Genesis 12
DB
12
God roep vir Abram
1Op ’n dag het die Here vir Abram gesê: “Jy moet weggaan, weg van die plek waar jy gebore is, weg van jou pa se huis af. Ek sal jou ’n ander land gee waar jy kan gaan bly. 2Ek sal jou en jou nageslag ’n groot nasie maak. Ek sal jou ryk en voorspoedig maak. Oral sal mense jou naam ken en van jou praat. Oor jou sal dit met hulle ook goed gaan.
3“Wie vir jou goed is, sal Ek gelukkig maak. Wie jou sleg behandel, sal teëspoed ervaar. Oor jou sal dit met alle mense op aarde goed gaan.”
4Abram het toe alles gelos en weggegaan, net soos die Here vir hom gesê het. Sy broerskind, Lot, het saam met hom gegaan. Abram was 75 jaar oud toe hy uit Haran weggetrek het. 5Abram het sy vrou, Sarai, sy broerskind, Lot, en al die besittings wat hulle oor die jare opgegaar het, saamgevat. Al die mense wat vir Abram-hulle in Haran gewerk het, het ook saamgetrek. Hulle het in die rigting van Kanaän begin trek en na ’n lang tyd daar aangekom.
6Abram het deur die land getrek en by Sigem gekom. Hy het digby die groot boom van More kamp opgeslaan. In daardie stadium het die Kanaäniete in die land gebly.
7Die Here het aan Abram verskyn en vir hom gesê: “Abram, hierdie land sal Ek nog vir jou en jou nageslag gee.” Abram was bly en het vir die Here wat aan hom verskyn het ’n altaar gebou.
8Van daar af is hy bergwêreld toe en het net oos van Bet-El kamp opgeslaan. Waar sy tent gestaan het, was Bet-El aan sy westekant en Ai aan die oostekant. Hy het weer ’n altaar vir die Here gebou en daar gebid. 9Daarna het Abram stuk vir stuk deur die hele suidelike woestyn getrek.
Die trek na Egipte
10Na ’n ruk het daar hongersnood uitgebreek. Toe daar nie meer kos was nie, het Abram Egipte toe getrek. Hy kon nie anders nie, want daar was niks meer om te eet nie. 11Naby Egipte se grens het Abram bang geword en vir sy vrou, Sarai, gesê: “Jy is ’n baie mooi vrou. Almal kan dit sien. 12En dit is waarom ek vir die Egiptenaars bang is. As hulle jou sien, sal hulle jou wil hê. En as hulle agterkom ons is getroud, sal hulle my doodmaak, maar jou laat leef. 13As die Egiptenaars jou uitvra, sê dan jy is my suster. Hulle sal dan vir my goed wees oor jou en my laat leef en vir jou ook. Net jy kan nog my lewe red.”
14Abram-hulle het Egipte skaars binnegetrek of die mense sien hoe mooi Sarai is. 15Sommige belangrike amptenare het haar ook raakgesien en vir die koning van haar vertel. Sarai is toe terstond gehaal en na die koning se huis geneem. 16Met Abram het dit ook baie goed gegaan oor haar. Hy het vee, beeste en donkies, slawe en kamele gekry oor sy vrou Sarai.
17Die Here het egter ingegryp. Hy wou Abram en Sarai red, en het toe groot ellendes oor die koning en sy huis laat kom. 18Toe het die koning Abram laat kom. “Wat het julle aan my gedoen?” het hy gesê. “Waarom het jy nie gesê dit is jou vrou nie? 19Jy het gesê dit is jou suster en daarom wou ek met haar trou. Hier is jou vrou. Vat haar en gee pad.”
20Die koning het soldate saamgestuur om seker te maak dat Abram, sy vrou en al sy besittings die land verlaat.

2002. Gebruik met toestemming van Christelike Uitgewersmaatskappy,Posbus 1599, Vereeniging, 1930. Alle regte voorbehou.

Learn More About Die Boodskap