Parallel
35
Jakob in Bet-El; Ragel sterf
1God het vir Jakob gesê: “Gaan Bet-El toe en bly ’n ruk daar. Bou daar ’n altaar vir die God wat goed was vir jou toe jy destyds vir Esau gevlug het.”
2Jakob het toe al sy huismense en werkers bymekaargeroep en gesê: “Los nou eens en vir altyd al julle vreemde gode. Was julle skoon en trek skoon klere aan. 3Ons gaan binnekort Bet-El toe. Daar gaan ek ’n altaar vir die Here bou, omdat Hy geluister het toe ek moedeloos was en Hy altyd saam met my op die pad was.”
4Almal het hulle afgode gebring asook hulle oorringe. En Jakob het al die goed gevat en dit onder die groot boom duskant Sigem begrawe. 5Daarna het Jakob en sy mense Bet-El toe getrek. God was by hulle, want Hy het ’n groot angs oor die omringende stede laat kom sodat hulle Jakob en sy mense in vrede Bet-El toe laat trek het.
6Uiteindelik het Jakob en al sy mense by Bet-El in Kanaän, ook Lus genoem, aangekom. 7Daar het hy ’n altaar gebou en dit “God van Bet-El” genoem. Dit was op dieselfde plek waar God hom lank gelede een aand ontmoet en met hom gepraat het. Dit was destyds toe hy vir sy broer, Esau, gevlug het.
8Intussen is Debora dood. Rebekka het as kind aan haar gedrink en sy was lewenslank aan Debora geheg. Hulle het Debora onder die groot eikeboom net buite Bet-El begrawe. Hulle het die boom Eik van Trane genoem.
9En God het weer met Jakob gepraat, net soos destyds toe hy vir sy broer gevlug het.
10Hy het hom geseën en vir hom gesê: “Jou naam is Jakob, maar jy sal nie meer so genoem word nie. Van nou af sal almal jou Israel noem.” Dis waar hy aan sy naam gekom het.
11God het verder gesê: “Ek is die God wat sterk is. Jou kinders moet vrugbaar wees en baie kinders hê. ’n Nasie, nee, sommer ’n klomp nasies, sal uit jou en jou kinders groei. Belangrike konings sal nog uit jou en jou nageslag kom. 12Hierdie land wat Ek lank gelede aan Abraham en Isak beloof het, gee Ek nou aan jou en jou kinders. Jou nageslag sal nog in hierdie land woon.”
13Skielik was God weg. Toe Hy klaar met Jakob op daardie plek gepraat het, was Hy net weg. 14Op dieselfde plek waar God met hom gepraat het, het Jakob toe ’n klipstapel gepak. Hy het ’n offer van water en wyn daaroor uitgegooi. Hy het ook olie oor al die klippe gegooi.
15Jakob het die plek Bet-El genoem omdat God daar met hom gepraat het.
16Jakob en sy mense is weer weg van Bet-El af. Terwyl hulle eendag getrek het, het Ragel, wat verwagtend was, skielik geweldige pyn gehad. Hulle was nog ’n hele entjie van Efrata af toe dit so erg geword het dat Ragel begin kraam het. 17Toe die geboortepyne op hulle ergste was, het die vroedvrou vir Ragel gesê: “Mevrou, moenie meer bang wees nie, want dit is ’n seuntjie.”
18Maar Ragel was besig om te sterf van die komplikasies met die geboorte. Met haar laaste kragte het sy die seuntjie Ben-Oni genoem. Dit beteken “seun van pyn en smart”. Jakob het later sy naam na Benjamin, “seun van geluk en voorspoed”, verander.
19Ragel is daar dood. Sy is langs die grootpad na Efrata begrawe. Hulle noem die plek vandag nog Betlehem. 20Jakob het ’n grafsteen op haar graf gesit, wat nou nog daar staan.
21Israel is toe verder en het uiteindelik by Migdal-Eder kamp opgeslaan. 22In hierdie tyd het daar iets verskrikliks gebeur. Ruben, Israel se oudste seun, het by sy pa se byvrou, Bilha, gaan slaap. En Israel het dit uitgevind.
23Jakob het twaalf seuns gehad. Die seuns van Lea was Ruben, die oudste, Simeon, Levi, Juda, Issaskar en Sebulon.
24Die seuns van Ragel was Josef en Benjamin.
25Die seuns van Bilha, die vrou wat vir Ragel gewerk het, was Dan en Naftali.
26Die seuns van Silpa, die vrou wat vir Lea gewerk het, was Gad en Aser. Hierdie is dan die seuns van Jakob wat vir hom in Paddan-Aram gebore is.
27Na baie jare het Jakob weer sy pa, Isak, gesien. Isak het toe in Mamre gewoon. Die plek word ook Kirjat-Arba of deesdae Hebron genoem. Net soos sy pa, Abraham, het Isak ook lang tye hier gewoon. 28Isak het 180 jaar oud geword. 29Hy het ’n ou man geword en het in ’n goeie ouderdom gesterf. Esau en Jakob het hom toe by sy mense begrawe.