Parallel
42
Die broers se eerste reis na Egipte
1Jakob het gehoor daar is nog kos in Egipte en hy het vir sy seuns gesê: “Vir wat sit julle net daar en niks doen? 2’n Paar mense het my nou al van kos in Egipte kom vertel. Julle moet sommer dadelik soontoe gaan en kyk wat julle kan kry. Miskien is daar nog kos vir ons en dan hoef ons nie van die honger dood te gaan nie.”
3Tien van Josef se broers is toe daar weg om koring in Egipte te gaan koop. 4Jakob wou nie hê dat Benjamin, Josef se jongste broer, saamgaan nie. Hy was bang daar gebeur iets met die kind soos destyds met Josef.
5Jakob se seuns is toe daar weg. Soos baie ander mense is hulle Egipte toe om kos te gaan koop. Hulle kon nie anders nie, want die hongersnood in Kanaän het by die dag erger geword.
6Josef het die land regeer en almal se porsies vir hulle afgemeet. Toe sy broers by hom kom, het hulle laag voor hom gebuig. 7Hy het hulle onmiddellik herken. Hy het egter gemaak of hy hulle nie ken nie. Hy het kortaf vir hulle gevra: “Waar kom julle vandaan?”
“Ons kom van Kanaän af, Meneer, en ons het gekom om kos te koop,” het hulle geantwoord. Hulle het hom egter nie herken nie.
8Terwyl Josef voor sy broers gestaan het, het hy aan die drome teruggedink, 9die drome wat hy lank gelede oor hom en sy broers gehad het. En hy het weer met hulle gepraat: “Julle is net spioene wat kom kyk het waar julle die land kan binneval.”
10“Nee, Meneer, dit is nie so nie. Ons het regtig net kom kos koop. 11Ons is almal die seuns van een man en ons bedoelings is goed, Meneer. Ons is regtig nie spioene nie.”
12Josef het weer gepraat: “Ek glo julle nie. Julle het net gekom om te kyk waar die land oop en swak is.”
13Hulle het weer probeer: “Meneer, kyk na ons. Ons is tog nie spioene nie. Ons is broers. Ons was eers twaalf en almal van dieselfde pa. Hy bly nou nog daar anderkant in Kanaän. Die jongste broer het agtergebly, want hy moes ons pa oppas. En die ander seun, nouja Meneer, ons weet nie meer waar hy is nie.”
14Josef het aangehou sê: “Ek glo julle nie. Julle is niks anders as spioene nie. 15Ek sal julle egter ’n kans gee om julle onskuld te bewys. Gaan haal julle jongste broer en bring hom hierheen. Eers as hy hier is, sal ek julle glo. Gebeur dit nie, sweer ek by die farao dat ek julle in die tronk sal stop. 16Een van julle moet julle broer gaan haal. En die ander bly net hier in huisarres. So sal ek uitvind of julle die waarheid praat en of julle net spioene is.”
17Daarna het Josef hulle almal summier drie dae lank in die tronk gestop. 18Op die derde dag het Josef sy broers laat haal en vir hulle gesê: “Doen wat ek vir julle sê en dan sal julle lewe. Dit beloof ek julle, want ek glo in God. 19As julle werklik eerlik en opreg is, laat een van julle hier bly. Ek sal hom as gyselaar in die tronk hou. Al julle ander kan dan huis toe gaan en kos vir julle honger gesinne gaan gee. 20Julle moet net met die jongste broer terugkom. Ek sal dan weet julle praat die waarheid en julle sal bly leef.”
Almal het saamgestem. 21Toe het die broers vir mekaar gesê: “Ons kry ons verdiende loon. Daardie middag het ons Josef se groot angs gesien, maar ons het anderpad gekyk. Toe hy by ons gepleit het, het ons gemaak of ons hom nie hoor nie. Dit is waarom ons nou in hierdie groot ellende sit.”
22Ruben het toe gesê: “Ek het julle gewaarsku om nie die seun seer te maak nie, maar julle wou nie hoor nie. Nou het die uur van rekenskap gekom.”
23Wat die broers nie geweet het nie, was dat Josef alles verstaan het, want daar was ’n tolk tussen hom en hulle. 24Josef het eenkant toe gestap en begin huil. Toe hy weer kon praat, het hy Simeon gekies om agter te bly. Hulle het hom voor die ander gevat en in die tronk gesit.
25Josef het sy mense aangesê om sy broers se houers tot bo toe vol te maak met graan, elkeen se geld in sy sak terug te sit en ook vir elkeen padkos saam te gee. Alles is presies so gedoen.
26Toe het die broers die sakke op hulle donkies gelaai en hulle is daar weg. 27Teen die aand se kant toe hulle kamp opslaan, wou een broer voer vir sy esel gee. Toe hy sy sak oopmaak, sien hy sy geld bo in die sak. 28“Kom kyk hier,” het hy uitgeroep, “iemand het my geld in my sak teruggesit!” Hulle moed het in hulle skoene gesak en hulle het vir mekaar gevra: “Wat is God besig om met ons te doen?”
29Hulle het weer in Kanaän aangekom en hulle pa, Jakob, gaan groet. Hulle het alles vertel en gesê: 30“Die man wat die hoof is van die land was baie kortaf met ons. Hy het ons sommer van spioenasie beskuldig. 31Ons het mooi probeer verduidelik dat ons twaalf broers eerlike mense is wat almal dieselfde pa het, 32dat die een by Pa in Kanaän is en die ander een dood is, maar dit het niks gehelp nie. 33Die man het net aangehou dat hy ons eers sal glo as Simeon agterbly terwyl die res van ons kos vir ons families vat. 34En toe het die man gesê: ‘Eers as julle saam met julle jongste broer na my toe terugkom, sal ek glo dat julle eerlike mense is en nie spioene nie. Dan sal ek Simeon vir julle teruggee en julle kan oral in die land rondgaan.’”
35Toe die broers hulle sakke met die koring wou leegmaak, sien elkeen sy geld bo-op lê. Die broers en hulle pa, Jakob, was verslae. 36Jakob het vir hulle gesê: “Ek gaan weer van ’n kind beroof word. Eers is Josef dood, nou is dit Simeon wat ek dalk nooit weer sal sien nie, en dan wil julle ook nog vir Benjamin van my af wegvat. Hoekom moet sulke dinge altyd met my gebeur?”
37Ruben het Jakob probeer gerusstel: “Pa kan my twee seuns vat en doodmaak as ek Benjamin nie veilig terugbring nie. Ek sal vir hom sorg en hom veilig na Pa toe terugbring.”
38Jakob het egter geantwoord: “Nee, Benjamin gaan nie saam met jou nie. Sy broer is dood en hy het alleen agtergebly. As daar nou met hom iets op die pad moet gebeur, sal ek op my oudag in die allerbitterste hartseer sterf.”