YouVersion Logo
Search Icon

Genesis 23

23
Abraham koop ’n graf vir Sara
1Sara, Abraham se vrou, het gesterf. Sy was 127 jaar oud. 2Sy is in Kirjat-Arba dood. Dit was ’n plek in Kanaän wat tot vandag toe Hebron genoem word. Abraham was hartseer oor Sara se dood en het lank oor haar gehuil. 3Toe het hy met die begrafnisreëlings begin. Hy is na die Hetiete toe en het vir hulle gesê: 4“Menere, soos u weet, is ek maar ’n vreemdeling tussen u en besit ek geen grond nie. My vrou is dood en ek wil haar graag begrawe. Vandag vra ek u ’n stukkie grond vir ’n graf.”
5Die Hetiete het toe vir Abraham gesê: 6“Dit is goed so, Meneer. U is soos ’n prins van God tussen ons. U kan die beste grond kry. Ons wil almal hê dat u u vrou hier begrawe. Ons ken u en ons weet dat u naby aan God leef.”
7Abraham het toe laag voor die Hetiete, die mense wat in die land bly, gebuig en vir hulle gesê: 8“U is baie goed vir my, want u gee my grond sodat ek my vrou kan begrawe. Nou wil ek u versoek om tog met Efron, seun van Sohar, te praat, 9en vir hom te vra om die grot van Magpela aan my te verkoop. Hy besit dit en dit is aan die rand van sy grond geleë. Ek sal hom sy volle prys betaal. Ons kan die transaksie sommer hier voor u almal afhandel.”
10Efron was ’n gesiene man. Hy het in die stad se poort saam met al die ander belangrike Hetiete gesit en na Abraham se versoek geluister. 11Efron het geantwoord: “Nee, Meneer, dit is nie nodig nie. U hoef my niks te betaal nie. Voor al my mense gee ek u vandag die grond met grot en al. U kan sommer vandag nog u vrou daar gaan begrawe.”
12Abraham het weer voor almal gebuig. 13Hy het met Efron voor al die ander dorpsraadslede in die poort gepraat. “Meneer, baie dankie. U is werklik goed vir my, maar ek wil eerder die grond by u koop. As ek dit gekoop het, kan ek my vrou daar begrawe.”
14“Goed dan,” het Efron gesê. “Laat ons tog nie stry nie. 15Jy kan alles vir vier en ’n half kilogram silwer kry. Dan kan jy jou vrou gaan begrawe.”
16Abraham het Efron se aanbod aanvaar. Hy het toe die hele bedrag in silwer voor Efron en die Hetiete afgetel en dit vir hom gegee. Almal was oortuig dat die transaksie wettig was.
17So het Efron se landgoed in Magpela oos van Mamre Abraham se eiendom geword. Die land met die grot en al die bome in die gebied het nou aan Abraham behoort. 18Alles het gebeur in die teenwoordigheid van al die Hetiete wat in die dorpsraad gedien het. 19So het dit gebeur dat Abraham sy vrou Sara in die grot van Magpela digby Mamre in die land Kanaän kon begrawe het. Vandag nog word die plek Hebron genoem. 20Die land het met grot en al van die Hetiete na Abraham oorgegaan. Hy het daarvan ’n begraafplaas gemaak.

Currently Selected:

Genesis 23: DB

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in

YouVersion uses cookies to personalize your experience. By using our website, you accept our use of cookies as described in our Privacy Policy