Genesis 32
DB
32
Jakob maak hom gereed om Esau te ontmoet
1Laban was vroeg die oggend al op. Hy het sy goedjies gepak en toe die kinders gaan groet, vir Ragel, Lea en al die kleinkinders. Laban het hulle almal gesoen en hulle geseën, en toe is hy terug huis toe. 2Jakob-hulle het ’n ander koers ingeslaan. Langs die pad het hy engele teëgekom.
3Jakob het gesê: “Dit is seker waar God se leërmag woon.” Hy het die plek toe Mahanaim genoem, wat “Twee kampe” beteken.
4Jakob was bang vir Esau. Hy het daarom mense met ’n boodskap na sy broer Esau by die Seïrgebied in Edom gestuur. 5Hulle moes die volgende sê: “So sê u slaaf Jakob: Meneer, ek is niks en ek verdien ook niks nie. Jare lank het ek vir Laban gewerk. Ek was daar by hom tot ’n kort rukkie gelede.
6“Oor die jare het ek ’n klompie besittings bymekaargeskraap. Beeste, donkies en skape. En ook nog werkers: mans sowel as vroue. Ek vertel Meneer al hierdie dinge sodat Meneer my sal vergewe en goed vir my sal wees.”
7Jakob se mense het teruggekom en gesê: “Ons het u broer gekry en hy is op pad na u toe. By hom is daar 400 manne.” 8Jakob het geskrik en was baie bang. Angsbevange het hy gou al sy mense en diere in twee groepe verdeel.
9Jakob het by homself gedink: “As Esau die een kamp aanval en vernietig, kan die ander kamp se mense en diere darem nog wegkom.” 10Hy het eenkant toe gestap en daar gebid: “Here, U is die God van my oupa Abraham en my pa, Isak. By Laban het U vir my gesê: ‘Gaan terug na jou geboorteland. Ek sal daar vir jou goed wees.’ 11Here, ek is te klein vir u groot liefde. U was baie goed vir my en ek het dit nie verdien nie. Destyds is ek oor die Jordaan met net my kierie. Vandag het ek so baie besittings dat die twee kampe sommer vol staan. 12En nou, Here, vra ek u hulp. Esau is op pad en ek is baie bang. Red my uit sy hande. Ek is bang hy maak my dood en sommer ook al die vroue en kinders.
13“Here, U het tog self gesê dat U goed vir my sal wees en dat my nageslag baie sal wees. So baie soos die sand van die see. ’n Ontelbare menigte.” 14Nadat Jakob die nag daar geslaap het, het hy besluit om vir Esau ’n present te gee. Hy wou sommer van sy vee neem en vir Esau gee. 15Hy het hulle toe mooi afgetel: 200 bokooie en 20 bokramme, 200 ooie en 20 ramme, 1630 kameelkoeie met hulle kalwers, 40 koeie en 10 bulle, 20 donkiemerries en 10 donkiehingste. Dit was sy geskenk vir sy broer, Esau.
17Hy het al die vee in troppe verdeel en ’n leier vir elke trop aangestel. Jakob het hulle nader geroep en gesê: “Julle moet voor loop en ek sal julle volg. Sorg dat daar ’n goeie afstand tussen elke trop is.” 18Vir die leier van die voorste trop het hy gesê: “Jy moet katvoet loop. As my broer, Esau, jou sien, sal hy jou vra wie jy is, vir wie jy werk, waarheen jy op pad is en wie se vee dit is.
19“Dan moet jy mooi dink voor jy praat. Sê: ‘Ek werk vir u broer, Jakob. En al die troppe vee is ’n geskenk aan u, meneer Esau. U broer, Jakob, is ook sommer hier reg agter ons.’”
20Jakob het dieselfde raad vir al die leiers van die ander veetroppe gegee. Hulle moes almal dieselfde vir Esau sê.
21Almal moes veral onthou om te sê: “U broer, Jakob, is ook sommer hier reg agter ons.” Jakob het by homself gedink: “Dit is goed dat ek al die geskenke vooruitstuur. So kan ek Esau se hart sag maak. As ons mekaar dan sien, vergewe hy my dalk alles.”
22Jakob het toe die vee vooruitgestuur, maar hyself het die nag in die kamp geslaap. 23Laatnag het hy wakker geword. Daar en dan besluit hy om Lea en Ragel, Silpa en Bilha, sowel as die elf seuns, deur die rivier te neem. Hulle is toe by die Jabbok se driwwe deur. 24Toe hy sy familie veilig deur die rivier gekry het, het hy ook al sy besittings gestuur. 25Jakob het alleen duskant die rivier agtergebly. Terwyl hy nog so staan, het ’n man hom skielik gepak en hulle twee het begin veg. Dit het tot dagbreek die volgende oggend aangehou. 26Toe die man sien Jakob is te sterk vir hom, het hy Jakob ’n laaste harde hou op die heup gegee. Dit was so erg dat die heup heeltemal uit sy potjie gespring het.
27Die man sê toe: “Los my tog nou, want dit is al dagbreek.”
Jakob het toe gesê: “Ek sal nie. Voor ek jou los, moet jy my eers seën.”
28“Wat’s jou naam?” stotter die man.
“My naam is Jakob,” het Jakob geantwoord.
29“Van nou af,” sê die man, “sal hulle jou Israel noem. Nie meer Jakob nie, maar Israel.” Die man het verder gesê: “Vannag het jy teen God en mens geveg, en gewen.”
30Jakob was verbaas. “Wie is jy nou eintlik? En wat is jou naam?” het hy gevra.
“Hoekom vra jy my naam?” het die man gesê. Hy het Jakob geseën en toe is hy weg.
31“Ek het God vannag gesien en kyk, ek lewe nog,” het Jakob gesê. Hy het die plek toe Pniël genoem. 32Net toe Jakob van Pniël af wegstap, het die son opgekom. ’n Nuwe tyd het vir Jakob aangebreek. Hy was egter kruppel en het van toe af moeilik geloop. 33Die man het Jakob op die heupsenuwee geslaan, en tot vandag toe eet Israel nie die senuwee in die heupbeen nie.

2002. Gebruik met toestemming van Christelike Uitgewersmaatskappy,Posbus 1599, Vereeniging, 1930. Alle regte voorbehou.

Learn More About Die Boodskap