YouVersion Logo
Search Icon

Handelinge 26

26
Paulus stel sy saak voor Agrippa
1Agrippa het toe vir Paulus gesê: “Stel nou jou kant van die saak.”
2Paulus het met ’n handgebaar gewys dat hy gereed was om te praat. Toe sê hy: “Geagte koning Agrippa, ek is baie bly dat ek juis voor u mag antwoord op die aanklagte wat die Jode teen my ingebring het. 3U ken immers al die Joodse tradisies. En natuurlik weet u ook van al ons godsdienstige verskille.
4“Van my kinderdae af het ek tussen my eie mense in Jerusalem gebly. Hulle almal ken my. 5As een van hulle die moed sou gehad het om vandag hier op te staan, sou hulle vir u kon sê dat ek ’n lid was van die Fariseërs, die strengste godsdienstige groep binne ons godsdiens. 6Die ironie van dit alles is dat ek nou aangekla word omdat ek al die beloftes wat God aan ons voorouers gemaak het met my hele lewe glo. 7Ek glo dieselfde dinge as dié waaraan al die Israeliete nog die hele tyd vasgehou het. Hulle het ook geglo dat God sal doen wat Hy belowe het.
8“Geagte koning Agrippa, ek kan nie begryp hoekom ek nou deur die Jode aangekla word omdat ek God se Woord glo nie. Ek glo met my hele lewe dat God in staat is om die dooies weer lewendig te maak. Waarom is dit dan vir julle Jode so moeilik om te glo dat God dooies lewendig kan maak? En u, koning Agrippa, dink u ook dis onmoontlik?
9“In elk geval, vroeër, toe ek nog ’n vyand van Jesus van Nasaret was, het ek my bes gedoen om almal uit te roei wat in Hom geglo het. 10Ons godsdienstige leiers het toegelaat dat ek Jerusalem se tronke vol maak met hierdie mense. Ek het nie gehuiwer om ja te sê wanneer een van hulle doodgemaak moes word nie. 11Ek het hulle selfs in die Joodse aanbiddingsplekke gaan uitsnuffel en hulle gedwing om hulle geloof te laat vaar. Later het ek ook begin om hulle in stede ver buite Jerusalem te vervolg.”
Paulus vertel hoe hy Jesus ontmoet het
12“Ek was juis op ’n dag op pad na Damaskus met toestemmingsbriewe om Christene daar te gaan vang, toe ’n skerp lig in die middel van die dag skielik op my en my reisgenote begin skyn. 13Geagte koning, hierdie lig uit die hemel was baie skerper as die son. 14Ons almal het so groot geskrik dat ons op die grond neergeval het. Ek het ’n stem gehoor wat in Hebreeus vir my sê: ‘Saul, Saul, hoekom is jy besig om My te vervolg? Jy kan nie so aanhou nie. Hou op om jou teen My te verset.’
15“‘Wie is U, Here?’ het ek gevra.
“Die Here het geantwoord: ‘Ek is Jesus. Jy is besig om My te vervolg. 16Maar staan nou dadelik op, want Ek het ’n baie spesiale taak vir jou. Ek het aan jou verskyn sodat jy van nou af my dienskneg kan wees.
17“‘Jy moet vir ander mense gaan vertel wat jy vandag gesien het. Jy moet ook gaan praat oor dit wat Ek nog vir jou sal sê wanneer Ek later weer aan jou verskyn. Ek het jou vrygemaak.
18“‘Nou moet jy teruggaan na jou volk en na ander mense buite Israel en hulle oë ook gaan oopmaak. Jy moet vir elkeen wat nog in die donker leef, gaan vertel van die lig. Ruk hulle uit die kloue van Satan sodat hulle God se goedheid kan ken. Sê vir hulle om in My te glo.
“‘Dan word al hulle sondes vergewe. Dan word hulle ook deel van die mense wat aan My behoort. Gaan sê dit alles vir hulle.’”
Paulus bly getrou aan Christus
19“Geagte koning Agrippa, niemand kan aan so ’n visioen ongehoorsaam wees nie. 20Ek het vir die mense in Damaskus gaan vertel om tot bekering te kom. Ek het vir hulle gesê om hulle lewe aan God te gee en om so te leef dat almal kan sien dat hulle in Hom glo. Daarna het ek presies dieselfde vir die mense in Jerusalem en in Judea gaan sê. Ek het ook na mense gegaan wat nie tot die Joodse volk behoort nie en vir hulle van Jesus vertel.
21“As gevolg van my prediking oor die hele wêreld was die Jode in Jerusalem later baie kwaad vir my. Toe ek op ’n keer in die tempel kom, het hulle my gevang en my amper doodgemaak. 22Maar God was by my. Tot vandag toe het Hy my opgepas. Daarom kon ek aan almal wat ek raakgeloop het, klein en groot, sy wil bekendmaak. Nie ’n enkele woord wat ek ooit gesê het, is in stryd met wat die profete en Moses gesê het nie. 23Hulle het lankal gesê dat die Messias moet kom ly. Hulle het ook gesê dat Hy uit die dood sou opstaan. Weet u, Jesus is die heel belangrikste Persoon wat nog ooit uit die dood opgestaan het. Daarom bring Hy redding vir alle mense op aarde. Hy is die lig vir almal wat in die donker leef, vir Jode en nie-Jode.”
Paulus se woorde ontstel Festus
24Paulus se woorde het Festus baie omgekrap. Toe hy dit nie meer kon uithou nie, het hy skielik geskree: “Jy is mal, Paulus! Jou groot geleerdheid is besig om jou van jou kop af te dryf.”
25“Met alle respek, geagte Festus,” het Paulus geantwoord, “ek is glad nie mal nie. Dit wat ek sê, is die reine waarheid. 26Enige mens wat mooi luister na wat ek sê, kan dit verstaan. Vra maar vir koning Agrippa. Hy weet ook van al die dinge waaroor ek praat. En hy begryp dit ook. Niks van hierdie dinge het op die een of ander verlate plekkie afgespeel nie.”
27Paulus vra toe vinnig vir Agrippa: “En wat van u, koning Agrippa, glo u wat die profete sê? Wag, u hoef nie eens te antwoord nie. Ek weet dat u glo.”
28“As jy so aanhou, maak jy my sommer netnou ’n Christen,” het Agrippa geantwoord.
29“Ek bid dat u en al die ander mense wat vandag na my luister Christene sal word,” sê Paulus toe. “Of dit nou dadelik gebeur of eers ’n rukkie later, my gebed is dat u net soos ek sal begin glo. O ja, natuurlik bid ek dat u sal glo sonder al die boeie wat ek vandag aanhet.”
30Na hierdie woorde het die koning en die Romeinse goewerneur, saam met Bernice en al die hooggeplaastes, opgestaan en die saal verlaat. 31Terwyl hulle uitstap, het hulle vir mekaar gesê: “Hierdie man het niks verkeerds gedoen nie. Hy verdien nie die dood nie. Hy hoort nie eens in ’n tronk nie.” 32Agrippa het daarom vir Festus gesê: “Hierdie man kon vrygelaat gewees het as hy hom nie beroep het op sy reg om voor die keiser te verskyn nie.”

Currently Selected:

Handelinge 26: DB

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in

YouVersion uses cookies to personalize your experience. By using our website, you accept our use of cookies as described in our Privacy Policy