YouVersion Logo
Search Icon

Genesis 11

11
Die toring van Babel
1Die hele wêreld het dieselfde taal gepraat. 2Baie mense het ooswaarts begin trek en by ’n groot vallei in die land Sinear gekom. Hulle het besluit om daar te bly. 3Op ’n dag sê hulle toe vir mekaar: “Kom ons maak stene en bak dit kliphard.” In plaas van groot steenklippe het hulle toe kleistene gemaak en in plaas van sement het hulle asfalt gebruik.
4Toe sê hulle vir mekaar: “Kom ons bou vir onsself ’n stad met so ’n hoë toring dat die puntjie aan die hemel raak. Ons sal dan beroemd word en ook sterk wees. Doen ons dit nie, is dit klaarpraat met ons. Ons sal magteloos oor die hele wêreld rondswerf.” Hulle het toe begin bou.
5Die Here moes egter afkom om die mense se stad en toring te kon sien. 6En die Here het gesê: “Wat doen die mense tog? Hulle dink as hulle een volk met een taal is, sal alles vir hulle moontlik wees en sal hulle alles kan doen. 7Ek gaan nou tot onder toe afdaal en hulle taal verwar. Hulle sal met mekaar praat, maar mekaar hoegenaamd nie verstaan nie.”
8So het die Here hulle oor die hele wêreld verstrooi. Die mense het ook opgehou om verder aan die stad met die hoë toring te bou. 9Dis hoekom hulle daardie plek Babel genoem het, want dit is waar die Here die mense verskillende tale laat praat het en hulle oor die hele aarde versprei het.
Die nageslag van Sem tot by Abram
10Hier is die nageslag van Sem. Toe Sem 100 was, is sy seun Arpaksad gebore, twee jaar ná die oorstroming. 11Na Arpaksad se geboorte het Sem nog 500 jaar geleef en ook ander seuns en dogters gehad. 12Toe Arpaksad 35 was, is Selag gebore. 13Na Selag se geboorte het Arpaksad nog 403 jaar geleef en nog ander seuns en dogters gehad. 14Toe Selag 30 was, is Heber gebore. 15Na Heber se geboorte het Selag nog 403 jaar geleef en ook ander seuns en dogters gehad. 16Toe Heber 34 was, is Peleg gebore. 17Na Peleg se geboorte het Heber nog 430 jaar geleef en ook ander seuns en dogters gehad. 18Toe Peleg 30 was, is Reü gebore. 19Na Reü se geboorte het Peleg nog 209 jaar geleef en nog ander seuns en dogters gehad. 20Toe Reü 32 was, is Serug gebore. 21Na Serug se geboorte het Reü nog 207 jaar geleef en nog ander seuns en dogters gehad. 22Toe Serug 30 was, is Nahor gebore. 23Na Nahor se geboorte het Serug nog 200 jaar geleef en nog seuns en dogters gehad. 24Toe Nahor 29 was, is Tera gebore. 25Na Tera se geboorte het Nahor nog 119 jaar geleef en ander seuns en dogters gehad.
Abram se familiegeskiedenis
26Toe Tera 70 was, is sy seuns Abram, Nahor en Haran gebore. 27So lyk Tera se afstammelinge. Tera het drie seuns, Abram, Nahor en Haran, gehad. Haran het ’n seun met die naam Lot gehad. 28Aanvanklik het die familie in Ur van die Galdeërs gewoon. Daar het Haran gesterf. Hy is vroeg dood terwyl sy pa nog geleef het. 29Abram is getroud en later is Nahor ook getroud: Abram met Sarai en Nahor met Milka. Milka was ’n dogter van Haran, wat ook nog ’n ander dogter gehad het met die naam Jiska. 30Abram en Sarai het nie kinders gehad nie, want Sarai was onvrugbaar.
31Op ’n dag het Tera besluit om te trek. Hy het sy oudste seun, Abram, sy skoondogter, Sarai, sy kleinkind, Lot, en die res van die familie gevat en getrek. Hulle is sak en pak uit Ur van die Galdeërs weg en het in die rigting van Kanaän getrek. Op pad het hulle in Haran gekom en besluit om daar te bly. 32Tera was 205 jaar oud toe hy die dag in Haran gesterf het.

Currently Selected:

Genesis 11: DB

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in

YouVersion uses cookies to personalize your experience. By using our website, you accept our use of cookies as described in our Privacy Policy