Parallel
30
Die verhaal van twee vroue en hulle kinders
1Ragel het begin besef dat sy nie vir Jakob kinders kan gee nie. Sy het toe baie jaloers op haar suster geword. Woedend het sy vir Jakob gesê: “Gee my ’n kind of ek gaan dood.”
2Jakob het hom vererg en skerp gereageer: “Dink jy ek is God? Dink jy ek kan jou vrugbaar maak? Dit is God wat jou kinderloos gemaak het, nie ek nie.”
3Radeloos het Ragel vir Jakob gesê: “Hier is Bilha, my slavin. Vat haar. Slaap by haar. Laat sy namens my ’n kind in die lewe bring. Deur haar moet my nageslag gebou word.”
4Ragel het Bilha na Jakob toe geneem. Bilha was vir hom soos ’n vrou en hy het by haar geslaap. 5Bilha het verwag en vir Jakob ’n kind in die wêreld gebring. 6Ragel was baie bly en het gesê: “God het reg aan my gedoen. Hy het my gebede gehoor en my hierdie seun gegee.” Sy het hom Dan genoem. 7Bilha, Ragel se slavin, het nog ’n seun vir Jakob gebaar. 8Ragel het toe gesê: “Ek en my suster is in ’n groot stryd met mekaar gewikkel, maar gelukkig het ek gewen.” Sy het Bilha se kind toe Naftali genoem.
9Toe Lea sien sy kan nie meer kinders kry nie, het sy haar slavin, Silpa, gaan vat en haar vir Jakob gegee. 10Silpa het vir Jakob ’n seun in die wêreld gebring.
11Lea het net gesê: “Watter goeie geluk!” en die kind Gad genoem. 12Silpa het nog ’n kind gehad en 13Lea het gesê: “Mooi so, die geluk is aan my kant. Al die ander vroue sal my sukses raaksien en my gelukkig ag.” Daarom het sy die kind Aser genoem.
14Op ’n dag, tydens die oestyd, het Ruben in die veld gaan stap. Hy het liefdesappels gesien en dit opgetel. Liefdesappels was ’n vrug wat mense lief gemaak het vir mekaar. Ruben het die liefdesappels vir sy ma gebring. Toe Ragel dit sien, het sy dadelik gesê: “Lea, gee my asseblief van Ruben se liefdesappels.”
15Lea het geïrriteerd gevra: “Wat? Is dit nie genoeg dat jy my man gevat het nie? Nou wil jy nog my kind se liefdesappels ook hê.”
“Asseblief, Lea,” het Ragel gepleit, “jy kan vannag my beurt kry. Jakob kan by jou gaan slaap, maar dan moet jy my van jou kind se liefdesappels gee.” Lea het die liefdesappels toe vir haar gegee.
16Toe Jakob die aand van die veld af kom, het Lea hom tegemoetgestap. “Jakob,” het sy geroep, “jy slaap vanaand by my. Ek het klaar daarvoor betaal met Ruben se liefdesappels wat hy opgetel het.” Jakob het toe by Lea geslaap. 17God het Lea se gebede verhoor en sy het verwag en vir Jakob ’n seun gegee. Dit was die vyfde een. 18Lea het gesê: “God beloon my omdat ek my slavin vir Jakob gegee het.” Sy het die kind Issaskar genoem.
19Lea het sowaar weer verwag en nog ’n seun vir Jakob gegee. Dit was die sesde. 20Lea het gesê: “God het my werklik ’n kosbare geskenk gegee. Hierdie keer sal Jakob presente vir my moet bring, want ek het hom ses seuns gegee.” Sy het die kind Sebulon genoem. 21Die laaste kind was ’n dogtertjie en Lea het haar Dina genoem.
22God het egter ook aan Ragel gedink en haar gebede verhoor. En Ragel het verwag. 23Sy het ’n seun gehad en gesê: “God het my skande en vernedering weggevat.”
