Parallel
31
Jakob vlug saam met sy vroue
1Jakob het gehoor wat Laban se seuns oor hom rondvertel het. Hulle het gesê: “Jakob het al ons pa se goed gevat. Hy het ryk geword met goed wat aan ons pa behoort.”
2Jakob het ook gesien dat Laban se houding heeltemal verander het. Hy was nie meer so hartlik soos vroeër nie. 3Die Here het vir hom gesê: “Jakob, gaan huis toe. Gaan terug na die land van jou pa waar jy gebore is. Ek sal by jou wees.”
4Toe Jakob op ’n keer met sy vee in die veld was, het hy Ragel en Lea na hom toe laat kom. 5Daar in die veld het hy vir hulle gesê: “Julle pa se houding het verander. Hy is nie meer so vriendelik teenoor my soos vroeër nie. Gelukkig is die God van my pa nog by my. 6Julle weet hoe hard ek vir julle pa gewerk het. 7En tog het hy my gekul. Oor en oor. Hy het my loon voortdurend verander. Maar God het hom nie toegelaat om my te breek nie, 8want elke keer as Laban gesê het: ‘Die diere met spikkels is jou loon,’ is daar net gespikkeldes gebore. En as hy gesê het: ‘Die gestreepte diere is jou loon,’ was daar net gestreeptes. 9So het God julle pa se diere weggeneem en dit vir my gegee.”
10Jakob het verder vertel: “Eendag, dit was in die paartyd, het ek ’n droom gehad. Ek het gesien hoe gespikkelde, gestreepte en gevlekte bokramme met die ooie paar. Al die lammetjies wat gebore sou word, sou ook gespikkel, gestreep en gevlek wees.
11“En terwyl ek nog so droom, roep die Engel van God my: ‘Jakob.’ Ek het geantwoord: ‘Hier is ek.’
12“Die Engel het voortgegaan: ‘Ek het dit ook gesien. Al die ramme tydens paartyd was gespikkel, gestreep en gevlek. Alles wat Laban oor die jare aan jou gedoen het, het Ek raakgesien. 13Jakob, Ek is die God van Bet-El. Daar het jy lank gelede ’n klip regop gesit, olie daaroor uitgegooi en toe ’n gelofte aan My gemaak. Los nou hierdie land en sy mense en gaan terug na die plek waar jy gebore is.’”
14Toe Ragel en Lea alles gehoor het, het hulle gesê: “Is ons nog deel van ons pa en sy familie? Wag daar vir ons nog ’n erfporsie? Of het ons pa ons al lankal eenkant toe gestoot? 15Hy het ons ook besteel. Hy het ons geld gevat en ons deel van die bruidskat vir hom geneem. 16Al ons pa se rykdom wat God teruggeneem het, is eintlik ons en ons kinders s’n.” Ragel en Lea het toe vir Jakob gesê: “Doen wat God vir jou gesê het om te doen.”
17Jakob het al sy vee bymekaargemaak en die troppe begin aanjaag. Sy vroue en kinders het hy op kamele gesit en hulle saam met die vee gestuur. 18Alles wat Jakob oor die jare in Paddan-Aram versamel het, het hy weggestuur. En so was Jakob weer op pad, die keer na Kanaän, waar sy pa, Isak, gewoon het.
19Hulle het ongemerk weggekom, want Laban was weg om sy skape te gaan skeer. Voor hulle weg is, het Ragel egter stilletjies haar pa se huisgode gaan steel. 20Jakob het Laban, die Arameër, so om die bos gelei dat hy niks vermoed het nie.
21Jakob kon dus maklik met al sy besittings wegkom. Hulle was gou oor die Eufraatrivier en het in die rigting van Gilead se berge getrek.
Laban sit hulle agterna
22Laban het eers drie dae later van Jakob-hulle se vlug gehoor. Hy was woedend. 23Hy het toe ’n klomp van sy familie bymekaargekry en Jakob se spoor gevat. Sewe dae lank het hulle Jakob in die berge van Gilead agtervolg. Hulle was naderhand kort op die hakke van Jakob en sy mense. Hulle moes net inbeweeg.
24God het egter ingegryp en in ’n droom vir Laban, die Arameër, gesê: “Jy moet nou nie dinge te ver dryf nie. Dink mooi wat jy vir Jakob gaan sê.”
25Laban het Jakob ingehaal. Jakob het sy tent in die bergwêreld opgeslaan en amper by hom het Laban-hulle se kamp gestaan. 26Laban het na Jakob toe oorgestap en vir hom gesê: “Wat het jy aangevang? Jy het my bedrieg en my dogters weggeneem asof hulle krygsgevangenes is. 27Hoekom het jy alles so in die geheim gedoen? Hoekom het jy my om die bos gelei? Hoekom het jy my niks gesê nie? As ek vooraf geweet het, kon ek julle ten minste met feesmusiek, met tamboeryne en liere, laat weggaan het. 28Waarom het jy my nie toegelaat om my kleinkinders te groet nie? En my eie dogters totsiens te soen nie? Nee, werklik, Jakob, jy het dom opgetree. 29Kyk, ek kan julle natuurlik almal vernietig, maar die God van jou pa het my gekeer. ‘Jy moet nou nie dinge te ver dryf nie,’ het Hy gesê. ‘Dink nou mooi wat jy vir Jakob gaan sê.’ 30Goed, gaan dan maar. Jy verlang mos nou huis toe, so, gaan maar.” Laban het hom egter nog ’n laaste vraag gevra: “Vir wat het jy my huisgodjies gesteel?”
