YouVersion Logo
Search Icon

Eksodus 22

22
’n Dief wat diere steel
1“Wanneer iemand ’n bees of ’n skaap steel om dit te slag of te gaan verkoop, moet hy daarvoor betaal. Hy moet vyf keer soveel betaal as wat die bees werd was. Vir die skaap moet hy vier keer soveel betaal as wat hy werd was. 2-4Die dief moet elke sent terugbetaal. As hy nie kan betaal nie, moet hy self verkoop word vir die bedrag geld wat hy nog geskuld het. As die bees of die donkie of die skaap wat hy gesteel het, nog lewendig by hom gekry word, moet hy twee keer soveel terugbetaal as wat die dier werd is. As hy op heterdaad betrap word terwyl hy gedurende die nag die diere steel en hy word daar doodgemaak, is dit nie ’n oortreding wat gestraf kan word nie. Wanneer hy egter helder oordag steel en dan gevang en doodgemaak word, is dit ’n strafbare oortreding.”
Nalatigheid
5“Iemand kan uit nalatigheid sy weiveld of sy tuin laat kaal vreet het. Hy jaag dan sy vee in ’n ander man se veld in om dit ook te gaan wegvreet. As dit gebeur, moet hy daarvoor vergoed. Hy moet die beste wat sy eie tuin of veld kan oplewer, as boete betaal. 6As ’n vuur begin versprei het en handuit ruk wanneer die droë doringbosse vlam vat - sodat iemand anders se graan wat nog op die land is, of sy graan wat reeds geoes is en op die land in miedens gepak is, afbrand - moet die persoon wat die vuur laat weghardloop het, die skade dubbel en dwars vergoed.”
Uitsprake by God se blyplek
7“As iemand vir ’n ander persoon geld of goed gegee het om vir hom op te pas en dit word dan uit sy huis gesteel, moet die dief dubbel daarvoor vergoed as hy gevang word. 8As die dief nie gevang word nie, moet die persoon wat dit opgepas het na die plek gaan waar God aanbid word en plegtig voor God verklaar dat dit nie hy was wat die ander man se goed gesteel het nie.
9“As twee mense aan die stry raak oor wie se bees dit is, of donkie of skaap of klere of goed wat weggeraak het en weer teruggekry is, moet hulle na God se plek toe gaan. God sal wys watter man lieg. Hy moet dan vir die ander man twee maal soveel teruggee as wat die goed werd is waaroor hy gestry het.
10“As iemand ’n donkie of ’n bees of ’n skaap of enige ander vee by iemand los om dit vir hom op te pas en een van die diere vrek terwyl dit by hom is, of dit word beseer of gesteel sonder dat iemand dit sien, 11moet die man wat die dier opgepas het voor die Here gaan sweer dat dit nie hy was wat die dier gesteel het nie. Die eienaar van die dier moet sy woord aanvaar. Daar word in hierdie geval nie skadevergoeding betaal nie. 12As die dier egter gesteel is terwyl hy dit kon gekeer het, moet hy die eienaar vergoed. 13As ’n roofdier die dier gevang het, moet hy die verskeurde dier bring as bewys dat dit gevang is. In hierdie geval hoef daar nie vergoed te word nie.
14“As ’n persoon iemand anders se dier leen om vir iets te gebruik en die dier kry seer of vrek terwyl sy eienaar nie by is nie, moet die persoon wat die dier geleen het, die eienaar vergoed. 15As die eienaar wel by was, hoef daar niks betaal te word nie. As hy die dier gehuur het, moet die huurgeld nog steeds betaal word.”
Verskillende ander bepalings
16“As ’n man ’n jongmeisie verlei wat nog nie verloof was nie, en hy praat haar om om by hom te slaap, moet hy aan haar pa die bruidsprys betaal en met haar trou. 17As haar pa volstrek weier dat die man met sy dogter trou, moet die man hom ’n bedrag geld gee. Die bedrag is dieselfde as die geld wat betaal word aan ’n pa om sy dogter te kry.
18“’n Vrou wat haar met toordery ophou, mag nie bly leef nie. 19Enigeen wat seks met ’n dier het, moet doodgemaak word. 20Elkeen wat offers bring vir enige ander god as net die Here, moet doodgemaak word.
21“Jy moenie iemand wat van ’n ander land af kom, sleg behandel nie. Jy was mos self ’n mens uit ’n ander land toe julle in Egipte was. 22Jy moenie weduwees en weeskinders uitbuit omdat hulle nie ’n man het wat vir hulle sorg nie. 23-24As jy dit doen en hulle kom kla by My en vra My om hulle te help, sal Ek hulle kant kies. Ek sal met woede teen jou losbrand en Ek sal jou in die oorlog laat doodgaan. Jou eie vrou sal dan ’n weduwee word en jou eie seuns ook weeskinders sonder iemand om vir hulle te sorg.
25“Wanneer jy geld vir arm mense in die volk leen, moet jy nie ook nog vir hulle rente daarop vra nie. 26As iemand in die loop van die dag sy mantel vir jou as ’n pand gegee het vir iets wat hy by jou geleen het, moet jy dit vir hom teruggee as die son ondergaan. 27Dit is al wat hy het om homself in die nag mee toe te maak. Onder wat anders kan hy slaap? As jy dit nie doen nie en hy kom kla by My, sal Ek na hom luister, want Ek gee om vir sulke mense.
28“Moenie God se Naam sleg maak nie. Moenie die leiers van jou volk vloek nie.
29“Bring alles van jou graan- en druiweoes in berekening wanneer jy my deel bereken. Onthou dat jou oudste seun aan My behoort. 30Die eerste bees of skaap wat gebore word, kan vir die eerste sewe dae nog by sy ma bly. Op die agtste dag moet jy dit aan My afstaan. 31Julle moet uitsonderlike mense wees wat met alles wat julle het, vir My lewe. Julle mag nie vleis eet van diere wat deur roofdiere in die veld verskeur is nie. Julle moet dit vir die honde gee om te vreet.”

Currently Selected:

Eksodus 22: DB

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in

YouVersion uses cookies to personalize your experience. By using our website, you accept our use of cookies as described in our Privacy Policy