24Sy het hom Josef genoem. Dit beteken: “Mag die Here my nog ’n ander seun ook gee!”
Jakob en Laban maak ’n ooreenkoms
25Na die geboorte van Josef het Jakob vir Laban gesê: “Laat my asseblief toe om na my ouerhuis en my land toe terug te gaan.” 26Omdat ’n slaaf se familie die baas se eiendom was, het Jakob ook nog gesê: “Laat my ook toe om my familie saam te vat. Ek het hard gewerk vir hierdie vroue. En my harde werk het jou ryk gemaak.”
27“Ja, dis waar,” het Laban gesê, “ek moet dit teenoor jou erken. Die Here het my as gevolg van jou ryk gemaak. 28Daarom, Jakob,” so het Laban voortgegaan, “sal ek jou enigiets betaal as jy sal bly. Jy noem dit en ek betaal.”
29Jakob het geantwoord: “Jy is reg. Ek was ’n getroue werker en ek het jou kuddes goed opgepas. 30Voordat ek hier gekom het, het jy nie veel gehad nie, maar toe het die Here jou ryk gemaak en baie besittings gegee. Wat ek ook al gedoen het, het jou net ryker gemaak. Nou het dit tyd geword dat ek vir my vroue en kinders moet sorg.”
31“Hoeveel moet ek jou betaal?” het Laban gevra.
“Niks nie,” sê Jakob. “Jy hoef my nie geld te gee nie. Daar is eintlik net een ding wat ek graag wil hê. En as jy dit gee, sal ek weer jou kuddes versorg.”
32“Wat is dit?” het Laban gevra.
Jakob het geantwoord: “Laat my vandag nog deur die kuddes loop en laat ek elke gespikkelde en gestreepte skaap, al die swart lammetjies en al die bokke met spikkels en strepe vir my vat. Dit sal dan my loon wees, niks meer nie.” 33Jakob het voortgegaan: “Jy kan kom kyk of ek eerlik was. As jy deur my kudde loop, sal elke skaap of bok wat nie spikkels of strepe het nie, gesteelde diere wees. Elke lammetjie wat nie swarterig is nie, sal ’n dier wees wat ek van jou gesteel het.”
34“Dis goed so,” het Laban gesê. “Maak soos jy wil.”
35Laban het Jakob weer bedrieg. Hy het gou al die gespikkelde en gestreepte skape en bokke uit die trop geneem. Ook die swart lammetjies. Laban het toe hierdie diere bymekaargemaak en vir sy ander seuns gegee om op te pas. 36Verder het Laban gesorg dat Jakob ver van sy seuns af bly. Hulle was drie dae se reis van mekaar af. Jakob was op ’n plek waar hy die res van Laban se kudde laat wei het.
Jakob word ryk
37Ver weg van Laban het Jakob sy eie ding gedoen. Hy het jong lote van populiere, amandel- en plataanbome gevat en dit afgeskil totdat daar sulke wit strepe op die lote was. 38Hy het toe die lote met die wit strepe by die waterplekke gesit. As die vee kom suip het, was die lote reg voor hulle. 39Omdat die bokke en die skape by die waterplekke gepaar het, het Jakob hulle tussen die lote bymekaar laat kom. So het hy baie bokke en skape met spikkels en strepe gekry. 40Die ooie het Jakob apart gehou en hulle by Laban se gespikkelde en gestreepte vee gebring. Op hierdie manier het Jakob vir homself ’n baie sterk kudde opgebou. Hy het hulle weggehou van Laban se vee. 41Wanneer die sterk diere gepaar het, het Jakob die lote voor hulle in die krippe gesit en dit het hulle vrugbaar gemaak. 42Maar hy het nie die lote by die swak diere gesit nie. Op dié manier het Laban die swakkes en Jakob die sterkes gekry. 43Jakob het al hoe ryker geword. Hy het baie kleinvee, slavinne, slawe, kamele en donkies gehad.