31Jakob het Laban geantwoord: “Waarvan praat jy? Kyk, ek was bang dat jy jou dogters met mag van my sou wegvat; daarom het ek gevlug. 32Maar van jou huisgodjies weet ek werklik niks nie. Deursoek ons goed voor almal hier en as jy dit by iemand kry, sal die persoon doodgemaak word. As jy ook enigiets anders kry wat joune is, kan jy dit terugvat.” Jakob het egter nie geweet dat Ragel die huisgodjies geneem het nie.
33Laban het by Jakob se tent begin en daarna in Lea se tent gaan soek. Hy het ook die tente van Bilha en Silpa deursoek, maar niks gekry nie. Daarna het hy na Ragel se tent toe gestap. 34Sy het intussen die huisgodjies in die kameel se saalsak weggesteek en daar bo-op gaan sit. Laban het die hele tent gefynkam, maar niks gekry nie. 35Ragel het vir Laban gesê: “Pa moet tog nie vir my kwaad wees omdat ek bly sit nie. Dit is weer daardie tyd van die maand en ek kan nie opstaan nie.” Laban het verder gesoek, maar niks gekry nie.
36Jakob het kwaad geword en Laban trompop geloop: “Wat het ek verkeerd gedoen? Vir wat agtervolg jy my so? Waar het ek oortree? 37Jy het al my goed deursoek en wat het jy gekry? Kon jy enige gesteelde goed kry? Kom sit dit dan hier voor my en jou mense neer. Laat hulle dan besluit of ek ’n dief is of nie.”
38Jakob het voortgegaan: “Twintig lange jare het ek jou getrou gedien. Nooit het jou skaapooie of bokooie hulle lammers verloor nie. Nooit het ek ’n ram gesteel en dit geëet nie. 39As wilde diere jou diere verskeur het, het ek jou nie eens daarvan vertel nie. Jy het my altyd dubbel en dwars daarvoor laat betaal, of hulle bedags of snags gesteel is. Daarom het ek maar self die dier vervang. 40Bedags het die verskriklike hitte my geteister en in die nag die koue. So erg was dit dat ek vir lang tye nie kon slaap nie. 41Twintig jaar het ek vir jou gewerk. Veertien jaar vir jou twee dogters en vir baie jare het ek jou vee opgepas. En wat het jy gedoen? Jy het my salaris aanmekaar verander. 42As dit nie vir my pa se God, die God van my oupa Abraham en die Beskermer van my pa, Isak, was nie, het ek vandag niks gehad nie. Maar God ken my swaarkry en het my harde werk raakgesien, en daarom het Hy jou gisteraand gewaarsku.”
43Laban het Jakob toe geantwoord: “Wat praat jy tog? Alles wat jy sien, is myne. Die dogters, die kinders, die vee. Niks maak egter nou meer saak nie. Wat kan ek tog doen of sê wat die dogters of hulle kinders van plan sal laat verander? 44Jakob,” het Laban gesê, “kom ons maak ’n ooreenkoms. Net tussen my en jou. As ’n herinnering aan ons twee se jare saam.”
45Jakob het toe ’n klip gevat en dit regop gesit. 46Hy het sy mense nader geroep en gesê hulle moet ’n klipstapel maak. Toe dit klaar was, het hulle by die klipstapel geëet. 47Laban het die klipstapel Jegar-Sahaduta en Jakob het dit Galed genoem.
48“Van vandag af,” het Laban gesê, “is hierdie hoop klippe ’n teken van ons ooreenkoms.” Hy het dit toe ook Galed genoem. 49Laban het die klipstapel ook nog Mispa genoem. “Dit is ’n teken dat die Here by ons is al sien ons mekaar nie weer nie,” het hy gesê. 50By die klipstapel het Laban ook vir Jakob gesê: “As jy ooit my dogters sleg behandel of sommer ander vroue byneem, moet jy nie dink God sien dit nie. Hy weet van alles.”
51Laban het nog ’n laaste woord gehad. “Hierdie klipstapel moet ons twee bind. 52Ek mag nooit by hierdie klipstapel verbystap om jou te gaan seermaak nie. En jy mag dit ook nie doen nie. 53Jakob, mag die God van ons vaders by ons wees. Mag die God van jou oupa Abraham en my oupa Nahor ons help om getrou te wees.” Jakob het sy woord gegee en die Beskermer van sy pa, Isak, as getuie aangeroep.
54Daarna het Jakob vir die Here op die berg gaan offer. Hy het al sy familie genooi om saam te kom eet. Na die ete het hulle almal sommer op die berg geslaap.