Genesis 19
DB
19
Sodom verwoes, Lot gespaar
1Teen die aand se kant het die twee engele in Sodom aangekom. Op daardie oomblik het Lot juis by die stadspoorte gesit en gesels. Toe hy hulle sien, het hy opgestaan, hulle vriendelik gegroet en voor hulle gebuig. 2“Menere,” het hy gesê, “welkom hier in Sodom. U kan vannag sommer by my oorslaap. Daar kan u was en ontspan en môre vroeg weer verder gaan.”
Hulle wou nie en het gesê: “Baie dankie, maar ons slaap sommer op die stadsplein.”
3Lot het egter so aangehou dat hulle uiteindelik saam met hom is. Hy het vir hulle lekker kos gemaak en ook broodrolletjies voorgesit. Hulle het saam geëet. 4Net voor slaaptyd was daar skielik ’n geraas buite. Al die stad se mans het voor Lot se huis saamgedrom. Almal was daar; jonges en oues. 5Hulle het Lot geroep en gevra: “Waar is die mans wat vroeër vanaand hier by jou was? Bring hulle uit. Ons wil hulle sien en met hulle seks hê.”
6Lot het uitgegaan en die deur agter hom toegesluit. 7Hy het toe mooi met hulle gepraat: “Asseblief, my broers, moet tog nie iets onverantwoordeliks aanvang nie. 8Kyk, ek het twee dogters. Hulle is hier binne-in die huis. Hulle het nog nooit by ’n man geslaap nie. Ek is bereid om hulle vir julle te bring en julle kan met die dogters doen net wat julle wil. Maar moet in hemelsnaam niks aan die twee mans doen nie. Hulle is my gaste vir die nag.”
9Die skare mans was egter onbeheerbaar. Hulle het Lot eenkant toe gestoot en gesê: “Wie is jy nou eintlik? Jy het hier as ’n vreemdeling aangekom en nou wil jy oor ons baasspeel. Ons sal jou nog vernietig. Ons sal nog erger dinge aan jou doen as aan die mans in jou huis!” Die skare het toe vorentoe begin beur en Lot teen die deur vasgedruk. Hulle wou die deur oopbreek. 10Die twee mans binne-in die huis het Lot egter vinnig teruggepluk en die deur gesluit. 11Skielik het hulle met ’n helder en skerp lig die mans verwar, sodat hulle wat by die huis se ingang saamgedrom het, nie die deur kon kry nie.
12Toe het die twee mans vir Lot gesê: “Ons sal moet vinnig spring. As daar nog ’n seun of ’n dogter saam met jou in die huis is, moet jy hulle dadelik roep. En as daar nog een van jou mense in die stad is, moet jy hulle nou uit hierdie plek kry. 13Ons is op die punt om die stad te verwoes. Hierdie stad se sondes is so groot dat die Here ons gestuur het om dit vernietig.”
14Lot is toe haastig weg na die skoonseuns wat met sy oudste dogters getroud was, en het uitasem vir hulle gesê: “Staan op en gaan dadelik weg, want die Here is op die punt om die stad te vernietig.” Lot se skoonseuns het gelag, want hulle het gedink hy maak ’n grap.
15Teen dagbreek het die engele Lot aangejaag en gesê: “Nou moet julle regtig baie vinnig vertrek. As jy en jou vrou en die twee dogters nie nou vertrek nie, sal julle saam met die stad vergaan.”
16Lot het nog aanhou draai. Toe gryp die engele hulle hande en lei hulle na ’n veilige plek buite die stad. Die Here het vir Lot-hulle omgegee; daarom het Hy hulle veilig uitgelei. 17Toe hulle veilig was, het een van die engele gesê: “Vlug vir julle lewe. Moet net nie omkyk nie en moet nie sommer op enige plek gaan stop nie. Vlug liewers berge toe. Doen dit nou, anders sterf julle almal.”
18Lot het egter vinnig geantwoord: “Nee, Meneer, dit kan nie gebeur nie. 19U het my tot nog toe net gehelp. U was albei so goed vir ons en u het ons lewe gespaar. Maar, Meneer, ek kan nie nou berge toe vlug nie. Ek sal dood wees nog voordat ek daar kom. 20Daar is egter ’n dorpie net agter die eerste bult. Dit is maar ’n klein ou plekkie, maar daar sal ons veilig wees. Niemand sal ons daar kry nie en geen ellende sal ons daar tref nie. So, asseblief, Meneer, laat ons tog daarheen gaan.”
21Hy het toe geantwoord: “Goed dan, julle kan daarheen vlug. Ek sal aan julle dink en die dorpie nie verwoes nie. 22Maar maak tog net gou, want ek kan niks doen voordat julle daar is nie.” Daarom noem hulle die dorpie Soar (wat “’n onbeduidende ding” beteken).
23Die son was net op toe Lot-hulle in Soar aankom. 24Toe het die hel losgebars. Die Here het swaelvuur op Sodom en Gomorra laat neerreën. 25Hierdie vuur het alles en almal voor die voet verdelg. Die Here het al die stede in die omgewing heeltemal vernietig, al die inwoners doodgemaak en al die plante tot op die grond verwoes. Niks het oorgebly nie. 26Lot se vrou het egter omgekyk en onmiddellik in ’n soutpilaar verander.
Die Here onthou
27Vroeg die volgende oggend is Abraham terug na die plek waar hy die vorige dag nog met die Here gepraat het. 28Hy het in Sodom en Gomorra se rigting gekyk en net verwoesting aanskou. Al die dorpe in die omgewing was vernietig. Donker rookwolke het oor die gebied gehang saam met die skerp reuk van rookwalms.
29Terwyl die Here die stede in die vallei verwoes het, het Hy aan Abraham gedink. Hy het onthou wat Abraham Hom gevra het; daarom is Lot en sy mense nie in die ramp dood nie. 30Lot en sy dogters is later van Soar af weg. Hulle was bang om langer daar te bly. Hulle is toe die berge in en het in ’n grot gaan woon.
Lot en sy dogters
31Lot se oudste dogter sê toe eendag vir haar suster: “Pa word oud en hier is geen man in die omgewing met wie ons kan trou nie. 32Kom ons maak Pa dronk en dan gaan slaap ons by hom. Deur Pa kan ons dan vir ons ’n nageslag bou.”
33Daardie aand het hulle Lot dronk gemaak. Toe hy goed dronk was, het die oudste by hom gaan lê. Lot het nie eens geweet dat sy oudste by hom geslaap het of wanneer sy opgestaan het nie. 34Die volgende oggend het die oudste vir die jongste dogter gesê: “Ek het laas nag by Pa geslaap. Vannag is dit jou beurt. Ons maak hom eers goed dronk en dan gaan lê jy by hom. So sal ons darem ’n nageslag hê.”
35Daardie aand het hulle toe weer hulle pa dronk gemaak en ook die jongste dogter het by hom geslaap. Lot het weer nie eens geweet dat sy jongste by hom geslaap het of wanneer sy opgestaan het nie. 36So het elkeen van die dogters ’n kind van hulle pa verwag. 37Die oudste het ’n kind gebaar en hom Moab genoem. Tot vandag toe is hy die stamvader van die Moabiete. 38Die jongste dogter het ook ’n seun gehad en hom Ben-Ammi genoem. Tot vandag toe is hy die stamvader van die Ammoniete.

2002. Gebruik met toestemming van Christelike Uitgewersmaatskappy,Posbus 1599, Vereeniging, 1930. Alle regte voorbehou.

Learn More About Die Boodskap