Parallel
15
’n Belofte aan ’n moedelose man
1Na ’n ruk het die Here in ’n gesig na Abram toe gekom. Hy het vir hom gesê: “Moenie bang wees nie, Abram! Ek is naby jou en Ek pas jou op. Ek sal jou nog baie dinge gee.”
2Abram was so moedeloos oor sy kinderloosheid dat hy gesê het: “Ag, Here, wat help u geskenke as ek nie kinders het nie. Eliëser wat uit Damaskus kom, die een wat vir my werk, hy sal nog eendag al my goed erf.
3“U het my nie ’n kind gegee nie, Here, en daarom sal een van my werkers nog al my besittings kry.”
4Die Here het toe vir Abram gesê: “Nee, dit sal nie gebeur nie. Eliëser sal niks van jou erf nie. Jou eie kind sal eendag alles kry.”
5Die Here het Abram buitentoe geneem en gesê hy moet opkyk. “Probeer ’n bietjie al die sterre tel,” het Hy gesê. Abram kon nie en die Here het gesê: “Jou nageslag sal nog eendag net so baie soos hierdie sterre word.”
6Abram het die Here toe geglo. Vir die Here was dit goed dat Abram so op Hom vertrou.
7Verder het die Here gesê: “Abram, Ek is die Een wat jou familie destyds uit Ur van die Galdeërs laat wegtrek het. Ek het dit gedoen omdat Ek hierdie land vir jou wil gee.”
8Abram het vinnig gereageer: “Maar hoe weet ek dit, Here? Hoe weet ek dat alles eendag myne sal wees?”
9Die Here het hom so geantwoord: “Bring vir My ’n vers, ’n bok en ’n skaapram, almal so drie jaar oud. En bring ook sommer ’n tortelduif en ’n jong duif saam.” 10Abram het die diere bymekaargekry, hulle middeldeur gesny en die helftes teenoor mekaar gesit. Die voëls het hy egter nie deurgesny nie.
11Die roofvoëls het later op die dooie diere neergesak. Abram moes hulle heeltyd wegjaag. 12Teen sononder het Abram aan die slaap geraak. Alles rondom hom het donker geword en hy het baie diep geslaap. 13In sy slaap het die Here toe vir hom gesê: “Abram, daar is iets wat jy moet weet. Jou kinders sal 400 jaar lank in ’n vreemde land woon en soos slawe moet werk. 14Op ’n dag sal Ek egter die nasie straf wat jou kinders so sal laat swaarkry. Daarna sal Ek jou kinders met baie besittings uit daardie land laat trek. 15Abram, jy sal oud word en wanneer jy doodgaan, sal hulle jou by jou mense begrawe. 16Vier geslagte later sal jou kinders weer na hierdie land terugkom. Dan sal die Amoriete se tyd kom om oor hulle sondes gestraf te word.”
17Na die son ondergegaan het en dit donker was, het daar skielik iets soos ’n rokende vuuroond en ’n vlammende fakkel gekom. Dit het stadig tussen die oopgesnyde diere deur beweeg.
18Daardie dag het die Here ’n ooreenkoms met Abram gemaak. Hy het vir Abram gesê: “Onthou, aan jou kinders gee Ek hierdie land. Alles van die Nyl in Egipte af tot by die groot rivier, die Eufraat, sal hulle s’n wees.
19“Ek gee hulle die lande van die Keniete, die Kenissiete en die Kadmoniete, 20die Hetiete, die Feresiete en die Refaïete, 21die Amoriete, die Kanaäniete, die Girgasiete en die Jebusiete.”