Genesis 34
DB
34
Die tragiese verhaal van Dina
1Dina, die dogter van Jakob en Lea, het op ’n dag vir die vroue in die omgewing gaan kuier. 2Hamor, die Hewiet, was die leier in die gebied. Sy seun Sigem het Dina sien stap. Hy het haar toe gegryp en gedwing om by hom te slaap. 3Na die tyd het Sigem baie van Dina begin hou. Hy was verlief op haar en hy het hard probeer om haar hart te wen. 4Sigem het toe sy pa se hulp ingeroep. “Pa,” het hy gesê, “help my tog dat Dina my vrou kan word.”
5Jakob het intussen die skoknuus verneem. Hulle het hom kom vertel hoe Sigem sy Dina-kind se lewe vernietig het. Jakob het aanvanklik niks gedoen nie, want hy wou eers vir die seuns wag. Hulle was nog met die vee in die veld. 6Na ’n ruk het Hamor, Sigem se pa, by Jakob aangekom. Hy wou met hom oor Sigem se liefde vir Dina praat. 7Presies op daardie oomblik het Jakob se seuns van die veld af gekom. Toe hulle hoor wat gebeur het, was die broers geskok en woedend. Wat Sigem gedoen het, was verkeerd. Hoe kon hy Dinatjie by hom in die bed gedwing het? Hy het Israel beledig. So iets sou die broers nie duld nie.
8Hamor, wat van niks geweet het nie, het voortgegaan om met Jakob en die seuns te praat. “Jakob,” het hy gesê, “my seun Sigem het sy hart op jou dogter verloor. En ek vra jou mooi, ou Jakob, laat die kinders tog trou, man.” 9Hy het voortgegaan en gesê: “Kom, laat ons mense oor en weer met mekaar trou. Gee ons julle dogters en dan kan julle met ons dogters trou. 10Julle kan tussen ons kom bly. Die land sal dan ook vir julle oop wees. Julle kan gaan waar julle wil en bly waar julle wil. En julle kan sake doen net waar julle ook al wil.”
11Toe het Sigem gepraat. Hy het saam met sy pa gekom, maar die hele tyd niks gesê nie. Hy het opgestaan en Dina se pa en broers gesmeek: “Asseblief, ek sal julle enigiets betaal. 12Julle kan vir Dina vra net soveel as wat julle wil en ek sal betaal. Ek sal alles gee net solank sy my vrou kan word.”
13Jakob se seuns was nog woedend oor die ding wat Sigem met hulle suster gedoen het. Hulle het toe ’n baie slegte plan beraam. 14Hulle het vir Sigem en sy pa, Hamor, gesê: “Ongelukkig kan ons nie. Ons kan tog nie ons suster aan iemand gee wat nie besny is nie. Dit sal mos ’n skande wees. 15Daar is egter wel ’n moontlikheid: julle moet soos ons word en julle laat besny. 16As julle dit doen, word alles natuurlik makliker. Ons kan dan met gerustheid ons dogters vir julle gee en ons seuns kan ook sonder enige probleme met julle dogters trou. Ons kan dan saamwoon en een volk word. 17As julle vandag egter anders besluit, vat ons Dina en gaan weg.”
18Vir Hamor en Sigem het alles goed geklink en hulle is daar weg. 19Die jongman, Sigem, het Dina so begeer dat hy onmiddellik met die voorbereidings vir die besnydenis begin het. Vir sy familie was Sigem ’n baie belangrike man. 20Hamor en sy seun Sigem het die lede van die dorpsraad by die stadspoort gaan ontmoet. Hulle wou die dorpsraadslede van hulle ervaring vertel. 21Hulle het gesê: “Broers, hierdie Jakobgroep is oulike mense. Laat hulle tog toe om onder ons te kom woon en te gaan waar hulle wil. Daar is tog genoeg plek vir ons almal in die land. Ons kan selfs met hulle dogters trou en hulle met ons jongmeisies. 22Daar is egter ’n voorwaarde voor ons een volk kan word. Ons moet soos hulle word en ons almal laat besny. Doen ons dit nie, is dit klaarpraat. Dan gaan hulle nie by ons bly nie en ons gaan nie een groot groep word nie. 23Dink net daaraan, hulle beeste, hulle veetroppe en al hulle besittings word ook ons s’n. Kom ons gee toe sodat hulle hier by ons kan kom bly.”
24Die dorpsraad het met Hamor en Sigem saamgestem en elke man in die dorp is besny. 25Op die derde dag het al die mans nog baie pyn gehad. Dina se twee broers, Simeon en Levi, het toe ’n verskriklike ding gedoen. Hulle het die dorp binnegery en op ’n gegewe oomblik het hulle die swaarde uitgeruk en al die mans in die dorp voor die voet uitgewis. 26Selfs Hamor en Sigem is doodgemaak. By Sigem se huis het hulle vinnig hulle suster, Dina, gaan haal en uit die dorp gejaag.
27Toe Jakob se ander seuns hiervan hoor, was hulle vuur en vlam. Hulle het die stad binnegejaag en net dooies sien rondlê. Toe het hulle die stad genadeloos begin plunder. Hulle verskoning was dat Sigem vir Dina verkrag het. 28Hulle het net mooi alles gevat, alles wat in die stad was asook buite in die veld. Al die mense se kleinvee, beeste, donkies en besittings. 29Selfs vroue en kinders is geroof en as gevangenes saamgeneem. Alles wat in die huise was, het Jakob se kinders vir hulleself gevat.
30Jakob was baie ontsteld oor alles. Vir Simeon en Levi het hy reguit gesê: “Julle het my in die allergrootste ellende gedompel. Almal in hierdie land, veral die Kanaäniete en die Feresiete, sal my nou haat. Ons is maar ’n klein klompie mense en as hulle saamstaan, is dit klaarpraat met ons.”
31Maar die kinders het weereens hulle swak verskoning herhaal: “Maar, Pa, hy het dan ons suster soos ’n slet behandel.”

2002. Gebruik met toestemming van Christelike Uitgewersmaatskappy,Posbus 1599, Vereeniging, 1930. Alle regte voorbehou.

Learn More About Die Boodskap