Genesis 29
DB
29
Jakob bereik sy bestemming
1Jakob het weer begin stap. Die pad was lank, maar hy het reguit koers gehou na die land oos van die Jordaan. 2Skielik sien hy iets. Daar, net daar waar drie troppe skape wei, was ’n put, ’n waterput waaruit die skape gedrink het. 3Bo-oor die put was daar ’n groot klipdeksel. Eers as al die herders saamgekom het, kon hulle die swaar deksel wegstoot. As al die skape klaar gedrink het, het hulle die steendeksel weer teruggerol.
4Jakob het toe met die mense wat daar rondgestaan het, begin praat: “Dagsê, waar kom julle vandaan?”
Hulle het geantwoord: “Ons is maar van hier. Van Haran se omgewing.”
5Opgewonde vra Jakob toe: “Julle ken nie miskien vir Laban nie? Hy is die seun van Nahor en hy bly glo hier êrens.”
“Ons ken hom,” sê hulle.
6“Gaan dit goed met hom?” vra Jakob.
“Ja, so-so,” sê die herders. “Kyk, daar kom sy dogter Ragel nou juis met haar pa se skape aangestap.”
7Jakob het die herders weer gevra: “Hoekom het julle nou al die skape vir die nag bymekaargemaak? Dit is dan nog helder dag. Gee hulle water en laat hulle dan wei.”
8“Ons kan nie,” het hulle geantwoord. “Ons moet eers wag totdat al die herders opgedaag het. Dan sal ons almal saam die swaar deksel wegstoot en vir die kuddes water gee.”
9Terwyl Jakob nog praat, sien hy haar. Sy het pas met haar pa se skape by die put aangekom. Haar naam was Ragel en sy was ’n herder. 10Jakob kon dit nie glo nie. Was dit werklik Ragel, die dogter van sy ma se broer? Was dit werklik sy oom Laban se skape? Hy het onmiddellik na die put toe gestap, die swaar deksel weggerol en die skape begin water gee, die skape van sy ma se broer. 11Jakob kon dit meer hou nie. Hy het vorentoe gestap, Ragel gesoen en begin huil. 12Toe het hy haar alles vertel. Van sy pa en sy pa se mense. Van sy ma, Rebekka, en hoe dit met haar gaan. Ragel was oorstelp. Sy het na haar pa toe gehardloop en hom alles vertel. 13Laban kon sy ore nie glo nie. Dat Jakob, sy eie suster se seun, hier kan wees, was mos nie moontlik nie. Laban het alles net so gelos en na Jakob toe gehardloop. Hy het hom omhels, hom gesoen en na sy huis toe gebring. 14Jakob het vir Laban ook weer alles oor en oor vertel. Later het Laban vir hom gesê: “Jakob, jy is deel van my bloed en van my familie. Bly hier!” Jakob het ’n maand lank by sy oom gebly.
Die drama oor twee vroue
15Na ’n maand het Laban vir Jakob gesê: “Al is jy deel van ons, gaan jy nie verniet vir my werk nie. Hoeveel moet ek jou ’n maand betaal? Maak jou sommetjies en sê my dan.”
16Laban het twee dogters gehad. Die oudste was Lea en die jongste Ragel. 17Lea het baie mooi oë gehad, maar Ragel, die jongste, was baie mooi. 18Jakob het verlief geraak op Ragel en daarom het hy vir Laban gesê: “Oom hoef my nie te betaal nie. Ek sal vir Oom se jongste dogter, vir Ragel, werk. Sewe jaar lank sal ek vir haar werk en dan moet sy my vrou word.”
19“Goed dan,” het Laban gesê. “Jy bly hier by my en jy werk sewe jaar lank vir Ragel. Dit is beter dat jy haar kry as die een of ander kêrel wat nie deel van ons is nie.”
20So het Jakob vir Ragel gewerk. Sewe jaar lank! En dit was glad nie eens vir hom moeilik nie. Dit het soos ’n paar dae gevoel, want hy was baie lief vir Ragel. 21Op ’n dag het Jakob vir Laban gesê: “My sewe jaar is verby. Gee Ragel asseblief vir my sodat ek by haar kan gaan slaap.”
22Laban het toe ’n groot fees gehou en al die mense van die dorp genooi. 23Laataand het Laban vir Lea, sy oudste, gevat en haar na Jakob toe gebring. Sy het ’n sluier om haar gehad en Jakob het haar nie herken nie. Dié nag het Jakob toe by Lea geslaap. 24Laban het die nag sommer ook sy slavin Silpa gevat en haar vir Lea gegee.
25Teen dagbreek het Jakob ontdek hy is bedrieg. Langs hom was Lea en nie Ragel nie. Woedend het hy Laban toegesnou: “Wat het jy aan my gedoen? Ek het sewe jaar vir jou gewerk sodat ek Ragel kon kry en toe bedrieg jy my. Hoekom het jy dit gedoen?”
26Kom nou, kom nou,” het Laban gesê. “Hier by ons gebeur dinge anders. Hier trou ’n mens eers met die oudste dogter en dan met die jongste. 27Vier tog hierdie week die huweliksfees saam met ons, dan sal ek Ragel ook vir jou gee. Ek beloof jou, maar dan moet jy nog sewe jaar vir my werk.”
28Jakob het ingestem. ’n Week lank het hy die huweliksfees gevier. Aan die einde van die feestyd het Laban toe Ragel vir hom as vrou gegee. 29Laban het toe sy slavin Bilha vir Ragel gegee.
30Jakob het by Ragel geslaap en hy was baie lief vir haar. Hy het haar liewer gehad as vir Lea. En hy het nog sewe jaar vir Laban gewerk.
Lea se kinders versag haar hartseer
31Die Here het gesien dat Jakob nie lief was vir Lea nie. Hy het Lea toe baie vrugbaar gemaak, maar Ragel was kinderloos.
32Lea het ’n seun in die wêreld gebring en hom Ruben genoem en gesê: “Die Here het my hartseer raakgesien. Nou sal my man my uiteindelik liefhê.”
33Sy het weer ’n seun gehad en gesê: “Die Here het gehoor dat Jakob my nie liefhet nie, en daarom het Hy my hierdie kind gegee.” Sy het hom Simeon genoem. 34Nog ’n seun is gebore en Lea het gesê: “My man sal my nou werklik liefhê omdat ek vir hom drie seuns gegee het.” Sy het die seun Levi genoem.
35’n Vierde seun is gebore en Lea het oorstelp gesê: “Hierdie keer wil ek die Here net loof en prys.” Dit is waarom sy die kind Juda genoem het. Lea het hierna vir eers nie weer kinders gehad nie.

2002. Gebruik met toestemming van Christelike Uitgewersmaatskappy,Posbus 1599, Vereeniging, 1930. Alle regte voorbehou.

Learn More About Die Boodskap