Parallel
25
Abraham se einde
1Abraham het weer getrou. Dié keer was dit met Ketura. 2Sy het vir hom Simran, Joksan, Medan, Midian, Jisbak en Suag in die wêreld gebring. 3Joksan was die pa van Skeba en Dedan. Die mense van Assur, Letus en Leüm was almal die nageslag van Dedan. 4Die seuns van Midian was Efa, Efer, Ganok, Abida en Elda. Al hierdie mense het van Ketura afgestam.
5Abraham het al sy besittings aan Isak bemaak. 6Aan al sy ander seuns het hy geskenke gegee terwyl hy nog geleef het. Hy het hulle ook na verskillende lande in die ooste gestuur sodat hulle nie by Isak sou bly nie.
7Abraham het 175 jaar oud geword. 8Hy was oud en gedaan toe hy die dag dood is. Sy lewensjare was vol mooi ervarings. Toe hy dood is, is hy by sy mense begrawe. 9Sy twee seuns, Isak en Ismael, het hom gevat en in die Magpelagrot neergelê. 10Dit is die grot op die grond van Efron, seun van Sohar, die Hetiet, digby Mamre wat Abraham destyds by die Hetiete gekoop het. Daar het Abraham se seuns hom langs Sara begrawe.
11Na Abraham se dood het God vir Isak, sy seun, geseën en dit het baie goed met hom gegaan. Isak het duskant Beer-Lagai-Roï gaan woon.
Ismael se nageslag
12Hier is die nageslag van Ismael, die seun van Abraham wat Hagar, Sara se Egiptiese slavin, vir hom in die wêreld gebring het. 13Die name van die seuns is in die volgorde van hulle geboorte: Nebajot is die eersgeborene, Kedar, Adbeël, Mibsam, 14Misma, Duma, Massa, 15Gadad, Tema, Jetur, Nafis en Kedma. 16Hierdie name van Ismael se seuns is ook aan hulle woongebiede en blyplekke gegee. Hulle was die twaalf leiers van twaalf stamme.
17Ismael het 137 jaar oud geword. Toe hy dood is, het hulle hom by sy mense begrawe. 18Sy nageslag het oor ’n wye gebied gebly, van Gawila af tot by Sur oos van Egipte en in die rigting van Assur. Ismael en sy kinders het teen almal in hierdie gebiede oorlog gemaak.
Jakob en Esau
19Hier volg die verhaal van Isak, die seun van Abraham. Abraham was Isak se pa.
20Isak was 40 toe hy met Rebekka, die dogter van Betuel, die Arameër uit Paddan-Aram en die suster van Laban die Arameër getroud is. 21Rebekka kon egter nie kinders hê nie. Isak het toe baie vir sy vrou gebid en die Here het sy gebede verhoor. 22Sy het ’n kind verwag, maar Rebekka het swaargekry. Dit was of die twee kinders binne-in haar heeltyd teen mekaar stamp. So erg was dit dat Rebekka naderhand gesê het: “As dit so moet aanhou, hoekom lewe ek?” Sy het gebid en die Here gevra wat sy moet doen.
23Die Here het geantwoord: “Twee volke stoei in jou skoot. Twee volke sal uit jou kom. Die een sal egter sterker as die ander een wees. Die oudste broer sal die jongste een dien.”
24Teen die tyd dat Rebekka geboorte moes skenk, het hulle ontdek daar is ’n tweeling op pad. 25Die eerste kind is gebore. Hy was rooierig van kleur en oral op sy lyf was daar hare. Hulle het hom Esau genoem. 26Toe die tweede kind gebore is, was sy een hand om sy broer se enkel. Hulle het hom Jakob genoem. Isak was 60 jaar oud toe hierdie twee seuns gebore is. 27Albei seuns het grootgeword. Esau was ’n natuurmens en ’n goeie jagter, en hy het graag buite gekom. Hy het mettertyd die jagkuns aangeleer en ’n vaardige jagter geword. Jakob was heeltemal anders. Hy was ’n eenkantmens wat graag sy tyd in die tent deurgebring het.
28Isak was mal oor Esau, omdat hy altyd vir sy pa sulke lekker wildsvleis gemaak het. Rebekka weer was erg oor Jakob, haar huiskind.
29Op ’n dag het Jakob heerlike kos gemaak. Esau daag toe uit die bloute daar op. Hy was moeg en honger 30en sê toe vir Jakob: “Ek is uitgeput en honger. Gee my tog so ’n ietsie van jou lekker kos, van die rooi goed wat jy daar het.” Toe Esau gebore is, was hy mos so rooierig en dit is waarom hulle hom Esau genoem het.
31Jakob, die skelm, het geantwoord: “Gee my eers al jou regte en voordele as oudste kind.”
32“Ag, wat,” het Esau gesê, “jy kan maar alles vat. Ek is tog aan die doodgaan en nou help al daardie regte en voordele my net mooi niks. So, vat dit vir jou.”
33Die geslepe Jakob het egter druk op Esau geplaas: “Nee, jy moet eers sweer en beloof dat alles myne is.” Esau het toe sy woord gegee dat Jakob sy eersgeboortereg kon kry.
34Jakob het toe vir Esau ’n stuk brood gegee en van die heerlike lensiebredie vir hom uitgeskep. Esau het alles opgeslurp en ook nog iets gedrink. Toe het hy opgestaan en geloop. So het Esau sy eersgeboortereg vir Jakob gegee. Vir ’n lekker bord kos het hy al sy regte en voordele as oudste seun van die familie weggegee.