Jakob se dood het die lewe weer sy gewone gang gegaan. Josef se broers was egter onrustig en het vir mekaar gesê: “Sê nou Josef haat ons en hy wil ons terugkry vir alles wat ons aan hom gedoen het?”
15Hulle besluit toe om ’n boodskap vir Josef te stuur.
16“Voor sy dood,” so het die boodskap begin, “het Pa gesê ons moet die saak met jou regmaak. 17Soos jy weet, staan ons voor jou en Pa se God skuldig. Maar nou, Josef, vra ons jou mooi om ons daardie dag se verskriklike daad te vergewe.” Josef het begin huil toe hy die boodskap hoor.
18Die broers is self na Josef toe en het laag voor hom gebuig en vir hom gesê: “Hier is ons. Ons sal jou slawe wees.”
19Josef het gesê: “Moet tog nie bang wees nie. Ek is mos nie God nie. 20Julle het ’n vreeslike ding gedoen, maar God het die slegte ding in iets goeds verander. Baie mense leef vandag en het kos omdat julle my daardie dag verkoop het. 21Julle hoef regtig niks te vrees nie. Tot die einde toe sal ek vir julle en julle kinders sorg.” Josef se woorde was vol deernis en sy liefde teenoor sy broers het hulle getroos en bemoedig.
Josef sterf
22Josef en sy familie het in Egipte bly woon. Hy was 110 jaar oud toe hy dood is. 23Hy het lank genoeg geleef om Efraim se kinders en sy kleinkinders te sien grootword. En terwyl hy nog geleef het, is al die kinders van Manasse se seun, Magir, gebore.
24Toe hy die dood voel nader kom, het Josef vir sy broers gesê: “Binnekort is ek nie meer hier nie, maar moenie bang wees nie, want God sal self vir julle sorg. Eendag sal Hy julle nog uit hierdie land lei en na die land toe neem wat Hy met ’n eed aan Abraham, Isak en Jakob beloof het.”
25Toe het Josef vir sy broers iets groots gevra. “Belowe my,” so het hy begin, “dat julle my liggaam sal saamvat wanneer God julle uit hierdie land uitlei.”
26So het Josef dan in Egipte gewoon en gesterf toe hy 110 jaar oud was. Hulle het sy liggaam gebalsem en in ’n kis gesit.